Medisinale plante oorsee bemark
Wat as 'n ekstra inkomste en 'n uitkoms uit die droogte begin het, is vandag 'n volwaardige besigheid wat die medisinale voordele van twee plante
oorsee bemark.
Henriette Lamprecht
Op die rand van die Kalahari-woestyn word medisinale plante geoes en na die buiteland uitgevoer.
Die oes van Hoodia gordonii en Sceletium tortuosum op die plaas Vredelus in die Hardapstreek het begin as 'n ekstra inkomste en 'n uitkoms uit die droogte en is vandag 'n volwaardige besigheid wat selfs oorsee bemark word.
Sceletium tortuosum is vir honderde jare deur die San as onder meer 'n ontspanningsmiddel gebruik en staan in die volksmond ook as “Kanna”, “Canna” en “Kougoed” bekend.
Volgens me. Susanne Hoff, wat vir die bemarking van die medisinale produkte verantwoordelik is, het haar vriendin, me. Molly Kaderi, die plantasies op die plaas in die Kalahari as ekstra inkomste begin.
Die plante word sonder die gebruik van enige chemikalieë, kunsmis en insekdoders in hul natuurlike omgewing verbou.
Vredelus is 'n ten volle gesertifiseerde uitvoerder van die Konvensie vir Internasionale Handel in Beskermde Spesies van Wilde Fauna en Flora (Cites), en is ook by die Amerikaanse Voedsel- en Medisyne-administrasie (FDA) geregistreer.
Volgens Hoff is die oes van die plant “baie eenvoudig”.
“Die plant word aan die einde van die jaar uit die grond gehaal, gesteriliseer, gedroog en dan opgekap,” verduidelik sy.
Die “rou” materiaal word na internasionale kliënte versend wat van tabak tot tee hieruit vervaardig.
Die res word tot 'n poeier gemaal wat aan internasionale kliënte verkoop word of in kapsules gevul word.
Die produkte is in Windhoek, Otjiwarongo en ook op Gobabis beskikbaar.
Volgens Hoff word soveel moontlik vroue op die plantasie gebruik.
“Dit is meestal vroue in die gebied wat nie 'n kans het om werk te kry nie. Ons plantasie is dus 'n welkome geleentheid vir dié vroue om hul eie geld te verdien.”
Hoff sê vroue is ook “meer betroubaar” wanneer dit onder meer by die gereelde natlei van die plante kom. Die vroue wat hier werk, is meestal afkomstig uit die omliggende gebied en is meestal Namasprekend.
“Dit was die San wat sceletium in die ou dae gebruik het. In die gedeelte van die Kalahari waar ons dit plant, is daar egter weinig San-mense.”
SAN-MENSE
Hoff verduidelik die plant het sy ontstaan in die Karoo in Suid-Afrika met die San wat die eerste gebruikers hiervan was.
“Ons bestuur 'n kommersiële plantasie en in die gebied waar ons is, groei sceletium nie wild nie.
Sy het eers op die ouderdom van 51 by dié tipe besigheid betrokke geraak, vertel Hoff.
“Ek het eers net 'n vriendin met die bemarking van haar medisinale plante gehelp. Dit het my egter geweldig gefassineer dat Namibië so 'n diversiteit van plante het wat verskillende kwale kan genees,” sê sy.
“Ek is mal oor die feit dat daar so baie middels vir allerhande kwale is wat met genesing kan help sonder aaklige newe-effekte.
“Dié bedryf kan so kragtig vir die Namibiese ekonomie wees soos diamante of toerisme. Waar jy weens min reën nie beeste kan aanhou nie, kan jy medisinale plante aanplant omdat die Kalahari 'n reuse-akwifer het en die water in oorvloed van die oppervlak af gepomp kan word.”
Volgens Hoff is dit 'n jammerte dat die regering nog nie die potensiaal van medisinale plante raakgesien het nie.
“Ondersteuning is uiters beperk en wissel van struikelblokke met betrekking tot uitvoer tot min of geen begrip vir wat en hoekom ons dit doen nie.”
Volgens haar beplan hulle om die medisinale plante ook in kosmetiese produkte te gebruik.
• Sceletium tortuosum – die gebruik hiervan dateer so ver terug as 1662. Dit is deur die San gepluk, begrawe om te gis en dan gedroog.
Die gedroogte produk is geëet, as snuif gebruik of selfs gerook, soms ook as valuta gebruik of as 'n tee gedrink.
• Hoodia gordonii, ook bekend as “Boesman se hoed”, het volgens volksgeneeskunde terapeutiese eienskappe.
Die spesie het internasionaal bekend geraak nadat 'n bemarkingsveldtog beweer het dit is 'n aptyt-onderdrukker en help met gewigsverlies.
Onder die San staan dit bekend as “//hoba” en die Afrikaanse naam “ghaap” word gebruik om na al die Hoodia-spesies te verwys.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie