Media onder die vergrootglas
Media onder die vergrootglas

Media onder die vergrootglas

Die rol en oorlewing van die media was verlede week in Windhoek onder bespre­king.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie gaan ondersoek instel na waarom die media in Namibië nie meer die vryste in Afrika is nie.

Namibië het vanjaar sy nommereen-posisie op Joernaliste Sonder Grense se mediavryheidsindeks aan Ghana afgestaan.

Mnr. Stanley Simataa, minister van inligting en kommunikasietegnologie, sê die land se laer posisie op hierdie indeks is vir die regering 'n groot bron van kommer.

Hy was verlede Dinsdag een van die sprekers toe Wêreldmediavryheidsdag in Windhoek deur die verskeie belanghebbendes, waaronder die Redakteursforum van Namibië (EFN), die Namibië Media­trust (NMT), die Media-instituut van Suider-­Afrika (Misa) en die ministerie, gevier is.

Die tema vanjaar was “Hou mag in beheer: Media, justisie en die opper­gesag van die reg”.

Simataa het gesê media­vryheid en toegang tot inligting is die grondslag van enige demokrasie. “Mediavryheid skep stabiele, dinamiese en vreedsame samelewings.”

Hy het ook gewys op Namibië se belangrike rol hierin deurdat dié wêrelddag op 3 Mei 1991 met die aanvaarding van die Windhoek-verklaring ontstaan het.

Die doel van die verklaring was om 'n onafhank­like en pluralistiese media­landskap te skep.

Die Europese Unie (EU) se ambassadeur in Namibië, me. Jana Hybaskova, het die Namibiese media as baie objektief beskryf en gesê joernaliste in die land speel 'n belangrike rol om vrede en stabiliteit te skep.

Sy het ook gewys op die nuwe Europese wetgewing oor die beskerming van algemene, persoonlike data wat van 25 Mei af van krag sal wees.

Dit is deur Facebook en al die ander sosialemediaplatforms wat in Europa bedryf word, onderteken en verseker die beskerming van mense se persoonlike inligting.

Hybaskova het Namibië aangemoedig om dié voorbeeld te volg, terwyl sy ook gesê het druk moet uitgeoefen word om die Wet op Hokaairoepers in werking te stel.

Mnr. Jean-Pierre Ilboudo, hoof van die Verenigde Nasies (VN) se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur (Unesco) se kantoor in Namibië, het op sy beurt gesê sonder mediavryheid is geen ander vryheid in die handves van menseregte veilig nie.

'n Vrye media moet etiese optrede en onafhanklike denke bevorder, het hy gesê.



PANEELBESPREKING

'n Paneel bestaande uit Namibiese media­leiers, prof. Herman Wasserman, direkteur van die Sentrum vir Film- en Media­studies aan die Universiteit Kaapstad, en minister Simataa, het ook tydens die vieringe die volhoubaarheid en oorlewing van spesifiek die media in Namibië bespreek.

Mediahuise in die land is onder druk vanweë die resessie en is bekommerd oor die voortbestaan van tradisionele media te midde van grootskaalse digitalisering en groei in nuwe media.

Die gedrukte media het 'n groeiplato bereik en adverteerders soek toenemend hul heil by sosiale media.

Mnr. Dietrich Remmert van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), wat tans besig is met navorsing hieroor, sê hy dink nie Namibië is voorbereid op die oorlewingsuitdagings wat hul volhoubaarheid gaan bepaal nie.

Wasserman meen volhoubaarheid en winsgewendheid is twee verskillende kwessies.

Laasgenoemde is 'n mark­aangeleentheid, terwyl volhoubaarheid deur krimpende redaksies en die afskaling of verwatering van ondersoekende joernalistiek ondermyn word, sê hy.

Daarteenoor meen die joernalistieke strydros Gwen Lister dat die gedrukte media hand in eie boesem moet steek en terugkeer na die bedryf van goeie en verantwoordelike joernalistiek.

Sy sê lesers moet oortuig word dat die gedrukte media steeds die betroubaarste is omdat bronne geverifieer word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!