Meatco raadpleeg internasionale kundige
Meatco raadpleeg internasionale kundige

Meatco raadpleeg internasionale kundige

Maseke: DVS wil verbruiker beskerm
Francoise Steynberg
Ronelle Rademeyer - ’n Onafhanklike evaluering van die gewraakte laboratoriumverslag oor die aanwesigheid van die groeistimulant zeranol wat tot die sluiting van die Okapuka-voerkraal gelei het, wys daar was geen verbreking van die Europese Unie (EU) se wetgewing hieroor nie.
Dr. Glenn Kennedy, ’n internasionaal gerekende biochemikus en ’n deskundige op die gebied van veterinêre stowwe of reste in diereprodukte, het Vrydag in ’n verslag aan Meatco gesê “nie een van die twee ontledings (nrs. 2109 en 2113) bevat zeranol/taleranol, wat die gereguleerde verbindings is nie".
Kennedy sê beide hierdie ontledings voldoen dus aan alle tersaaklike EU-wetgewing.
Die bekendmaking van dié verslag volg nadat dr. Milton Maseke, hoofveeartsenybeampte in die direktoraat veeartsenydienste (DVS), Vrydag tydens ’n mediakonferensie gesê het die direktoraat se ferm optrede teen dié voerkraal van Meatco as “herhaalde oortreder”, is om verbruikers te beskerm.
Volgens DVS is dit die tweede keer in 12 maande dat zeranol in die urienmonsters van beeste in die voerkraal gevind word.
Hy het daarop gewys dat hierdie semi-sintetiese hormoon tot borskanker, prostaatkanker, onvrugbaarheid en hormoonwanbalanse by mense kan lei.
Anders as in Namibië en die EU, is die gebruik van hierdie groeistimulant nie verbode in voerkrale in Suid-Afrika en talle ander lande nie. Dit word toegedien deur ’n inplanting onder die dier se vel.
Zeranol word egter ook as ’n byproduk gevorm tydens die gistingsproses van ’n swam wat in veevoere voorkom.
Maseke het gesê zeranol is ’n verbode middel omdat dit “selfs in klein hoeveelhede nie veilig is vir menslike gebruik nie”. Hy het gesê DVS het die voerkraal gesluit om die Namibiese vleisbedryf te beskerm aangesien zeranol ook deur die EU, waarheen Namibië groot hoeveelhede vleis uitvoer, verbied word.
Kennedy, wat al twee navorsingsprojekte vir die EU oor die oorblyfsels van veemedisyne in diereprodukte en die veiligheid daarvan gekoördineer het, sê in die eerste twee ontledings (nrs. 4680 en 7443) wat Meatco ook aan hom voorgelê het, is die teenwoordigheid van zeranol en sy metaboliet taleranol bevestig.
Die vraag is egter of dit bewys is van misbruik, aangesien zeranol ook vanweë “volkome natuurlike redes” in die urienmonsters van voerkraalbeeste teenwoordig kan wees, lui sy verslag.
Hy verwys na die statistiese model van byvoorbeeld Brittanje waar urienmonsters van beeste op grond van die konsentrasie van die zeranol/taleranol as “moontlike besmetting” (weens gisting van voer), of “moontlike misbruik” (deur inplantings) geklassifiseer word.
As laasgenoemde vermoed word, stel die owerheid verdere ondersoek op die plaas of by die voerkraal in.
Eers as bewyse van doelbewuste misbruik gevind word, word die plaas of voerkraal in afwagting van laboratoriumtoetse gesluit.
Adv. Vekuii Rukoro, hoof uitvoerende beampte van Meatco, het vroeër aanRepublikein gesê die beeste moes die verbode zeranol deur middel van veevoer ingekry het. Hy het ook daarop gewys dat hierdie middel op natuurlike wyse in beeste kan voorkom.
Okapuka kan vir ten minste agt maande gesluit wees, wat volgens Rukoro beteken Meatco en sy produsente gaan N$143 miljoen verloor.
Verder kan 500 mense ook as gevolg van die sluiting dalk hul werk verloor.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer