Meersig-moord: Man borgtog geweier

’n Man wat daarvan beskuldig word dat hy sy vrou koelbloedig in die kop geskiet het, se borgtog is in die Walvisbaaise landdroshof geweier.
Leandrea Louw
Leandrea Louw op Walvisbaai – Mnr. Conrad (Coenie) Strydom (45) het sy eerste verskyning in die landdroshof in Walvisbaai gemaak op aanklag van moord, saamgelees met die wet op gesinsgeweld.

Die slagoffer, me. Engela Strydom (49), is na bewering van agter af met ‘n 9 mm-vuurwapen in die kop geskiet.

Ná die skietvoorval is die oorledene glo deur paramedici behandel en hospitaal toe geneem onder die dekmantel dat sy selfdood gepleeg het.

Die voorlopige polisieondersoek het egter aangedui die oorledene is van agter af met ’n 9 mm-vuurwapen in die kop geskiet. Die wapen is onder ‘n kussing gevind, terwyl vier leë koeëldoppies op die misdaadtoneel gevind is.

Tydens die hofverrigtinge is die beskuldigde deur me. Lana Fouche verteenwoordig. Staatsaanklaer Maggy Shiyagaya het gesê die staat sal in hierdie stadium borgtog teenstaan.

“Ons versoek dat die saak tot 15 Desember uitgestel word vir verdere ondersoek. Ons staan borgtog teen vanweë die erns van die misdaad – dit sal nie in die belang van die publiek of regspleging wees nie en die ondersoek is nog in ‘n baie vroeë stadium.”

Fouche het ingestem en gesê “teen daardie tyd sal al die relevante verklarings hopelik reeds geneem wees”.

Strydom bly in aanhouding tot sy volgende hofverskyning.

Verskeie bespiegelings rondom die egpaar doen die ronde; een daarvan is dat die twee nie gelukkig getroud was nie. Die egpaar is op 4 Julie vanjaar getroud nadat hulle in 2019 ontmoet het.

Die slagoffer se bedroefde familie was tydens die hofverrigtinge teenwoordig en wou nie enige foto's of videomateriaal van hulle geneem hê nie.

Die beskuldigde se ouers is ook vlugtig opgemerk waar hulle voor die hofverrigtinge met hul seun praat.

Engela, ’n ma van twee, was die eienaar van Sefco Property Managers in Walvisbaai en is sedert 1994 'n eiendomsagent.

Die verdagte was na bewering werkloos.

Volgens die polisieverslag het hy aanvanklik by die polisie aangemeld dat sy vrou selfdood gepleeg het, maar verdere ondersoek het aan die lig gebring dat sy vermoor is.

Volgens insp. Ileni Shapumba, die eenheidsbevelvoerder vir gemeen­skapsake, het die voorval Donderdagaand tussen 20:00 en 21:00 by die egpaar se huis in Vaughan Websterstraat in Meersig op Walvisbaai plaasgevind.

“Daar word beweer Strydom en haar man was by ‘n kuierplek in die dorp. Strydom het glo alleen huis toe gegaan. Volgens haar man het hy minute later ook huis toe gegaan en het hy haar dood op die balkon met skietwonde in haar voorkop gevind. Hy het verder beweer sy het selfdood gepleeg,” het Shapumba gesê.

Volgens Shapumba het die polisie se voorlopige ondersoeke bewyse gevind wat nie Strydom se weergawe ondersteun nie.

Hoewel geen lisensie vir die 9 mm-vuurwapen glo in die huis gevind is nie, beweer die beskuldigde hy besit die vuurwapen wettiglik.

“Die motief vir die moord moet nog vasgestel word en die polisieondersoek duur voort,” het Shapumba gesê.

[email protected]

FOTO’s
Conrad ‘Coenie’ Strydom word daarvan beskuldig dat hy sy vrou koelbloedig doodgeskiet het. Foto Leandrea Louw
Die Strydom-egpaar. Foto Verskaf
Die woonstel agter nr. 9 waar die beweerde skietery in Meersig, Walvisbaai plaasgevind het. Foto Leandrea Louw

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!