Meesterakkerbouer sê oor wenresep
Elvira Hattingh - ’n Laer plantestand, diversifisering van gewasse en ’n meerkoppige mielieplant was die suksesresep wat vanjaar se meesterakkerbouer deur die droogte gehaal het.
Mnr. Georg Sievers van die plaas Ilmenau naby Grootfontein, is vanjaar vir die tweede keer sedert 2005 as die Namibiese Akkerbouraad (NAB) se meesterakkerbouer aangewys.
Die Akkerbouraad gee alreeds oor die afgelope 16 jaar die toekenning aan kommersiële graanprodusente wat die maksimum hoeveelheid witmielies onder besproeiing asook op droëland oes.
Sievers is ’n derde geslag boer en het sy BSc Agric-graad met landbou-ekonomie, akkerbou en diereproduksie as hoofvakke in 1992 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. Daarna het hy saam met sy pa op die plaas begin boer en uiteindelik die plaas oorgeneem.
Sievers het vanjaar onder ernstige droogtetoestande 285 ha witmielies geplant, waarvan 85 ha op huurlanderye verbou is en 14 ha onder besproeiing. Terselfdertyd het hy ook boontjies en sorghum geplant.
Hy het voorheen op die Akkerbouraad gedien en is tans ’n verteenwoordiger vir die Akkerbou Produsentevereniging (APV).
Hoe belangrik is formele onderrig of ’n kwalifikasie in landbou/akkerbou?
In die beginjare was formele onderrig baie belangrik. Om uit ondervinding te leer, neem te veel tyd. Deesdae kan jy egter deur middel van die internet maklik baie van die nodige inligting bekom. Ek dink egter ’n finansiële agtergrond bly belangrik in boerdery.
Wat beteken Ilmenau?
Die plaas is vernoem na ’n dorpie in Duitsland. Die eerste eienaar van die plaas het moontlik van daar gekom.
Jy is ’n derde geslag boer. Het jou voorouers ook mielies geplant en hoe sal jy sê het akkerboupraktyke van toe af verander tot vandag?
My pa het geplant en my oupa ook en hulle het nog met donkies geploeg. Deesdae, met die groot trekkers en moderne implemente, gaan dit baie vinniger en kan ons groter oppervlaktes bewerk. Boonop is vandag se saad baie doeltreffender en kan ons onkruid chemies bestry. Nuwe tegnologie is egter baie duur en ons moet groter oppervlaktes beplant om dit te kan bekostig.
Buiten vir mielies, het jy vanjaar ook bone en sorghum geplant. Vertel meer?
Ek het bale gemaak van die sorghum om as voer te verkoop. Bone is ’n goeie wisselbougewas vir mielies en hulle word ook gebaal en as voer verkoop.
Watter uitdagings het die droogte veroorsaak?
Ons akkerbouers het verlede jaar bykans geen oes gehad nie. Ons het dus waarskynlik meer verloor as die meeste beesboere. Ek kon my beeste verlede jaar deurbring, maar ook net-net.
Gelukkig het ons vanaf Desember tot in Februarie goeie reën gehad. Die groeiseisoen was egter kort en die mielies het vroeg uitgedroog. Die pitte is ook maar klein, maar die goeie mielieprys vergoed daarvoor.
Jy het vanjaar nie so dig geplant nie – in plaas van 22 000 plante per hektaar, het jy 19 000 geplant. Werk dit goed?
Ek het ’n meerkoppige mielie geplant wat in goeie tye twee koppe kan maak. In ’n droogte maak hy net een kop. ’n Hoë plantestand in ’n droë jaar lewer glad nie ’n oes nie.
Dit is die tweede keer dat jy die kroon as meesterakkerbouer dra. Hoe doen ’n mens dit?
Wat droëlandverbouing betref, is dit belangrik om vroegtydig te plant. Die doel is om in Desember klaar te plant, maar met ons wisselvallige weer is dit egter baie jare onmoontlik. ’n Ander uitdaging is om lande onkruidvry te hou. ’n Goeie plantestand is natuurlik ook belangrik. As jy hierdie drie punte kan regkry, behoort jy ’n redelike goeie oes af te haal. Dus kan ons nie in Desember see toe ry nie.
Jou toekomsplanne?
Ek sou graag nog meer wou uitbrei, maar ons water raak min en ons weet nog nie of van ons water na Windhoek gepomp sal word nie. Ek gaan wel op droëland uitbrei en hoop om volgende jaar sojabone te plant. As dit hier aard, kan dit ’n goeie alternatief vir mielies wees.
Hoe bestuur jy jou finansiële welvaart?
In die droë 90’s het ek so min as moontlik skuld gemaak. Vanaf 2000 het ons egter ’n paar goeie oeste afgehaal en die boerdery kon groei. Vandag is die besproeiing ’n stabiliserende faktor.
Hoe lyk die toekoms van akkerbou?
“Dit is baie belangrik om ’n geskikte wisselbougewas vir mielies te vind. Sodoende kan ons die vrugbaarheid van die grond verbeter en kan geen bewerking toegepas word, wat op die beurt produksiekoste verlaag, die grond se vermoë om water te behou en ook die oesopbrengs verbeter. ’n Groot uitdaging is egter om onkruid in toom te hou.
“Daar moet egter ’n manier wees hoe ons in die toekoms geen bewerkingstegnieke kan toepas – dis al hoe ons gaan kan oorleef. Geen bewerking behels onder meer dat die plantreste op die land bly lê en die nuwe saailinge word tussenin geplant. Die doel is om ’n humuslaag op die grond te hê.”
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie