Namibië: Afrika-land met meeste houtskool-uitvoere na EU

Namibië se uitvoere van houtskool na Europa het oor die afgelope 12 jaar verviervoudig, maar dit kan oornag verander omdat die bedryf tans onder ernstige druk gebuk gaan.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

In 2020 was Namibië Afrika se grootste uitvoerder van houtskool na Europa. Tóé is meer as 80 000 ton ná die vasteland uitgevoer.

Boonop het Namibië se houtskooluitvoere na Europa sedert 2008 tot verlede jaar met 400% toegeneem. Dit plaas Namibië, tesame met lande soos Oekraïne en Kuba, onder dié vasteland se grootste handelsvennote.

“Tussen Januarie en Junie vanjaar toon die bedryf wéér indrukwekkende syfers, ten spyte van die goeie reën waarin min houtskool geproduseer kon word,” het mnr. Michael Degé, hoofbestuurder van die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA), aan Die Boer gesê.

“Houtskool is een van die min bedrywe wat oor die afgelope twee jaar goed gevaar het.”

Tydens ‘n webinaar oor houtskool op 28 Junie vanjaar deur die Earthworm Foundation, is gesê naas Namibië, het Europa verlede jaar die derde meeste houtskool vanaf Kuba ingevoer, gevolg deur invoere vanaf Nigerië.

Die meeste houtskool is vanaf Oekraïne ingevoer.

Tussen 2019 en 2020 het Namibië se houtskooluitvoere na Europa jaar op jaar met 3% toegeneem, terwyl dié vasteland algaande al minder houtskool vanaf Suid-Amerika en Nigerië ingevoer het, met Oekraïne wat hul hoof- handelsvennoot bly.

Terselfdertyd het dié vasteland oor die afgelope twee dekades ‘n gesonde aptyt vir houtskool ontwikkel en het hul invoere daarna verdriedubbel, terwyl die vasteland self ook al hoe meer houtskool begin vervaardig het.

Verder verhoog vertroue in houtskoolproduksie, soos die getal gesertifiseerde houtskool in die Europese mark toeneem en deursigtigheid in die vervaardiging daarvan verbeter. Dit, op die beurt, verhoog die vraag na die produk.

KLIMAATSVERANDERING

“Namibië se invoere van houtskool bly groei. Dit kan egter oornag verander omdat daar nou geweldige druk op die bedryf is,” het Degé gesê.

“Mense se beskouing van klimaatsverandering het ‘n duidelike negatiewe impak op houtskool. Europese politici begin die produksie van houtskool bevraagteken.

“By die NCA kyk ons indringend daarna en het reeds stelsels ontwikkel waar ons die rook, wat tydens die produksie van houtskool vervaardig word, in natuurlike produkte kan omskep. Ons dink veral in terme van Stockholm-teer (vir onder meer dieregebruik) en humiensuur wat in kunsmis en kompos gebruik kan word.

“Die waarde van die byprodukte is baie hoër as die houtskool self. Ons sal dus, indien ons suksesvol met die bemarking van die byprodukte is, nog vir baie jare houtskool kan vervaardig.

“Die klem sal egter na die byprodukte skuif en ons minder afhanklik van markte vir houtskool maak.”

Degé sê egter intussen, terwyl daar nog geen ander maniere is om bosindringing ekonomies teen te werk nie, sal houtskool die enigste produk bly wat vir boere aanvaarbaar is.

“Ná die droogtes is boere onder groot druk om weer te herstel en houtskool is ‘n belangrike produk om hulle uit die verknorsing te red. Weens klimaatsverandering weet ons daar sal weer groot droogtes wees en dan sal houtskool en boskos weer op die voorgrond vir oorlewing wees,” het hy bygevoeg.

VERVOERREËLS

Nog ‘n uitdaging is dat strenger regulasies vir die vervoer van houtskool op vragskepe ingestel moet word. Dit volg ná ‘n voorval in die Verre Ooste waar vraghouers op ‘n vragskip aan die brand geslaan het.

“Dit kan die houtskoolbedryf ‘n groot knou toedien, aangesien dit aansienlike kostes vir die produsent en fabrieke in Namibië sal meebring. Die NCA is besig met onderhandelinge met rederye om aanvaarbare reëls op te stel wat vir beide kante nie sal benadeel nie.”

VELDBRANDE

Degé sê nog ‘n uitdaging is veldbrande.

“Ons is in die middel van die veldbrandseisoen en dit is goed om te sien meer mense volg vanjaar die reëls as in die verlede. Die direktoraat van bosbou tree hierdie jaar baie streng teen oortreders op.

“Daar is egter nog steeds te veel gevalle waar enkele produsente hulle nie aan die reëls steur nie. ‘n Baie klein persentasie van die veldbrande wat voorgekom het, kan aan houtskool toegeskryf word.

“Die meeste veldbrande word egter veroorsaak deur mense wat agterlosig is, sweiswerk word in die middel van lang gras gedoen en mense kook hulle middagete in die veld – sonder om die gras te verwyder.”

KASSIE

Die Earthworm Foundation, voorheen bekend as The Forest Trust, is ‘n globale niewinsgewende organisasie wat hoop om ‘n positiewe impak op die verhouding tussen die mens en die natuur te hê. Hulle is werksaam in verskeie waardekettings, wat insluit houtskool, biomassaprodukte, suiker, hout, papier, seekos, palmolies en natuurlike rubber.

Wat houtskool betref, doen hulle gereeld veldbesoeke en analiseer ook sakke houtskool.

Afrika is by verre die grootste produsent van houtskool en vervaardig jaarliks sowat 32 miljoen ton houtskool, met Suid-Amerika en Asië en Oseanië wat onderskeidelik sowat 7,8 miljoen ton en 9 miljoen ton produseer.

Europa produseer self sowat 30% van sy houtskool en voer 70% daarvan in en het in 2020 altesaam 938 000 ton gebruik.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!