Mededinging: SA nou 2de in Afrika
Die Wêreld Ekonomiese Forum se Mededingingsindeks is gister in Durban bekend gemaak.
Elvira Wood - Suid-Afrika het twee plekke op die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se Mededingingsindeks tot 47ste uit 138 lande geklim. Dit maak hom naas Mauritius, in die 39ste plek, die mededingendste land in Afrika.
Die nuutste indeks is gister in Durban tydens die WEF se Afrika-kongres bekend gemaak.
“Suid-Afrika het klein verbeteringe in bykans alle aspekte van mededinging getoon,” lui die verslag.
Die gebiede waar die meeste verbetering gesien kon word, is beter mededinging plaaslik (32ste) en internasionaal (55ste), beter gebruik van talent rakende hoe vergoeding produktiwiteit verteenwoordig (98ste) en ’n klein verbetering in onderwysgehalte wat met sewe plekke tot 123ste gestyg het.
Van die grootste uitdagings vir Suid-Afrika blyk volgens die WEF ’n ondoeltreffende burokrasie, ’n stremmende arbeidsbeleid, ’n arbeidsmag wat nie behoorlik opgelei is nie, politieke onstabiliteit, korrupsie, misdaad en diefstal te wees.
Suid-Afrika is eerste in die wêreld wanneer dit by die sterkte van ouditering en verslagdoeningstandaarde van maatskappye, die beskerming van minderheidsaandeelhouers se belange en finansiering deur plaaslike ekwiteitsmarkte kom.
Die land bevind hom egter steeds heel onder op die lys in 138ste plek wanneer dit by die gehalte van sy wiskunde- en wetenskaponderrig en samewerking in werknemer-werkgewer-verhoudinge kom.
Die skrywers van die verslag het op ’n mediakonferensie in Durban gesê lande suid van die Sahara moet hul ekonomieë dringend struktureel hervorm om werk vir hul groeiende bevolkings te skep.
“As huidige beleid onveranderd bly, gaan hierdie lande minder as ’n kwart van die 450 miljoen werkgeleenthede skep wat in die volgende 20 jaar gaan nodig wees,” lui die verslag.
Roberto Crotti, ekonoom van die WEF, sê Afrikalande het geen drastiese vordering in hul plekke op die indeks gemaak nie.
Hy sê die groot vraag wat beantwoord moet word, is wat Afrikalande gaan doen om die gehalte van indiensneming en indiensneming oor die algemeen te verbeter.
“Ons het nog geen strukturele verandering gesien nie.” - Fin24/Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie