Meer as 100 ton bloubessies al geproduseer

Mashare se bloubessies verkoop goed en het aan 450 vroue in die Kavango-Oosstreek werk verskaf.
Elvira Hattingh
Mashare Berries Farming het op 6 Oktober amptelik die 100 ton merk binne eerste jaar van produksie verbygesteek, terwyl Namibië se bloubessies al oraloor, veral in Europa, geniet word.

Die eerste 7 ton bloubessies vir uitvoer is op 21 September vanjaar op ’n Eurowing Airbus A330 gelaai, waarna dit die volgende dag op Frankfurt afgelaai is. Daarna het meer besendings na Nederland, Duitsland, Spanje, Rusland en selfs Hongkong gevolg.

Ook het meer bessies plaaslik verkoop as verwag.

Die sukses van dié verhaal lê nie net daarin dat ’n ongewone produk aan die Namibiese kant van die Kavangorivier gekweek en uitgevoer word nie, maar dat 450 vroue in landelike dele ’n werk in die Kavango-Oosstreek kon vind – en selfs méér in die komende jaar in diens geneem sal word.

Dit het sowat N$90 miljoen gekos om die projek te begin, wat moontlik gemaak is deur die finansiële steun van die private-ekwiteitsonderneming, Königstein Capital.

VERVOER UITDAGEND

In ’n mediaklaring verlede week is verduidelik dat die verspreiding van bloubessies uitdagend is omdat dit, terwyl dit vervoer word, konstant teen ’n temperatuur van net bó vriespunt gehou moet word.

Die vervoer van die bloubessies tot in Europa word deur die Namibiese maatskappy Transworld Cargo hanteer en dit word onder die naam “Namib Blue” uitgevoer.

Binne ’n halfuur nadat die bessies geoes is, moet dit verkoel word. Die vrugte word dus binne uitgesorteer en verpak, wat baie lae temperature handhaaf. Die pakkers moet dik baadjies en broeke dra, terwyl somerstemperature van bó 30°C buite heers.

Nadat die bloubessies in kartonbokse verpak is, word dit opgestapel en in koelkamers geberg, van waar dit in verkoelde trokke na die Hosea Kutako Internasionale Lughawe vervoer word.

Enkele ure vóór die vlug na Europa vertrek, kom die vrag by die lughawe aan en word in ’n spesiale bergingsplek verkoel. Nadat dit in die vliegtuig gelaai is, bereik dit Frankfurt tien ure later. Die temperatuur word konstant gemonitor – vanaf die verkoelingskamers op Mashare tot by die grootmaatverkoper in die Noordelike Halfrond.

Die monitering van die lae temperatuur is noodsaaklik sodat die verbruiker smaaklike, vars bloubessies kan koop.

Volgens die verklaring word streng gesondheidsregulasies by Mashare Berries Farming gehandhaaf, wat insluit dat almal hul hande soggens moet ontsmet en alle toerusting ook eers gewas moet word. Die dra van gesigmaskers in die veld en binne die verpakkingsfasiliteite is verpligtend ten tyde van die Covid-19-pandemie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!