Meeste mense vra een tyd
Vanjaar kan dalk die laaste jaar wees wat Namibië wintertyd sal hê.
Estelle de Bruyn
Die meeste Namibiërs wil hê Namibië moet met wintertyd wegdoen en dwarsdeur die jaar by een tyd bly.
Dít blyk uit die bevindinge van die parlementêre portefeuljekomitee belas met buitelandse sake, verdediging en veiligheid.
Dié komitee het landswyd openbare konsultasies gedoen en wyd geraadpleeg oor die voorgestelde wetsontwerp op Namibiese tyd.
Die kabinet het in 2015 aan die ministerie van binnelandse sake en immigrasie opdrag gegee om vas te stel hoe Namibiërs oor wintertyd en somertyd voel.
GEEN KONSENSUS
Nadat briewe aan belanghebbendes gestuur is en openbare kennisgewings in koerante verskyn het, en selfs nadat die sperdatum verleng is, het net 3 507 mense gereageer.
Van hulle was 3 096 ten gunste van een tyd vir Namibië en 304 wou hê dat winter- en somertyd behou word.
In Februarie vanjaar het die minister van binnelandse sake en immigrasie, me. Pendukeni Iivula-Ithana, die wetsontwerp op Namibiese tyd in die Nasionale Vergadering (NV) ter tafel gelê, wat die wet op Namibiese tyd van 1994 sou skrap en sou meebring dat Namibië dwarsdeur die jaar een tyd, naamlik Greenwich- middelbare tyd (GMT) plus twee uur, sou hê.
Konsensus kon egter nie in die NV bereik word nie en die wetsontwerp is op 9 Maart na die portefeuljekomitee vir verdere beraadslaging verwys. Die komitee het tussen 8 en 24 Mei 13 van die 14 streke in die land besoek om die publiek en belanghebbendes se menings in te win.
KOMMER OOR KINDERS
Van die redes wat aangevoer is vir een tyd is dat daar geen openbare konsultasie was toe die wet op Namibiese tyd in 1994 ingestel is nie.
Afgesien hiervan is Namibië ingevolge die Grondwet 'n eenheidstaat. Die feit dat die Zambezistreek nie in die winter na wintertyd oorskakel nie, laat die idee van die “Namibiese Huis” vervaag.
Kommer is uit sekere oorde uitgespreek oor skoolkinders wat soggens in die donker sal moet skool toe gaan indien wintertyd wegval. In sommige landelike gebiede gaan leerlinge in die namiddae skool, en studente aan NamCol gaan eers saans huis toe. Hulle is teen misdaad gewaarsku.
PAS SKOOLURE AAN
Ná beraadslaging met die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, is egter bevind dat die minister by magte is om die skoolkalender en skoolure aan te pas. Gevolglik sal die ministerie riglyne aan skole gee oor wat die meeste voordeel vir leerlinge sal inhou.
Die moontlikheid dat vier kwartale in plaas van die huidige drie termyne ingestel kan word, word ook oorweeg. Dit sal meebring dat leerlinge 'n lang wintervakansie het - verkieslik van die middel van Junie af tot in Julie.
Handel met RSA, SADC
Namibië maak swaar staat op die verhandeling van goedere en dienste met Suid-Afrika, die land se grootste handelsvennoot.
Vanweë wintertyd, sê baie sakelui, gaan ongeveer vier ure per dag verlore, een uur in die oggend, twee ure oor etenstyd en een uur in die namiddag.
Een standaardtyd sal gevolglik produktiwiteit in die wintermaande verbeter.
ONTWRIGTING
Heelwat ontwrigting vind ook by grensposte met buurstate plaas vanweë tydsveranderinge wat koste-implikasies het en ook tyd mors.
Die portefeuljekomitee het gevolglik aanbeveel dat Namibië terugkeer na een standaardtyd en dat weggedoen word met wintertyd.
Die NV sal eersdaags dus die wetsontwerp op Namibiese tyd heroorweeg.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie