Meidag sonder fut gevier
Ronelle Rademeyer
Die regering se amptelike Werkersdagvieringe gister in Katutura is nie net swak deur die publiek bygewoon nie, maar werkers is ook anders as verwag nie deur pres. Hage Geingob self toegespreek nie.
Die sekretaris-generaal van Swapo, me. Sophia Shaningwa, het twee ure nadat die staatshoof volgens die program die sleutelrede moes lewer, namens hom sy voorbereide Meidag-toespraak voorgelees.
Jana-Mari Smith van Republikein se susterkoerant Namibian Sun berig geen verduideliking is vir Geingob se afwesigheid verstrek nie.
Intussen het werkers met groter geesdrif by die viering van Meidag deur die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) in Kuisebmond op Walvisbaai opgedaag, berig Leandrea Louw.
Mnr. Petrus Nevonga, 'n uitvoerende lid van NUNW, het plaaslike en streeksleiers daarvan beskuldig dat hulle hierdie saamtrek van werkers geboikot het. Hy het aan die meer as 200 mense gesê die burgemeester van Walvisbaai, mnr. Immanuel Wilfred, en die Erongo-streekraadslid, mnr. Hafeni Ndumula, is genooi om die werkers toe te spreek.
In 'n WhatsApp-boodskap wat Dinsdag die ronde gedoen het, is aangevoer die saamtrek op Walvisbaai is gereël om die amptelike vieringe in Windhoek waar die president sou optree, te boikot.
“As 'n vakbond besluit ons waar Meidag gevier sal word en ons doen dit sonder inmenging. Ons vra nie toestemming van enigiemand oor hoe dit gevier word nie,” het hy gesê. “Ons het ons president (mnr. Albert Liswaniso) genooi om die werkers in Windhoek by die hoofsaamtrek toe te spreek. Ons het geen voorneme hoegenaamd gehad om die hoofverrigtinge te boikot nie. Diegene wat beplan om die president (Geingob) te laat faal, laat hom nie faal nie, maar die werkers. Ons wil hom liewer in sy pogings ondersteun. Dit is belangrik dat ons saamstaan en as 'n span vorentoe beweeg,” het Nevonga gesê.
Geingob het in sy toespraak hulde gebring aan die land se werkers “as die hoeksteen van die gemeenskap” en hulle bedank vir hul harde werk en patriotisme.
Verder het Geingob opnuut op die geskiedkundige “strukturele wanbalanse” in die samelewing verwys en gesê “herverdeelde welvaart is ononderhandelbaar”.
Soos in sy staatsrede, het hy weer beloof dat die regering pogings versnel om die Namibië Gelyke Ekonomiese Bemagtingsraamwerk (Neeef) te finaliseer. Volgens Geingob is hy dankbaar teenoor private instansies wat gehoor gegee het aan die regering se bemagtingsversoek, en skemas vir werkersdeelname begin het.
Hy het op die verskeie vorme van ekonomiese krisisse in die wêreld gewys en gesê dit het 'n direkte impak op Namibië se ekonomie en ook sy arbiedsmark. “Dreigemente van afleggings deur multinasionale maatskappye en buitelandse beleggers maak werkers angstig. Ons verstaan dit en daarom glo ons in gereelde gesprekvoering tussen die regering, vakbonde en werkgewers,” het Geingob gesê.
Verder het hy benadruk ekonomiese groei kan nie sonder die invloed van direkte buitelandse beleggings (FDI) plaasvind nie, aangesien “die plaaslike ekonomie eenvoudig te klein is om van ondernemings te verwag om die totale las te dra”.
Die staatshoof het daarop gewys dat buitelandse beleggers op “ons voorwaardes” na Namibië moet kom en nie die land se behoefte aan hierdie beleggings as 'n teken van desperaatheid moet sien nie.
Hy het gewaarsku dat buitelanders die waardigheid en integriteit van Namibiese burgers en veral die werkers moet eerbiedig, en gesê wreedheid en brutaliteit deur buitelandse sowel as plaaslike werkgewers sal nie geduld word nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie