Mega-advies vir Namibiese veebedryf

Hartebeestloop Bonsmaras se onlangse boeredag het vir vele boere nuwe hoop gebring met weldeurdagte wenke.
Minette Brink
Mariana Balt



Mnr. Joggie Briedenhann het op 18 Mei veeboere van oor die hele land op sy plaas Hartebeestloop in die Stampriet-omgewing ontvang, waar 'n paar van Suid-Afrika se superboere (almal veeboere) wat verlede jaar in kykNET se gewilde Megaboere-reeks verskyn het, saam met Namibië se eie megaboer, mnr. Mecki Schneider, die gehoor vasgenael gehou het.

Hulle het hul eie suksesverhale met sowat 300 aanwesiges gedeel, asook beginsels vir dié sukses beklemtoon en voorstelle vir oplossings van probleme in moderne boerdery aan die hand gedoen. Die deurlopende temas van hul gesprekke was daarop gemik om risiko’s in hoërisikobedrywe soos landbou effektief te bestuur en te verminder.

Boere is die geleentheid gegun om vrae aan die megaboere te rig, wat met eerlikheid en insig beantwoord is. Diegene wat dit bygewoon het, is dit eens dat die aanbiedings op die minste hul kennis van boerdery as ’n sakeonderneming verbreed het, en selfs groter sukses op hul eie pad vorentoe mag verseker.

Die namiddag is gewy aan meer praktiese lesings oor bonsmara-kruising, die winsgewendheid van bonsmara-osse en ander koei-en-bul-sake, afgesluit met heerlike samesyn oor smaaklike etes.

Die geleentheid is met 'n veiling die volgende dag opgevolg.

Sernick se sukses – 'n uitgebreide waardeketting

Mnr. Nick Serfontein het Sernick in 1983 naby Kroonstad in die Vrystaat gestig.

Gebore met die droom om eendag te boer, het Nick eers aan sy ouers se druk toegegee en ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, waarna hy vir 28 jaar as konsulterende ingenieur gepraktiseer het.

Later het hy met 'n paar bonsmaras begin boer, algaande meer grond aangeskaf en sy stoetteling uitgebrei totdat hy in 2002 as ingenieur afgetree en al sy aandag aan die Sernick Groep begin wy het.

Sy seun Carel het by hom aangesluit en is sedert 2014 hoof uitvoerende beampte van die groep.

Sernick is ‘n gediversifiseerde organisasie en bestaan uit ses besigheidsentiteite, wat elk waarde toevoeg tot die groep. Dit fokus op ‘n Bonsmara-stoetery, voerfabriek, voerkraal vir rooivleisproduksie (slagpale, ontbening en prosessering) en kleinhandelafsetpunte. Die groep het volgens sy webtuiste nagenoeg 400 personeellede en 'n jaarlikse omset van R1 biljoen.

Serfontein het uitgewei oor die uitdagings van moderne boerdery wat insluit die feit dat kommersiële boere minder word en plase groter, wat presisieboerdery verg. “Jy kan nie bestuur wat jy nie verstaan nie, jy kan nie verstaan wat jy nie meet nie, en wat jy nie meet nie kan jy nie beheer nie,” het hy gesê.

Volgens hom is beesboerdery al die afgelope dekade marginaal, met die toekoms ook nie noodwendig rooskleurig nie. Voerkrale het in 2016 baie afgeskaal en sommige is tydelik gesluit, dus moet boere alle opsies, soos kontrakvoer, nougeset oorweeg. Met insetkostes vir alle landbouprodukte wat styg, is diversifisering een manier om waarde toe te voeg. Met die gaping tussen die produsent en verbruiker wat al groter word, is 'n uitgebreide waardeketting een manier om inkomste te verhoog. Serfontein het die wynbedryf as voorbeeld genoem: In 'n bottel rooiwyn wat R30 kos, is die waarde van die wyn in die bottel maar slegs 60 sent, oftewel 2%.

Wanneer waardetoevoeging oorweeg word, is daar die volgende opsies:

• Hele ketting

• Gedeelte van die ketting

• Waarde toevoeg deur goeie diens

• Waarde toevoeg deur nuwe markte te ontwikkel

• Waarde toevoeg deur nuwe tegnologie

• Waarde toevoeg deur bou van goeie verhoudings

• Waarde toevoeg deur kwaliteit produkte te lewer

• Waarde toevoeg deur alliansies aan te gaan

• Waarde toevoeg deur navorsing.

Volgens Serfontein bied 'n beesvleis-waardeketting die volgende voordele:

• Stabiliteit

• Dit is waar die mark is

• Dit is waar die winste lê

• Dit skep geleenthede, selfs onder moeilike omstandighede

• Dit verleen buigbaarheid

• Dit bied geleentheid tot groei

• Die produsent word 'n prysmaker in plaas van 'n prysnemer

Hy het dit as die toekoms van beesboerdery gesien en daarom die Sernick waardeketting gevestig. “Ons is in werklikheid baie jaloers op ons produk en sorg dat dit nooit ons hande verlaat nie – iets wat deur die groep se logo uitbasuin word.”

Die groep se sukses is ook al op vele maniere bekroon. Toekennings sluit die LNR-toekenning as nasionale kudde van die jaar in, wat Serfontein as die resultaat van 26 jaar se prestasiemeting sien; en Cleaver-toekennings vir sy slaghuise in Kroonstad (platinum), Four Ways (platinum) en Linden (goud).

Serfontein erken dat dit geen maklike reis was nie, en dat die groep heelwat foute in die proses gemaak en “skoolgeld betaal” het.

Die feit dat hy vir 20 jaar lank 'n naweekboer was wat 350 km moes aflê om aan die boerdery aandag te gee, het beslis sy karakter getoets. “Maar nou het elke onderneming in die waardeketting sy eie dinamika en is ons op 'n goeie plek,” sê hy.

Dit beteken egter nie dat sy droom al bereik is nie. “Daar is nog baie geleenthede wat benut moet word en ons het nog nie die geheim van sukses ten volle ontrafel nie.”

Serfontein glo wel dat elke beesboer, of ten minste groepe boere, waarde tot hul produk kan toevoeg, selfs net gedeeltelik.

Die Sernick Groep is ook betrokke by opkomende boere in Suid-Afrika, veral dié wat as gevolg van grondhervormingsprojekte in die bedryf beland het. Serfontein beskou dit as een manier om ware betekenis aan die lewe te gee en 'n verskil in ander se lewens te maak, maar erken terselfdertyd dat dit ook 'n ontluikende mark en ander geleenthede skep.

Wat die toekoms van landbou betref, glo hy dat dit die fondament van ontwikkelende lande bly. Suid-Afrika se bevolking groei met 2% per jaar, dus kan daar in 2025 75 miljoen mense wees, wat meebring dat voedselproduksie met 30% in 10 jaar moet groei.

“Die bedryf is egter nie vir sissies nie,” waarsku hy. “Ons moet rekening hou met vele hindernisse soos stygende insetkostes, gesubsidieerde invoere, gebrek aan staatsubsidies, rompslomp, onsekere markkragte, onsekerheid oor eiendomsreg, plaasaanvalle, klimaatsveranderinge en selfs 'n onvriendelike regering.”

Hy bly egter positief. “Daar is 'n jonger geslag boere aan die ontwikkel en landbou het 'n 'sexy' bedryf geword.”

Ten slotte het hy genoem dat die kritieke faktore in sy suksesverhaal insluit om te kan droom, dat hy hom met goeie mense omring het, daarin glo om mense te bemagtig, vinnige besluite kan neem, daarin glo om op die verbruiker te fokus, goeie stelsels en stelsels ingestel te hê asook goeie balans in sy bestuurspan handhaaf. En natuurlik baie harde werk en deur nooit op te gee nie.

“In alles wat ons doen, daag ons die status quo uit en stel ons nuwe maatstawwe.”

Konsortium Merino - samewerking maak net meer sin

Gawie van Heerden, bemarkingsdirekteur van Konsortium Merino, het hul unieke model van boerdery aan die boere voorgehou.

Dié konsortium het in 1996 ontstaan uit 'n besondere vennootskap tussen vier Merino-telers in die Victoria Wes-omgewing. Dis die byna sprokiesagtige verhaal van 'n idee wat om 'n braaivleisvuur ontstaan, maar uiteindelik een van die merinobedryf se grootste genetiese suksesverhale geword het.

Toe Gawie van Heerden van Dombietersfontein Merino’s, John Luscombe van Grove Merino’s, Vetties Esterhuizen van Victoria Merino’s en Lukie Erasmus van Brandewynskuil besluit het om hul beste stoetramme saam aan te wend, kon hulle min weet dat dié gewaagde besluit sou lei tot die teling van 'n groot gedeelte van Suid-Afrika se “silwer meriete” merinoramme en verskeie “goue meriete”-stoetramme. Konsortium Merino verkoop tans die meeste merinoramme by amptelike veilings en hou die Suid-Afrikaanse rekordomset vir 'n merinoramveiling.

Die konsortiumlede het intussen reeds effens verwissel: Ná die dood van Erasmus in 2001 het sy seun Christo aangesluit en in 2002 het Phil van der Merwe, 'n bekende skaap- en wolkenner, ná sy aftrede as vyfde teler aangesluit.

Die konsortium hou die volgende voordele vir deelnemendes in:

· 'n Groter genetiese en seleksiepoel

· Meer topkwaliteitramme word vir die stoet geselekteer

· Meer ooie word deur die beste ramme gedek

· Ramme kan op 'n jonger ouderdom gebruik word (12 maande)

· 'n Ram word selde vir meer as twee dekkings gebruik, met die veronderstelling dat die nageslag 'n beter produk as die oorsprongdier moet wees

· Die genetiese proses beweeg vinniger

Volgens Van Heerden is die getuienis van honderde tevrede kopers klinkklare bewys van die positiewe invloed wat die konsortiumramme op hul kuddes het.

Hy het beklemtoon dat hulle aan die natuur as beste seleksie-ekspert glo, omdat skape sodoende die beste by omstandighede aanpas. Die vennootskap se samewerking sorg dat spesifieke en individuele dekkings van meer as 6 000 stoetooie per jaar daartoe lei dat meer van die topramme se genetika vir 'n groter mark beskikbaar is.

Hulle is ook verantwoordelik vir die grootste merinonasaat-eksperiment wat al in Suid-Afrika onderneem is, toe meer as 3 100 ooie met 15 van hul ramme gepaar is.

'n Belangrike kenmerk van die konsortium se werking is dat bestuur en besit van die stoetdiere geskei word. Dit bied letterlik aan enigiemand die geleentheid om 'n kudde te bou. Alle risiko’s word in hul winsdeling-en bestuursmodel ingebou.

Die model bied dus vir meer boere, byvoorbeeld dié wat naby aftrede is, die geleentheid om steeds 'n sinvolle inkomste te bly behou.

Volgens die konsortium se webtuiste het ongeveer 24 boere, met meer as 193 000 ooie, reeds by die Konsortium-familie ingekoop.

Dit is ook die ideale manier om opkomende boere te bemagtig.

Pierre Vercueil oor voerkraalvoorbereiding

Megaboer Pierre Vercueil, met boerderybelange in die Noordwes-provinsie en Zambië, is ’n sakeman met visie wat glo dat ondernemings, waarvan boerdery natuurlik een is, opgebou moet word met maksimum volhoubare wins as belangrikste doelwit.

In die proses het hy ondernemings tot stand gebring wat geleenthede en finansiële voordele nie net aan sy familie nie, maar veral ook aan werknemers bied.

Hy boer onder meer met varke, speenkalwers, bedryf ’n droëlandsaaiboerdery, ’n voerkraal vir die afronding van eie kalwers en ander aankope, komposvervaardiging vir eie gebruik, ’n klein wildboerdery asook 'n ekstensiewe voerkraal ("backgrounding").

Oor hierdie “backgrounding”, wat hy ook omskryf as voerkraalvoorbereiding, het hy met die boere gesels.

Volgens hom moet volhoubare landboutegnieke altyd beskermend teenoor die omgewing, ekologies gesond, ekonomies lewensvatbaar en sosiaal verantwoordelik wees. “Die boerderyproses is veronderstel om tot voordeel van die mensdom te wees. Die netto voordeel wat ons gaan ervaar sal afhang van verskillende landboubeleide, eiendomsreg, markmeganismes se werking en gaan gedomineer word deur die ekonomiese en sosiale motiewe van mense. Dit is dus logies dat ons 'n goed deurdagte visie moet kommunikeer en bemark.”

Hy heg baie waarde aan 'n sinvolle waardeketting vanaf die verbruiker boontoe tot by 'n stoetboerdery: “Dit strek van die verbruiker deur kleinhandel, groothandel, die ontbeningsfabriek, 'n slagpale, voerkraal of veldafronding, voerkraalvoorbereiding, 'n speenkalfprodusent, tot 'n stoetboerdery en tussenin is daar 'n klomp logistiek.

“Indien enige van hierdie partye vir te lank nie ekonomies lewensvatbaar is nie, gaan iemand in die waardeketting uittree sodat daar weer balans gevind kan word of skakels in die ketting moet saamgevoeg word om sinergie te bewerkstellig en/of koste te verlaag.”

Hy het voerkraalvoorbereiding oftewel 'n ekstensiewe voerkraal se rol soos volg verduidelik:

Hy sê die koste van grond en beeste is die grootste uitgawe. Beskikbaarheid en die prys van diere is onderhewig aan seisoenale variasie. Daar is dikwels min verband tussen die aankoopprys van speenkalwers (220 kg), verkoopprys van kalwers wat vir voerkraal voorberei is (290 kg) en die karkasprys van die finaal klaar gevoerde bees (270 kg karkas). Die aankoop- en verkoopprys van die beeste omsluit 66% van die risiko’s in die bedryf.

Vanuit die voerkraal se oogpunt is daar verskeie strategiese redes vir hierdie voorbereiding: Dit verminder beesvoorraad-onsekerheid, stabiliseer die voorraadvloei, minimaliseer die aankoopprys deur te konsentreer op volop tye, spekulatiewe winste is moontlik deur groot prysspronge te antisipeer en dit kan moontlik die aankoopkoste verminder deur die toevoeging van massa teen 'n koste laer as die waarde daarvan. Diere bring ook 'n korter tydperk in die voerkraal deur totdat hulle hul finale massa bereik het, wat lei tot 'n groter deurset, karkasmassa is hoër en kalwers ervaar laer morbiditeit en mortaliteit omdat hulle nie aan speenskok ly nie.

Dit kan ook 'n positiewe of negatiewe prysmarge beïnvloed. Positief - dat die kalf per kilogram minder kos as die verkoopprys van die klaar gevoerde bees, of klaar voerkraal-voorbereide bees; negatief natuurlik andersom.

Positiewe voermarge beteken die koste van die voer om 'n kilogram aan te sit, is minder as die prys van die kilogram massa aangesit. Negatief is natuurlik andersom.

Vercueil sê daar is verskeie veranderlikes wat die winsgewendheid van voerkraalvoorbereiding bepaal:

• Groei in die veldfase.

• Voeromsettingsverhouding van die klaar voorbereide beeste in die voerkraal.

• Voerprys, die koste van weiding en die bestuur daarvan. Indien die voermarge hoog is, wil krale die beeste so lank moontlik voer. Indien die voermarge klein is, wil hulle die voerperiode verkort, die pryspremie verlaag en ook swaar kalwers koop. Hierdie voorberiding werk dan goed.

• Pryspremie wat vir kalwers betaal word. Dit sluit in die per kilogram prysverskil tussen die 220 kg-kalf en die 290 kg-kalf.

• Die verskil tussen die per kilogram pryse van 220 kg-kalwers en 290 kg-kalwers is ter sake. Voerkraalvoorbereiding is 'n tipe besigheid. Die mark bepaal die prys van albei kategorieë. As die prys vernou, maak die persoon wat dit toepas baie geld.

• Die “koste van toename” op die veld is baie belangrik.

Hy kom tot die gevolgtrekking dat die winsgewendheid van voerkraalvoorbereiding net so direk deur die lewendehawemark van verskillende tipes beeste en massa klasse beïnvloed word soos wat dit vir intensiewe voerkrale is. “Die ‘koste van toename’ moet goedkoper wees as wat dit vir 'n intensiewe voerkraal is, om suksesvol te wees.”

Deur voerkraalvoorbereiding toe te pas, word groter finale massas ook behaal en dus ook swaarder karkasse.

Maar, het Vercueil gewaarsku, "die regte tipe bees moet aangekoop word. Die hoër karkasmassa maak van beide die “background”-boer en die intensiewe voerkraal wenners. Daar bestaan sinergie tussen voerkrale en voerkraalvoorbereiding. Wees in albei.”



Mecki Schneider – Smoor verlaagde winste in die kiem



Mnr. Mecki Schneider, Namibië se eie megaboer, bedryf sy boerdery in die Grootfontein- en Okahandja-distrik.

Hy is reeds die derde geslag boer op die familieplaas Okamutombe naby Grootfontein en bekroonde brahmaanteler.

Sy oproep aan die boere was kort en kragtig: Om depressiewe gevoelens as gevolg van vele uitdagings te oorkom, moet boere bereid wees om dinge voortaan anders te benader en te doen. Sy raad was net so bondig: Fokus op dié faktore wat jy kan verander en verander dit so effektief moontlik. “Boerdery verg die mees strategiese bestuursbesluite van alle beroepe,” het hy opgemerk. “Soms moet ons die pas markeer, dan aanpas en dán kan ons weer die pas aangee.”

Schneider het verskeie uitdagings uitgewys wat hedendaagse boere in Namibië moet oorkom, waarna hy beginsels en strategieë voorgestel het waarmee winsgewendheid gehandhaaf en verhoog kan word.

Hierdie uitdagings sluit uiterste klimaatstoestande soos die afgelope droogte, die agteruitgang van weiland en bosdigting, operasionele kostes van boerdery, die inflasiekoers vir boerdery, pryse wat nie tred hou met uitgawes en laer pryse as in bv. Suid-Afrika in. Daarby het hy ook regeringsregulasies ten opsigte van bemarking en hul regulering van die Meatco-bedryf, streng veeartsenykundige voorwaardes, en die uitbreek van siektes genoem.

Die konflik tussen wild- en veeboerdery en verliese aan vee as gevolg van die teenwoordigheid van roofdiere, onsekerheid rondom die voorgestelde evaluasies en die val van die Angolese mark, bemoeilik sake verder.

Volgens hom het die winsgewendheid van veeproduksie sedert 2006 sodanig afgeneem dat beesboere jaarliks 8,6% meer effektief moet boer om dieselfde winsgewendheid te handhaaf, en skaapboere 2.5% meer.

Sy raad om dié faktore teen te werk, begin met 'n positiewe gesindheid en eerlike voorraadopname oor metodes wat werk of verbeter kan word. “Beoordeel jou risiko’s, beperk uitgawes, streef na maksimum doeltreffendheid en fokus op aspekte waaroor jy beheer het.”

Schneider het gesê dis belangrik dat boere al die fasette van veeboerdery, naamlik die hele siklus van sonlig en energie wat saam met water, grond en weiding in produkte op die verbruiker se bord omskep word, goed moet verstaan en hoe om hul insette daarvolgens te bestuur.

In geheel moet bestuursvaardighede verbeter word, tegnologie en nuwe ontwikkelings korrek aangewend word en finansiële reserwes opgebou word. “Boere moet vertikaal en horisontaal hul posisie in die waardeketting uitbrei – neem jou produk self verder,” het hy aangeraai.

Hierin speel sinergie en samewerking 'n belangrike rol, en gesindheid, talent en kennis is selfs belangriker as kapitaal.

Verder het hy heelwat praktiese advies ten opsigte van onder meer reënvalmonitering, grondbewaring en die bewaring van vog in die grond, beter grasdekking, bekamping van erosie asook oorbebostheid gegee.

Hy beskou goeie rekordhouding as onontbeerlik vir 'n suksesvolle boerdery. “Reënval, kalwers se aankoms, die gebruik van kampe, sterftes, en allerhande waarnemings behoort sommer in 'n sakboekie aangeteken en later op rekenaar gestoor te word,” het hy aangeraai. Goeie finansiële bestuur moet sinvolle begrotingsbestuur insluit en personeelbestuur moet genoeg aandag kry, aangesien laasgenoemde een van die boer se duurste uitgawes is. “'n Toegewyde arbeidsmag is die boer se beste wapen en vertroue en respek verseker sukses. Opleiding is belangrik vir persoonlike groei en werksbevrediging,” het hy gesê.

Die verhoging van 'n kudde se genetiese kwaliteit is volgens hom die eerste stap in waardetoevoeging terwyl lidmaatskap en samewerking met landbou-organisasies veel tot 'n boerdery se sukses kan bydra.

“Ons moet revolusionêre leiers wees,” was sy slotwoord.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!