Meer as N$4 miljoen se skade ná reën

Baie van die boere se infrastruktuur het ook weggespoel. Dié skade is nie eers by die reusebedrag ingereken nie.
Tanja Bause
Tanja Bause - Verlede Maandag se reën en ysige weer in die suide van Namibië het meer as 4 109 bokke en skape se dood veroorsaak.

Dié reuseverlies beloop na raming N$4 109 043.

Afgesien van die reën en ’n yswind het riviere oorstroom en van die diere meegesleur.

Me. Sandra Groenewaldt van die plaas Robertson Farm Aub het 450 stuks vee verloor, mnr. Dirk van Wyk van die plaas Ebenhout 310 en mnr. Donald Mostert van die plaas Groenpint 208.

Volgens Mostert, wie se plaas sowat 60 km van Kalkrand af geleë is, het dit hele nag gereën en was dit yskoud.

“Die skape het in die kraal gestaan, maar hulle het verkluim en baie het mekaar doodgetrap,” het hy gesê.

“Ek het nie eers al die lammers bygetel wat gevrek het nie. Die probleem is my ooie het baie laat gelam en my lammers is nog nie drie maande oud nie. Ek het sowat 108 lammers wat nie meer ma’s het nie. Ek moet hulle nou probeer deurkry. Dit beteken ek moet melk vir hulle koop omdat hulle nog nie self kan vreet nie,” het Mostert gesê.

Volgens hom is dit nie die moeite werd om melk vir hulle te koop nie, omdat die melk baie duur is, en selfs al word die lammers groot en kan hy hulle verkoop, glo hy hy sal nooit sy geld terugkry nie.

“Maar ek kan mos nou ook nie al die lammers net van kant maak nie. So ek sal melk en kragvoer vir hulle koop en probeer om soveel van hulle te red as wat moontlik is,” het Mostert gesê.

Baie van die boere se infrastruktuur is ook saam met die vloedwater daarmee heen.

Dié skade is nie by die N$4 miljoen ingereken nie.

Rehoboth se veeboere span saam met Namboer-afslaers om die boere by te staan.

Mnr. Piet Coetzee van Namboer het self 160 skape op sy plaas, Aukakam, in die Rehoboth-omgewing verloor.

“Dit is ’n groot verlies vir my, maar ek kan aangaan. Baie van die boere kan nie aangaan nie en het hulp nodig. Namboer skenk hul geriewe vir bokke en skape aan die boere. Hulle kan hier kom staan en ons sal hulle versorg totdat die diere uitgedeel kan word aan die boere wat deur die ramp getref is,” het Coetzee gesê.

Volgens hom het mnr. Christian Lemcke van Botswana N$30 000 ten bate van die boere geskenk.

“Met die geld wat geskenk word, sal ons diere met die volgende veiling aankoop en hulle aan die boere skenk,” het hy gesê.

“Ek het ook ’n boodskap van ’n boer van New Castle in KwaZulu-Natal ontvang. Volgens hom het hy onlangs met sy kleinveeboerdery begin en sy eerste ses lammers is vier maande gelede gebore. Hy het gesê as ons ’n saamrygeleentheid kan kry, sal hy al ses ooitjies aan die Namibiese boere skenk,” het Coetzee gesê.

Mnr. Frans Fisch van Rehoboth se veeboere sal, in samewerking met die komitee wat in die lewe geroep is, besluit hoeveel diere aan geraakte boere geskenk sal word.

“Ek is self ’n boer, en al het ek nie nou diere verloor nie, weet ek hoe dit voel. Ons moet help om die mense weer op te hef,” het Fisch gesê.

“Boere van so ver as Hochfeld het diere geskenk. Namibiese boere het al begin om hul harte oop

te maak en te help soos hulle kan. Talle gras-, lusern- en diereskenkings is al ontvang.”

Lede van die publiek wat die boere graag wil bystaan, kan vir Fisch by 081 421 8384 of Coetzee by 081 124 2242 skakel.

Skenkings kan ook in die volgende rekening inbetaal word: Namibië Boere-skenkerfonds, Bank Windhoek, Maerua Mall, takkode: 483 872, rekeningnommer: 8004586880.

Gebruik “Vee” as verwysing.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!