Meer Eagles word lof toegeswaai

Krieket
Puik individuele spel voor en tydens die T20 Wêreldbeker het vyf Namibiese krieketspelers as finaliste vir die beste kolf- en boulvertonings deur ICC-assosiaatlande vir die jaar 2021 opgelewer, sover die jaarlikse toekennings deur die gesaghebbende krieketwebblad ESPNCricinfo betref.
In elke kategorie is daar vyf finaliste, met die wenners wat binnekort aangekondig sal word.
Die Amerikaanse krieketskrywer Peter Della Penna, wat een van die beoordelaars saam met nog ’n joernalis, Tim Wigmore, en die gewese Nederland-kaptein Peter Borren sal wees, beskryf die betrokke Namibiese Eagles-spelers se prestasies soos volg.

DAVID WIESE, 66 nie uit nie teen Nederland
T20 Wêreldbeker, Abu Dhabi
Namibië het twee jaar tevore vierde in die wêreldwye kwalifiseringswedstryd geëindig en teen sowel Nederland as Ierland verloor, maar Wiese, die voormalige Proteas-speler, het onmiddellik ’n verskil gemaak. Hy het op 52/3 ingestap met die vereiste lopietempo bo tien per boulbeurt, maar toe hy klaar was met die Nederlandse boulers was sy span oor die wenstreep met ’n boulbeurt oor. Wiese was genadeloos teen die draaiers en het 'n vyftigtal van 29 balle behaaldeur die Nederlandse kaptein Pieter Seelaar vir ses te verslaan. Kort voor lank het ’n spannende lopiejaagtog in ’n drafstap verander.

GERHARD ERASMUS, 53 nie uit nie teen Ierland
T20 Wêreldbeker, Sharjah
Ná ’n erg gebreekte vinger op die vooraand van die toernooi was Namibië se kaptein veronderstel om geopereer te word, wat sy droom sou begrawe het om sy nasie in hul eerste T20-Wêreldbekertoernooi te lei. Maar Erasmus het besluit om vas te byt en te speel – en hierdie kolfbeurt het dit alles die moeite werd gemaak. In ’n wen-of-gaan-huis-toe-ontmoeting om die groepfase af te sluit, het hy ingestap met sy span onder druk ná ’n bedeesde kragspel en die 126 as teiken. Hy het wakkerheid en kalmte aan die dag gelê terwyl hy enkellopies en twees uitgesoek het, voor sy later versnelling om Namibië se plek in die Super 12 te bespreek.
• Erasmus is afsonderlik ook as een van die finaliste vir ESPNCricinfo se internasionale krieketkaptein van die jaar benoem.

JAN FRYLINCK, 6/24 teen die Emirate
T20I, Dubai
Die linkerarm-naatbouler se truuks was besonder doeltreffend en sy boulsyfers op dié dag was kortstondig die beste in die geskiedenis van T20I-manskrieket vir assosiaatlande. Frylinck het met die paaltjie van die aanvangskolwer CP Rizwan in die negende boulbeurt begin en toe die gesogte prys van Muhammad Waseem in die 12de ingeoes. Toe hy in die 16de terugkeer, het hy nog twee paaltjies in drie balle geneem – insluitend die gewese kaptein Rohan Mustafa – om die laaste ernstige bedreiging van die gasheer uit te doof. Nog twee paaltjies in die laaste boulbeurt was die kersie op die koek om ’n sege met 17 lopies vir Namibië te beklink.

RUBEN TRUMPELMANN, 3/17 teen Skotland
T20 Wêreldbeker, Abu Dhabi
In een van die mes merkwaardige openingsboulbeurte in die toernooi se geskiedenis, het die linkerarm-snelbouler Trumpelmann drie keer in die eerste vier balle toegeslaan om Skotland in skok te laat in ’n Super 12-wedstryd tussen twee assosiaatlande. Dit het begin met George Munsey wat die eerste bal van spel op sy paaltjies gekap het. Twee aflewerings later het Calum MacLeod gevolg met ’n buiterand wat die bal na paaltjiewagter Zane Green gestuur het. ’n Vol inswaaier met volgende bal het die rooiwarm Richie Berrington been-voor betrap vir ’n goue eend. Skotland het nooit herstel nie en Namibië was op koers vir ’n oorwinning met vier paaltjies.

JJ SMIT, 5/26 teen Oman
Wêreldbeker Liga 2-eendagwedstryd, Windhoek
Met Gerhard Erasmus beseer, het Smit een van die mees onvergeetlike debuutvertonings nóg as instaankaptein gelewer met ’n vyftigtal én vyf paaltjies in ’n oorwinning teen voorlopers in die kompetisie. Oman moes 229 jaag om te wen en Smit se leë dubbelpaaltjie 18de boulbeurt het hul goeie begin ongedaan gemaak en van die sleutelkolwers Aqib Ilyas en Mohammad Nadeem ontslae geraak. Smit het Oman se hoop vir goed in die 44ste verydel deur Sandeep Goud vir 50 te verwyder en Naseem Khushi vir ’n nul uit te haal. Die paaltjie van Khawar Ali om die 46ste boulbeurt mee te begin, was die derde in vyf balle vir Smit.

FOTO’s Getty Images
David Wiese
Jan Frylinck

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!