Meer bekostigbare kos met meer rooivleis verwag

Moet verbruikers wag of nou koop?
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher



Die algemene aanduiding is dat die produsentpryse van die meeste landbouprodukte gedurende die res van die jaar sywaarts kan beweeg of selfs daal, derhalwe is die matige styging in kosinflasie in April ietwat onverwags.

Produsentprysindekse gee 'n aanduiding van wat op verbruikersvlak kan gebeur. Hiervolgens het 'n baie klein styging (0,4%) in Mei 2018 voorgekom. Dit is baie klein as dit met verlede jaar se styging vergelyk word en ook minimaal as dit met dié van voorafgaande maande vergelyk word. Dit dui op die aanwesigheid van kosdeflasie – ofte wel 'n daling in voedselpryse.



ANDER OORSAKE VAN INFLASIE

Statistiek Suid-­Afrika ontleed maandeliks 28 soorte voedsel. Hiervolgens het die prys van die kosmandjie in April vanjaar met net 1,2% gestyg. Dalende vleispryse en die pryse van graanprodukte, sowel as olies en vette wat ook laer neig, maak dit duidelik dat die kos in kosinflasie nie meer die sondaar is nie.

Dit gaan eerder oor uitgawes binne die waardeketting, soos energiekoste (die olieprys wat internasionaal styg), asook wisselkoers-gekoppelde insette, wat moontlik vir enige kosinflasie verantwoordelik is.

Kosinflasie is reeds vir 'n tyd lank laer as gewone hooflyninflasie, met die gevolg dat verbruikers se inkopielyste behoort te verander.



KOMMER OOR ­PROTEÏEN

Hoewel die prys van eiers nog hoog is, is daar aanduidings dat dít ook gaan daal. In April vanjaar was die jaar-op-jaar inflasie op eiers bykans 15% - dit is 'n bekommernis. Eiers is 'n baie belangrike bron van proteïen om 'n verskeidenheid redes, en prysstygings van dié aard is ontwrigtend, veral vir laer­inkomstegroepe.

Dieselfde geld ten opsigte van bevrore hoenderstukke, want met 'n jaar-op-jaar inflasiesyfer van bykans 11%, lol dit om begrotings te laat klop. Rooivleispryse se stygings was minder as 10% - dit behoort te help om diëte te balanseer.

Volgens die Nasionale Bemarkingsraad gebeur dit by tye dat daar verskille in inflasie tussen landelike en stedelike gebiede voorkom. Opvallend is veral die omvang van deflasie – dikwels daal die pryse in landelike gebiede baie minder as dié in stedelike gebiede. Dit is ook duidelik dat die impak van listeriose stadig maar seker besig is om te kwyn, maar dit sal bepaald nog tyd neem voordat verbruikersvertroue genoeg herstel het sodat die vraag na dié produkte weer volkome herstel.



GOEDKOPER VOEDSEL

Internasionale voedselpryse neig opwaarts. Volgens die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het voedsel se indeks in April vanjaar met 2,7% geklim, vergeleke met 'n jaar gelede. Die graanindeks was 15,4% hoër en dié van suiwel 11%. Die vleisprysindeks is tegnies onveranderd, met dié van vette en olies wat gedaal het.

Gegewe die verwagte ekonomiese oplewing in lande wat baie na Suider-Afrika uitvoer, kan verwag word dat gevolglike vraagveranderings met verloop van tyd pryse opwaarts sal druk. As die wisselkoers verswak, sal dit 'n impak hê op wat binnelands bekostig kan word.

Die verbruiker kan dus uitsien na minder prysstygings oor die ­volgende paar maande, maar sal steeds slim moet koop om munt uit die verhoogde aanbod te slaan. Institusionele inflasie soos energiepryse en belastings sal mettertyd 'n impak op kosinflasie hê.



ROOIVLEISBEDRYF MOET BEMARK

Wanneer kospryse daal of stadiger styg, koop verbruikers nie noodwendig méér nie. In baie gevalle pas hulle hul kooppatrone mettertyd aan.

Duur rooivleis dwing verbruikers om minder daarvan - en meer witvleis - te koop.

Wanneer rooivleis se pryse in verhouding weer gunstiger is, hou verbruikers by witvleis en gebruik ekstra geld om selfs méér witvleis te koop.

Dieselfde veranderings word waargeneem met die samestelling van die voedselmandjie, wanneer besluit moet word oor hoeveel proteïene versus koolhidrate gekoop moet word. Dit is in hierdie gevalle waar die onderskeie nywerhede moet toetree deur middel van advertensie en spesiale vraagbevordering om weer die verbruiker se guns te wen.

Daar is plek vir brood, melk en vleis in enige verbruiker se mandjie – hy of sy moet net voortdurend daarvan bewus wees en prysgewys bemagtig word om gebalanseerd te eet.

Gegewe die ­verwagte intrajaar-prysverhoudings lyk dit of verbruikers kan uitsien na méér bekostigbare kosmandjies met méér rooivleis en nie noodwendig minder witvleis nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!