Megaboer Cobus toor met aartappels, uie

Aartappels, uie, mielies, pampoene en skape – die Coetzee’s van Bombay se hande staan vir niks verkeerd nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh

“‘n Aartappel is ‘n moeilike ding. Dit hou jou op jou knieë, jy weet nooit wat om te verwag nie.”

Só sê Cobus Coetzee oor raad vir nuwe boere wat ook graag tot dié groentebedryf wil toetree. Hulle moet klein begin, sê hy.

Agri Monitor het hom en sy vrou, Gaylene, die afgelope week op hul plaas Bombay, wat in die Abenab-gebied tussen Tsumeb en Grootfontein geleë is, besoek. Toe het hy reeds sy uie-oes afgehandel, maar was nog besig met die aartappel-oes.

Coetzee word deur die Namibiese Akkerbouraad (NAB) as ‘n mega-aartappel- en -uieprodusent in Namibië gelys.

Die Coetzee’s plant jaarliks sowat 60 hektaar (ha) aartappels onder besproeiing asook tot 60 ha se uie. Verder produseer hulle pampoen op 12 ha, 100 ha se droëlandmielies, asook tussen 30 ha en 40 ha se mielies onder besproeiing. Hulle het ook ‘n skaapboerdery en sal vanaf volgende jaar ‘n eerste sitrus-oes, in die vorm van naartjies en lemoene, kan lewer.

Coetzee sê hy oes sowat 50 ton aartappels per ha. “Die meeste hiervan word plaaslik, of in Windhoek gelewer. Ons het ons eie afleweringsvragmotor en verpak die aartappels volgens die kliënt se vereistes in 3 kg-, 7 kg- en 10 kg-pakke.

“Wat uie betref – nie elke jaar is ‘n sukses nie. Namibiërs eet nie baie uie nie en dus lewer ons net ‘n klein persentasie plaaslik. Die res word uitgevoer,” het hy verduidelik.

“Baie word uitgevoer Angola toe, afhangende van marktoestande in Windhoek.”

Hy sê groenteprodusente word goed deur die regering ondersteun, wat die grense sluit sodat plaaslike produksie opgekoop kan word wanneer plaaslike produksie groot genoeg is. “Dit help ons baie.”

Hy het aan Agri Monitor gewys hoe aartappels vanaf die lande in sy pakstoor gewas, gesorteer, geweeg en verpak word. Dit word onder die handelsnaam Lanzo verkoop.

“As die aartappels of uie die plaas verlaat, is dit ‘n finale produk, gereed vir die huisvrou of man op straat om te koop.”

TYDSGEBONDE

Coetzee sê hy maak van ondergrondse water vir besproeiing gebruik en moet volgens waterkwotas werk, maar dat daar genoeg vir sy behoeftes is.

Coetzee sê hy kan sekere tye van die jaar, in die reënseisoen, nie plant nie. “Ons het ‘n swaar tipe grond, nie sanderige grond nie. Dit maak die proses moeiliker, veral as dit reën en jy nie beheer het oor hoeveel water die groente kry nie.”

Hy oes dus sy laaste aartappels in November en plant eers weer ná die reënseisoen verby is.

“Ons oes tweemaal per jaar aartappels. Die mielies plant ons natuurlik vanaf November tot Desember en die uie is ‘n wintergewas. Dit plant ons in Januarie of Februarie en haal dit in die winter uit.

Coetzee sê aartappels groei 110 dae, dan laat jy die plantjie afsterf sodat die aartappel se skil hard kan word en kan set. “As die skil te sag is, kom hy af as hy gewas of hanteer word.”

Hy sê ook Namibiese produsente is nie net prysnemers nie, maar kan met kopers onderhandel en op pryse ooreenkom.

“Ons het nie ‘n markstelsel in Namibië nie. Ons vat dikwels Johannesburg of die Kaap se pryse en voeg vervoerkoste by.” Coetzee se raad aan nuwe produsente is om eers klein te begin.

NASIONAAL

Die Karstveld, waar Coetzee boer, is die grootste produsent van aartappels en sal na verwagting tussen Augustus en Desember vanjaar 4 956 ton produseer.

Verder produseer dié gebied asook Namibië se sentrale gebiede die meeste uie. Eersgenoemde gebied sal na verwagting vanjaar vanaf Augustus tot 31 Desember 3 523 ton uie produseer, en die sentrale gebied 3 513 ton.

Na verwagting sal Namibië tussen 1 Augustus en 31 Desember altesaam 5 449 ton aartappels produseer, asook 7 679 ton uie en 2 228 ton kool.

Naas aartappels is uie die groente wat plaaslik die meeste verbruik word.

BESKERM

Aartappels en uie is twee van verskeie groentesoorte wat in Namibië spesiaal beheer word. Dit behels dat die akkerbouraad die plaaslike produksie hiervan monitor en sodra daar genoeg vir plaaslike verbruik is, word die grense vir invoere gesluit.

Volgens die NAB ervaar Namibië ‘n oorproduksie van uie in die produksie-seisoen, wat tussen Mei en Desember is. Daarna is daar weer ‘n tekort aan uie tussen Januarie en April, waartydens uie ingevoer word. Die surplus uie word meestal na Angola uitgevoer.

Namibië het in Augustus sy grense vir die invoer van onder meer botterskorsies, kool, uie en pampoen gesluit. Die grens is ook vir die eerste twee weke van Augustus vir aartappelinvoere gesluit.

Plaaslike groenteboere word verder deur die markaandeel-bevorderingskema (MSP) beskerm, ‘n stelsel waardeur Namibiese handelaars verplig word om ‘n vasgestelde persentasie (tans 47%) groente van plaaslike produsente aan te koop voordat hulle invoerpermitte kan kry.

Dié stelsel is ingestel om binnelandse produksie te bevorder en invoerafhanklikheid te verminder. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!