Mediese studente onttrek uit hospitale
Mediese studente onttrek uit hospitale

Mediese studente onttrek uit hospitale

Vier studente op die Hage Geingob-kampus het positief vir Covid-19 getoets.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Onderhandelinge tussen mediese studente verbonde aan die Universiteit van Namibië se mediese skool en dié se bestuur duur voort, nadat 'n groep van die studente verlede week tydelik uit rotasies by hospitale en lesings onttrek het.

Die groep studente se grootste grief is dat veiligheidsmaatreëls nie in plek is om hulle teen Covid-19 te beskerm nie. Die woordvoerder van die skool se studenteraad, mnr. Mario Richard, het by navraag bevestig die groep het 'n “baie positiewe reaksie” van bestuur op hul griewe en voorstelle gehad en het onderhandelings as “vrugbaar” beskryf.

Volgens Richard wag die groep vir amptelike reaksie wat moontlik vandag uitgereik sal word.

Hy het beklemtoon die groep is gretig om na hospitale en hul kliniese opleiding terug te keer en ook om in die huidige omstandighede die gesondheidsorg van gemeen­skappe te ondersteun.

“Ons wens is net om dit sonder of met minimale risiko vir ander te doen,” sê Richard.

Volgens 'n brief wat onder meer aan die visekansellier, prof. Kenneth Matengu, sowel as die dekaan vir die fakulteit vir gesondheidswetenskap, prof. Timothy Rennie, gerig is, was daar teen verlede week vier bevestigde Covid-19-gevalle op die Hage Geingob-kampus. Twee van die gevalle woon in die koshuis, terwyl twee private verblyf het. Al vier die studente was deel van kliniese rotasies by hospitale.

Volgens die groep word van dié studente verwag om in hul koshuiskamers te bly, terwyl hulle wag vir opname in die beperkte isolasiegeriewe van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste.

“Dié studente deel storte en toilette tot wasmasjiene met agt ander studente op dieselfde vloer,” lui die brief.

Studente wat blootgestel en in kwarantyn geplaas is, trek ook aan die kortste end omdat die beloofde remediërende onderrig nie plaasvind nie.

“Dié studente doen nou twee rotasies opeenvolgend om op te vang. Daar word ook steeds van hulle verwag om aan die einde van elke rotasie 'n toets te skryf.”

Volgens die klagskrif skep dit 'n omgewing waarin studente verkies om eerder stil te bly oor die feit dat hulle moontlike kontakte van bevestigde gevalle was omdat hulle nie kliniese onderrig wil misloop nie.

Ook word daar van studente verwag om klasse saam met meer as 100 studente by te woon, met geen alternatief van aanlyn klasse nie.

Die groep studente vra dat die universiteit gebruik maak van leë koshuise op die Khomasdal- en hoofkampus as kwarantyngeriewe.

'n Versoek is ook gerig vir 'n memorandum vir remediërende onderrig vir studente wat positief getoets het of blootgestel was, asook vir studente in die Erongostreek en ook vir internasionale studente.

“Dit moet 'n amptelike dokument wees wat waarborg voorsiening sal vir geraakte studente gemaak word en dat hulle nie akademiese benadeel sal word nie. Dit moet ook uitstip dat alle kliniese onderrig wat gemis word, steeds verskaf sal word.”

Die beswaarde studente verwys ook na huidige fase 3-regulasies wat bepaal die maksimum getal mense per samekoms is tien, terwyl van studente verwag word om lesings by te woon wat eerder op aanlyn platforms aangebied kon word.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!