Meester met ’n mielie
Op Springvale by Summerdown kry 2018 se Meesterakkerbouer vrou-alleen reg wat waaroor baie ander mielieboere net droom. Hier is haar verhaal.
Ronelle Rademeyer - Vir die 38-jarige Elize van Niekerk is akkerbou uit nood gebore. Dié vrou se verhaal van durf, moed en bowenal geloof, roer en inspireer almal wat haar pad kruis.
As iemand wat privaat is en nie van die kalklig hou nie, is dit ’n uitdaging om as 2018 se Meesterakkerbouer skielik in die openbare oog te wees, erken sy. Maar die wete dat haar storie vir ander hoop kan gee, maak dit makliker.
Elize se lewe het op 11 Mei 2014 handomkeer verander. Die dag vóór dit was haar geluk nog volmaak.
Sy en Petrus, haar man en geesgenoot, het op die vooraand van die geboorte van hul drieling gestaan. As vlieëniers wat ’n opwindende vliegloopbaan vir ’n lewe op die plaas verruil het, was die boerdery en ouerskap hul nuwe fokus en uitdaging.
Elize se pa, Alfred, is dood die dag waarop sy uitgevind het sy is swanger. Hy was toe reeds jare lank siek met Alzheimers. Haar broer, Alfred (jnr.), wou nie boer en sy het sy deel van die 4 500 ha plaas uitgekoop.
“Alles was uitgewerk. My ma (Helène) sou as afgetrede onderwyseres vir my met die drieling help. Petrus het ’n boorgat laat sink en die eerste 13 ha lande onder spilpunt opgesit,” vertel sy.
“Hy was die positiefste mens wat ek ooit geken het. In Oktober 2013 toe hy laat boor het vir water, het ons net genoeg geld in die bank gehad om tot op 60 m te gaan. Toe hy daar nog nie water kry nie, het hy die boorman aangesê om dieper te boor.”
Elize onthou hoe ontsteld sy was, maar op 84 m boor hulle toe sterk water raak – ’n aar wat 80 000 liter per uur lewer!
Maar toe breek die noodlotsdag aan.
Die aand van 10 Mei 2014 het sy, Petrus en haar ma nog vrolik saam met geliefdes en vriende Aldred (jnr.) se bruilof by Heja Lodge buite Windhoek gevier.
Vier-en-twigtig uur later het Petrus en Helène op pad van Windhoek af terug plaas, verongeluk.
Elize, wat toe reeds ver swanger was, het in Windhoek by vriende agter gebly om die geboorte van die drieling af te wag.
Waar ons in die kombuis om die tafel kuier, onthou sy die warboel van daardie eerste dae ná die ongeluk. “Jy weet nie of jy kom of gaan nie. Die skok, die adrenalien. . . Dit is net te groot.”
Teen die spensdeur in die kombuis hang ’n bordjie met die volgende woorde daarop: “Omdat iemand wie ons lief het in die hemel is, is daar ’n stukkie hemel in ons huis.”
Amika, Helani en Divan, byna 4 jaar oud, kom vra vir koekies en verdwyn dan weer buite toe.
“Ek het dadelik aan die praktiese dinge gedink. En ek het vir die Liewe Vader gesê vir die volgende paar maande moet Hy my dag vir dag dra, anders gaan ek dit nie maak nie.
“’n Mens mens kry baie krag en genade. Ek het geweet my enigste opsie is om blindelings te glo Hy sal my dra. Die beste raad wat ek gekry het, is om nie dadelik enige groot besluite te neem nie.”
Ná die drieling se geboorte het sy eers nog ’n tyd lank by familie in Windhoek aangebly. Met die hulp van haar bure is Petrus se eerste 13 ha besproeiingsmielies geoes. Die opbrengs was 9 ton per ha.
Toe sy uiteindelik terugkeer plaas toe, het dit met haar begin beter gaan. “Omdat ek hier grootgeword het en die omgewing en sy mense ken, het dit met my geestelik begin beter gaan toe ek teruggekom het plaas toe. Ek het ook geweet met my kinders moes ek op my voete dink en aangaan.
“Verder is dit ook makliker om in die natuur die intensiteit van die Here se genade te ervaar en die mooi van die lewe raak te sien.”
PLANTTYD
Einde 2014 het Elize haar plaaswerkers byeen geroep. “Moet ek weer plant; wat moet ek doen. . .? Dit was die vrae wat ek hulle gevra het.”
Die voorman, Kleinbooi Tjombe, is al sowat 20 jaar op die plaas. Haar werknemers is almal uit die San-gemeenskap en sy het ’n goeie verhouding met hulle.
Anna Khao, een van die San-vroue wat ook al baie jare op die plaas is, het haar vraag met die volgende woorde beantwoord: “Die Here weet wat se fout Hy gemaak het. Hy sal jou nie los nie.”
Dít was haar sekerheid.
Elize het ’n 4 ry-planter gekoop en daardie seisoen self die saad in die grond gesit. En sy het meer as die vorige jaar se 9 ton per ha afgehaal.
Aan die einde van 2015 het sy nog 7 ha onder besproeiing geplaas en in 2016 ’n verdere 3 ha.
In 2017 het Elize 14,2 ton mielies per ha gestroop.
Vertel sy verder: “Ons het altyd net 10 ha mielies onder droëland-toestande verbou. Hierdie jaar het ek nog 80 ha in sarsies aangeplant. Die eerste 20 ha wat op 20 Desember in die grond was, lyk nie waffers nie. Die reën het, anders as wat voorspel is, weggebly en dit was boonop baie warm. Maar die volgende 60 ha wat ek eers einde Januarie geplant het, lyk heelwat beter.”
Dié mielies, Panar se 5285, was op 18 Januarie in die grond en dit het sedertdien 240 mm gereën. Die plantestand is18 000 per ha.
Verlede jaar toe sy nog lande vir droëlandverbouing skoongemaak en omheim het, het Elize vir drie weke met die drieling in ’n tent in die veld gekamp en saam met die draadspanners gewerk.
Sy laat nie sulke take net aan haar werkers oor nie, want, sê sy, “hulle het respek vir jou as jy saam met hulle werk”.
Baie aande maak sy vir die drieling agter in haar 4X4-stasiewa bed en gaan ry die lande na om die ystervarke te verjaag.
Hoewel daar elektrisiteit op die onderste drade van die wildwerende heinings om die lande is, het sy steeds las van die ystervarke wat deurbreek en die mielies verniel.
BOERDERYFILOSOFIE
Elize jaag nie tonnemaat nie, sê sy. Haar beleid is om haar insetkoste so doeltreffend as moontlik te bestuur sodat sy haar netto wins kan optimaliseer. “Dit moet nie minder as 50% wees nie.”
In 2015, toe sy haar eerste oes afgehaal het, was die mielieprys N$3 800 per ton. Sy kon haar insetkoste só bestuur dat 55,73% daarvan netto wins was. In 2016 was die mielieprys N$4 200 per ton en haar netto wins 58,75%. Verlede jaar het sy teen die prys van N$5 000 per ton, 63,35% netto wins gemaak.
Wat vanjaar se opbrengs gaan wees, weet sy nog nie? “Ek het bemes vir 16 ton per ha, maar ek sal weens die laer as verwagte reënval nie soveel oes nie. Ek glo egter ek sal my mikpunt van ’n netto wins-marge van meer as 50% bereik.”
TOEKOMSPLANNE
Elize wil in die volgende seisoen haar droëland-verbouing tot 150 ha vergroot. Sy wil ook ’n verdere 7 ha onder besproeiing sit sowat sy 30 ha onder spiltpunte het.
“Dit was wat Petrus vir die plaas beplan het,” vertel sy.
In hierdie stadium pas Elize nog nie wisselbou toe nie. “Ek plant wel akkerboubone op die uitvalshoeke van die besproeiingslande as voer vir my skape (Dorpers). Hierdie is nou die 5de jaar wat ons mielies oes en ek moet seker aan wisselbou begin dink.”
Hoewel dit as akkerbouer is wat sy haar die afgelope jare onderskei het, lê haar beesboerdery haar eintlik nader aan die hart.
“Akkerbou is uit nood gebore, maar ek het met beeste grootgeword.”
Sy vertel in die tyd toe sy en Petrus nog gevlieg het, het hulle baie oor boerdery opgelees. En dit was in diereproduksie waar haar passie lê.
Haar kommersiële kudde bestaan meestal uit Bosmara-Simmentaler-kruisings. Sy het ook ’n Braunvieh stoet, Trio Braunvieh, vir die drieling begin.
“Om eerlik te wees. . . Uit beesboerdery maak ’n mens nie geld nie. Ek moet aan die drieling se toekoms dink.”
Daarom doen Elize baie proefnemings om te kyk hoe sy met mielieproduksie haar opbrengs kan verhoog en haar wins kan vergroot.
Tydens ’n veldtoer wys sy ’n land uit waar sy 30 000 plante per hektaar geplant het en 8 mm water elke tweede dag gee. Die land reg langsaan het ’n plantestand van 95 000 per ha en benodig 750 mm gedurende die groeiseisoen.
Sy weet nie wat die toekoms inhou nie, maar sy weet waar haar krag lê. Sy het aan haar en Petrus se droom vlerke gegee.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie