Meer as 1 500 skoolmeisies jaarliks swanger
’n Omvattende program by skole fokus op vroeë en onbeplande swangerskappe.
Henriette Lamprecht – Meer as 1 500 skoolgaande meisies raak jaarliks in Namibië swanger.
Volgens die Onderwysbestuur-inligtingstelsel (Emis) moes 1 982 meisies in 2018 die skool verlaat omdat hulle swanger geraak het. Die vorige jaar het dié syfer op 1 935 gestaan.
Die adjunkminister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het dit as “onaanvaarbaar” beskryf en kommer uitgespreek oor die gevolge hiervan op gesondheids-, maatskaplike en ekonomiese gebied.
Nghipondoka was aan die woord tydens die bekendstelling van die Let’s Talk-veldtog, wat gemik is op vroeë en onbeplande swangerskappe.
Die veldtog fokus op verhoogde toegang tot seksuele en reproduktiewe gesondheidsdienste vir die jeug, omvattende onderrig in lewensvaardighede om ingeligte besluite te neem, asook die bemagtiging van tieners en jongmense om hul regte te ken en verantwoordelike besluite oor hul gesondheid en opvoeding te neem.
Volgens Nghipondoka staar verskeie uitdagings tieners wat swanger raak in die gesig.
Om in die skool te bly en opvoedkundige mylpale te bereik, is maar een hiervan.
Dit het veral ’n reuseimpak op meisies uit minderbevoorregte sosioëkonomiese gemeenskappe.
Nghipondoka het verwys na die nasionale onderwysbeleid vir die voorkoming en bestuur van swangerskappe onder leerlinge en gesê dit is belangrik in die gebruik van voorkomingstrategieë.
Sy het gesê groter pogings moet in skole aangewend word om begrip en aanvaarding te bevorder vir meisies wat swanger raak – sonder om hulle te stigmatiseer.
Skoolhoofde, onderwysers, gesondheidswerkers, ouers en gemeenskapsleiers moet ook hierby betrek word.
“Die hoofdoel van die beleid is om te verseker alle kinders voltooi hul onderrig en dat ons die siklus van armoede verbreek,” het sy gesê.
Nghipondoka het beklemtoon alle pogings moet ’n impak op ’n dieper maatskaplike en strukturele vlak hê in ’n poging om die sleuteldryfvere van die toename in vroeë en onbeplande swangerskappe te takel.
Sy het gemaan “ons moet met mekaar begin praat, die tyd vir stilte is verby”.
“Ouers moet met hul kinders praat en hulle met die lewensvaardighede toerus wat hulle nodig het. Kinders moet met hul ouers praat en vir hulle vrae kan vra. Onderwysers moet met leerlinge praat. Dialoog tussen generasies is baie belangrik as ons maatskaplike en gedragsveranderings teweeg wil bring,” het sy gesê.
Volgens Nghipondoka moet die jeug toegerus word om positiewe besluite te neem om produktiewe lewens te kan lei en hul volle potensiaal te bereik.
Me. Rachel Odede, die Verenigde Nasies (VN) se verteenwoordiger in Namibië, het gesê slegs deur in meisies te belê, kan ’n inklusiewe samelewing en ekonomie geskep word.
Volgens Odede is beduidende vooruitgang reeds gemaak wat betref die erkenning van die seksuele en reproduktiewe regte van vroue en jongmense as fundamentele menseregte.
Sy het gesê die aantal meisies wat voor die ouderdom van 18 trou, het afgeneem, meer vroue het toegang tot vrywillige gesinsbeplanning en moderne voorbehoedmiddels, en een uit elke drie vroue gebruik tans ’n moderne voorbehoedmiddel in vergelyking met een uit ses in 1994.
“Om meisies op skool te hou, is een van die doeltreffendste maniere om vroeë en onbeplande swangerskappe te voorkom. Daar is bevind elke bykomende jaar van onderrig verhoog die gebruik van voorbehoedmiddels en verminder swangerskappe met 10%,” het sy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie