Meer vroue moet grond besit

Meer vroue moet oor produksiemiddele in die landboubedryf beskik en in die opbrengs deel.
Ellanie Smit
Ellanie Smit – Alhoewel 46% van vroue in die landboubedryf werksaam is, beskik hulle nie oor kaart en transport nie en heers verouderde benaderings in dié sektor waar mans steeds voorrang geniet.

Dit het aan die lig gekom tydens 'n paneelbespreking vroeër die week oor die rol van vroue in die landboubedryf.

Die minister van land­bou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, het gesê 51,4% van die bevolking in Namibië is vroue.

“Wanneer jy die statistiek neem en dit vergelyk met die aantal vroue wat ons op plase hervestig het, presteer ons swak, want net 37% van vroue maak deel uit van hervestiging in nie-groepskemas.”

Hy het gesê hoewel vroue 46% uitmaak van diegene wat in die landboubedryf werksaam is, is meeste van hulle op 'n selfversorgende vlak aangestel.

“Die probleem wat ons in ons samelewing het, is dat vroue nie oor produksiemiddele beskik nie en ook nie in die opbrengste deel nie.”

Schlettwein het gesê vroue is betrokke in die bedryf as werkers, soms onder haglike toestande.

“Ek glo die groot kwessie wat ons moet takel as ons vroue werklik wil bemagtig, is om 'n beleid te skep waar hulle welvaart verkry deur die produksiemiddele te besit asook 'n billike deel van die opbrengste. Daar lê dus 'n lang pad voor ons.”

“As jy oor die rol van die vrou in landbou wil gesels, kan jy nie net praat oor die aantal vroue wat in die bedryf werksaam is nie, maar hoeveel van hulle het eienaarskap in die bedryf.”

Hy het gesê die ministerie het programme geïmplementeer wat vroue aanmoedig om in landbou betrokke te raak.

Hy het egter gesê hoewel dit nuttig is, sit hulle met 'n uitdaging waar verouderde, verwesterde benaderings, of dit nou in die finansiële sektor of in die landbousektor is, steeds voorkeur aan manlike deelname gee.

“In 'n kommersiële omgewing, suid van die veeartsenykordonheining, hoeveel vroue besit die plaas, besit die vee, besit die besigheid?

“Die statistieke is nie duidelik nie, maar die vermoede en dit is 'n ingeligte vermoede, is dat dit ernstig bevooroordeeld is teenoor die manlike bevolking. Dieselfde geld ongelukkig ook noord van die heining.”



VERANDERING

Hy het gesê wetgewing moet dus nie net daarop gemik wees om vroue aan te spoor om aan programme deel te neem nie, maar moet ook fokus op gedragsverandering en stelselmatige verandering.

Schlettwein het beklemtoon die ekonomie moet getransformeer word om effektiewe en spoedige verandering in eienaar­skap te bewerkstellig.

“Wanneer jy nie die rykdom in die landboubedryf gelykop verdeel het nie, het jy nie daarin geslaag om te hervorm nie en word welvaart gemeet aan hoeveel bates jy besit, nie net hoeveel inkomste jy daaruit verdien nie, maar albei. ”



WERKSGELEENTHEDE

Me. Daisry Mathias, die presidensiële adviseur oor jeugaangeleenthede en ondernemingsontwikkeling, het gesê landbou is een van die sektore in die land wat werk skep.

“Oor die laaste sewe jaar het die primêre bedryf sowat 16% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra en van dit was sowat 7% direk van die landbousektor afkomstig.”

Mathias het bygevoeg 23% van die werksgeleent­hede wat Namibië in sy ekonomie het, kom direk uit die landbousektor.

Sy sê in terme van geleenthede, is landbou een van die sektore wat werk skep, waar baie jong mense en vroue kundigheid en vaardighede kan leer en waar hulle op 'n kommunale vlak betrokke kan raak.

Volgens Mathias is kapitaal en toegang tot grond van die hooffaktore vir produksie.

“Die uitdaging wat ons in die gesig staar, is dat baie vroue – hoewel hulle aan ko-operatiewe in landelike gebiede behoort – nie toegang tot kapitaal het om grond te kan koop nie weens die kollaterale aard van landboufinansiering.”

Sy het gesê baie mannekrag is reeds in landboufinansiering ingespan om vroue geleenthede te bied.



BESTAANSVLAK

Me. Helvi Shindume, stigter van Woman in Agriculture Namibia, het gesê sowat 59% van vroue verrig geskoolde en bestaanslandbouwerk.

“Hoewel die sektor deur 'n manlike arbeidsmag oorheers word, produseer vroue op bestaansvlak, wat glad nie vir ons land voldoende is nie.”

Sy het gesê daar is 'n geleentheid om vroue te laat groei om nie net selfver­sorgend te wees nie, maar ook op 'n meer kommersiële vlak te produseer, sodat hulle 'n inkomste kan verdien en kan bydra tot die BBP.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!