Medaljes in KZN 'n  pluimpie vir Namibiu00eb
Medaljes in KZN 'n pluimpie vir Namibiu00eb

Medaljes in KZN 'n pluimpie vir Namibië

Hokkie
Namibië se puik prestasies met goud en silwer laas naweek by die Suid-Afrikaanse provinsiale binnenshuise hokkietoernooi in Pietermaritzburg was 'n uitvloeisel van die vroeër suksesse wat die plaaslike binnenshuise PSI franchise-spanne tevore in die buurland behaal het.

Afrigter Trevor Cormack se Namibiese manspan – met 'n gemiddelde ouderdom jonger as 19 jaar – het 'n silwermedalje in die mans A-afdeling ingepalm, terwyl die nasionale vroue-uitnodigingspan die B-afdeling gewen en sodoende vir volgende jaar bevordering na die top-8 verwerf het.

Teen die sterkste provinsiale spanne in Suid-Afrika het dit meer as een uitstekende vertoning geverg om vir beide eindstryde te kwalifiseer. Waarnemers het opgemerk dat die Namibiese manspan se eenheid opvallend was.

Die mans het hul groepwedstryde oorheers met wentellings van 6-2 teen Oos-Gauteng, 8-2 teen Oostelike Provinsie en 4-1 teen Mpumalanga. Net die sterk span van KwaZulu-Natal Binneland kon dit regkry om hulle tot 'n uitslag van 3-3 te beperk.

Nog 'n oorwinning met 7-4 teen Suid-Gauteng, danksy vier doele deur Brynn Cleak en drie deur Liam Hermanus, het die Namibiërs se plek in die halfeindstryd bespreek.

Die semifinaal was 'n spannende affêre teen die KwaZulu-Natal Raiders, die toernooi se viermalige verdedigende kampioenspan wat onoorwonne deur hul groepwedstryde geseil het.

Die Natallers was rustyd met 1-0 voor, maar kort voor die einde het Brynn Cleak die reddende gelykmakende doel behaal, om 'n valbylstryd met strafhoue af te ding.

Doelwagter Richter van Rooyen het onmiddellik die skaal in Namibië se guns geswaai toe hy die skoot van Jarryd Jones weggekeer het. Hierna het doele deur Cleak, Liam Hermanus en Cody van der Merwe gesorg dat Namibië die strafdoelstryd met 3-2 beklink het.

Die Namibiërs het dus in die eindstryd te staan gekom teen die Westelike Provinsie, wat sy plek met 'n sege van 5-3 teen KZN Binneland verdien het.

Die Kapenaars het vroeg reeds skokgolwe gelewer en hul kleim afgesteek om rustyd met 3-0 voor te loop.

Die soort terugvegpoging waarvoor Namibië tevore reeds bekend geword het, het gekom toe Dakota Hansen en Cody van der Merwe se doele die span binne bereik gebring het. Daar was nóg kanse met hoekhoue, terwyl 'n strafdoelpoging deur Cleak weggekeer is. Die WP het dus met 3-2 oorleef om die goue medalje in te palm, terwyl Namibië die silwer ontvang het.

Die Namibiese manspan was Ernest Jacobs (kaptein), Richter van Rooyen (doelwagter), Brynn Cleak, David Britz, Dylan Finch, Dakota Hansen, Fagan Hansen, Liam Hermanus, Nico Jacobs, Henning Kruger, Nico Neethling en Cody van der Merwe.



VROUE

Die Namibiese vroue uitnodigingspan, onder afrigterskap van Erwin Handura, het die eindstryd van die B-afdeling gehaal, waar hulle met 3-2 teen Noordwes geseëvier het.

Treffers deur Kaela Schimming en Danja Meyer het Namibië binne drie minute 'n voorsprong van 2-0 besorg, maar Dunelle van Taak, 'n Namibiese student by Pukke, het van 'n hoekhou af die Noordwesters op die telbord geplaas.

Van Taak, wat in 'n verdedigende posisie gespeel het, se tweede doel van 'n hoekhou het sake ná sowat 'n halfuur gelykop gemaak, voordat Danja Meyer drie minute later die doel behaal het wat Namibië weer tot die eindfluitjie laat voorloop het.

Die Namibiërs het vooraf al hul groepwedstryde teen Suid-Gauteng (4-0), Noordwes (4-0), KwaZulu-Natal Binneland (5-1) en Oos-Gauteng (9-1) met oortuiging gewen.

In die halfeindstryd het hulle met 4-2 die oorhand teen Suid-Gauteng verkry het, nadat laasgenoemde voor rustyd (2-2) twee kere met gelykmakende doele vorendag gekom het.

Die vrouespan se kaptein was Jerrica Bartlett, met haar spanmaats Duré Boshoff, Rachel Finch, Jahntwa Kruger, Sunelle Ludwig, Danja Meyer, Zanne-Marie Niemand, Kaela Schimming, Vicky Stiemert (doelwagter), Tara Myburgh, Armin van Staden en Celé Wessels.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!