Meer as 100 onderwysers dood aan Covid, su00ea Nantu
Meer as 100 onderwysers dood aan Covid, su00ea Nantu

Meer as 100 onderwysers dood aan Covid, sê Nantu

Die verlies aan onderwysers kan leerlinge traumatiseer, het die minister van onderwys, kuns en kultuur het by 'n ­onlangse Covid-19-inligtingsessie gesê.
Yandi Du Plessis
Die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) het 'n beroep op ­onderwy­sers gedoen om ingeënt te word en gesê minstens 112 onderwysers is sedert die aanvang van die pan­demie verlede jaar aan Covid-19 dood.

Me. Loide Shaanika, die sekretaris-generaal van Nantu, het Dinsdag aan die nasionale nuusagentskap Nampa gesê dié sektor is hard getref, veral omdat daar 'n toename in infeksies en sterftes onder onderwysers in Junie en Julie vanjaar was.

Die vakbond, die ministerie van onderwys, kuns en kultuur en die Namibië Nasionale Studente-­organisasie (Nanso) het 'n inentingsveldtog van stapel gestuur wat onderwysers, ander ­personeellede, leerlinge wat aan die kriteria voldoen, sowel as ouers aanmoedig om die entstof te ontvang.

Sedert die veldtog op 25 Junie van stapel gestuur is, is ongeveer 600 onderwysers van die Erongo-, Khomas-, Oshikoto- en Kavango-­Oosstreek ingeënt.

Die meeste onderwysers, ongeveer 320, is tot dusver in die Oshikotostreek ingeënt.

“Die uiteindelike doel is om almal te laat inent, aangesien dit veilige ­skoolomgewings sal bevorder en ons sal help om terug te keer na ons normale lewenswyse. Die belangrikste is dat diegene wat geïnfekteer word, nie ernstig siek word of in die hospitaal beland nie. Die vakbond wil elke lid van die samelewing, veral binne ons skoolgemeenskappe, aanmoedig om ingeënt te word,” het Shaanika gesê.



TUIS OOK BLOOTGESTEL

Die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Anna Nghipondoka, het by verlede week se Covid-19-inligtingsessie gesê die verlies aan onderwysers kan leerlinge traumatiseer.

Om dié rede het die ministerie begin om onderwysers op te lei om sielkundige ondersteuning aan leerlinge te bied wanneer hulle terugkeer skool toe.

By dieselfde geleentheid het ­Nghipondoka ook 'n beroep op ­onderwysers gedoen om ingeënt te word.

Sy het voorts gesê die ministerie het opgemerk dat daar geen beduidende afname in infeksiesyfers was tussen die tye wat die skole oop en gesluit was nie.



KOSHUISE

“Daar was die afgelope paar weke, terwyl skole gesluit was, slegs 'n 0,2% daling in infeksiesyfers onder onderwysers en 'n daling van 1,6% onder leerlinge. Dit beteken die kanse vir kinders om Covid-19 tuis of by die skool op te doen, is ewe groot,” het sy verduidelik.

Om die epidemiologie van die uitbrekings te evalueer, het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, die Amerikaanse Sentrum vir siektebeheer en -voorkoming, die Africa Field Epidemiology Network en Unicef in April 'n studie uitgevoer in agt van die streke wat die ergste onder Covid-19 gebuk gaan.

Die studie het bevind skole is nie die hoofverspreiders van Covid-19 nie, en kinders se kans om tuis of in hul gemeenskappe besmet te word, is ewe groot.

Volgens 'n opsomming van die verslag wat Maandag deur die Amerikaanse ambassade gepubliseer is, is skole nie geïsoleerde plekke vir ­superverspreiding nie, maar vorm inderdaad eerder deel van die groter prentjie van oordrag binne gemeenskappe.

Die bevindinge wys verder daarop dat kinders wat in ­skoolkoshuise woon, die grootste risiko loop om Covid-19 op te doen, aangesien uitbrekings in skole meer gereeld voorkom in skole met koshuise as dié daarsonder.

Wanneer gevalle in ­koshuise voorkom, is daar beperkte verspreiding na dagleerlinge, aangesien gevalle dikwels vinnig opgespoor en geïsoleer word.

Volgens die bevindinge kom hierdie gevalle steeds uit die ­gemeenskappe wanneer koshuisinwoners die plaas­like gesondheidsorg­fasiliteite of winkels besoek.



INFRASTRUKTUUR

In hierdie verband het ­Nghipondoka gesê hoewel sosiale afstand 'n probleem in skole is, werk die regering deurgaans om 'n veilige skoolom­gewing te verseker.

Sy sê met die N$800 miljoen wat aan die ministerie bewillig is vir die ontwikkeling van Covid-infrastruktuur, het hulle 84 koshuise ­opgeknap en 34 nuwe koshuisblokke gebou om sosiale afstand te verseker.

Altesaam 235 nuwe ablusiegeriewe is ook gebou, terwyl 243 opgeknap ­

is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!