Meeste tuberkulose in Khomasstreek
Meeste tuberkulose in Khomasstreek

Meeste tuberkulose in Khomasstreek

Hoewel TB steeds 'n uitdaging in Namibië bly, neem die getalle daarvan jaarliks af.
Maria Eiseb
Maria Eiseb



Volgens 'n verslag wat onlangs deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste uitgereik is, is Namibië een van die lande in die wêreld wat die ergste deur tuberkulose (TB) geaffekteer word, maar ten spyte hiervan neem die getal gerapporteerde gevalle jaarliks af.

Volgens 'n opname wat tussen 1990 en 2015 gedoen is, het die aantal TB-gevalle in Namibië voortdurend afgeneem en 'n laagtepunt bereik in 2014. Hierna was daar weer 'n effense toename, waarskynlik weens die gebruik van TB-weerstandige medisyne.

In die Khomasstreek is die hoogste getal gevalle van TB vir 2015 gerapporteer - sowat 1 600 gevalle.

Die Ohangwena- en Erongostreek was kort op die Khomasstreek se hakke.

Die Kunenestreek het in 2015, net soos in vorige jare, die minste TB-gevalle getoon, met slegs 300 gevalle wat aangemeld is.

Die verslag het ook getoon dat ouderdomsgroepe wat in 2015 in die Khomasstreek die meeste deur TB geaffekteer is, mense tussen 25 en 44 is. Dit lyk ook of meer mans in hierdie tyd met TB diagnoseer is as vroue, behalwe in die 15 - 24 en 5 - 14 ouderdomsgroepe.

Tydens 'n onlangse besoek van die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, mnr. Thomas Daughton, aan TB-pasiënte van die Okuryangava-kliniek in Windhoek, het die Khomasstreek steeds voorgeloop wat TB-gevalle betref.

Dr. Mukebayi Kalonji, wat by die kliniek waarneem, het by die geleentheid gesê dié kliniek het die meeste aangemelde TB-gevalle in Namibië.

Volgens Kalonji is dit soms moeilik vir pasiënte om die behandelings­kursus te voltooi.

Hy het gesê in die meeste gevalle is dit amper erger vir familielede as vir pasiënte.

“Ons moenie net oor TB-behandeling praat nie, ons moet TB in Namibië stop,” het hy gesê.

Mnr. Andreas Mwoombola, permanente sekretaris in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, het gesê die ministerie kan nie op sy eie na al die streke uitreik nie.

“Die afgelope tyd het ons probeer om die siekte uit te roei, maar ons sukkel steeds. Iewers het ons gefaal,” het hy gesê.

Volgens Daugthon toon Namibië relatiewe sukses in die behandeling van pasiënte, maar medisyne-weerstandige pasiënte se sukseskoers het gedaal van 68% in 2012 tot 64% in 2015.

Tydens die geleentheid het pasiënte vertel dat hul behandeling voltooi het en ander aangemoedig om hul behandelingskursus ook te voltooi.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer