• Tuisblad
  • Sake
  • Meer mense op Facebook as wat 'n eeu gelede geleef het
Meer mense op Facebook as wat 'n eeu gelede geleef het
Meer mense op Facebook as wat 'n eeu gelede geleef het

Meer mense op Facebook as wat 'n eeu gelede geleef het

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Vir ’n netwerk waarop jy kwalik ’n tiener sal opspoor (minstens in Suid-Afrika), toon Facebook steeds ongelooflike groei.
Nie minder nie as 1,71 miljard mense besoek Facebook nou minstens maandeliks. Dit is 15% méér as ’n jaar gelede.
Elke dag meld gemiddeld 1,14 miljard mense op dié sosiale netwerk aan, ’n jaartoename van 17%.
Mark Zuckerberg, uitvoerende hoof van Facebook, beskryf dit op sy Facebook-blad as ’n “pretfeit” dat daar nou meer mense op Facebook is as wat 100 jaar gelede geleef het.
Verreweg die meeste mense wat Facebook gebruik om met vriende en familie te verbind of die nuus te lees, 1,57 miljard per maand, doen dit op hul mobiele toestel.
Facebook as maatskappy sluit die sosiale netwerk in, asook die kitsboodskapdienste Messenger en WhatsApp en die fotonetwerk Instagram. Facebook besit ook Oculus, ’n maatskappy wat skynwerklikheid-kopstukke maak.
Sowel WhatsApp as Messenger het nou 1 miljard gebruikers per maand. 500 miljoen mense gebruik Instagram en 1 miljoen mense meld aan op die Oculus-platform deur middel van die Gear-kopstuk.
Zuckerberg sê in ’n nuusverklaring dit was nog ’n puik kwartaal. “Ons is veral ingenome met ons vordering met video, soos wat ons beweeg na ’n wêreld waar video die hart van al ons dienste word.”
Facebook se aandeelprys het Woensdag op die Nasdaq in New York met 2,12% tot US$123,34 gestyg, maar toe in nauurse verhandeling met nóg 5% gestyg. Die resultate het ontleders se beste verwagtinge geklop.

Só lyk die syfers
As mens Facebook se kwartaalsyfers lees net ná Twitter s’n, sit jy maar weer jou bril op om doodseker te maak jy lees reg.
Die fenomenale groeikoerse wat Facebook steeds toon – en dít vir ’n netwerk wat al op 12 jaar amper self ’n tiener is – maak dit moeilik om te glo Facebook en Twitter beweeg in dieselfde ruimte van sosiale media.
Vir die drie maande tot einde Junie – die tweede kwartaal van Facebook se boekjaar – het die maatskappy se verwaterde verdienste per aandeel met 184% tot 71c per aandeel gegroei vergeleke met dieselfde kwartaal van 2015.
As dít jou nie beïndruk nie (wat is 71c per aandeel, per slot van rekening!), hier is nog ’n paar groot syfers:
* Inkomste styg met 59% tot US$6,436 miljard.
* Die nabelaste wins styg met 186% tot US$2,055 miljard
* Die bedryfsgrens styg tot 43% (vanaf 31% vantevore).
* Aan die negatiewe kant styg die maatskappy se koste ook skerp, met 33% tot US$3,690 miljard.
Zuckerberg het wel in ’n beleggerskonferensie gewaarsku dat die inkomste in die volgende kwartale dalk nie so indrukwekkend gaan wees nie omdat dit met die ongelooflike groei in vorige jare vergelyk word, berig Bloomberg.
Facebook wen die oorlog om advertensiedollars op slimfone te laat inrol. Mobiele advertensies verteenwoordig 84% van sy totale inkomste, vergeleke met 76% ’n jaar gelede.
Facebook plaas steeds nie advertensies op WhatsApp of Messenger nie, wat beteken as hy sou wou, kan sy inkomste uit mobiele advertensies nog aansienlik groei.
Sheryl Sandberg, die maatskappy se bedryfshoof, het volgens Bloomberg gesê hulle fokus nou eers op die gebruikerservaring. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!