Meisies word kans op onderrig ontneem

Yakira Stanley (19) maak 'n verskil in jong meisies se lewens; een sanitêre doekie op 'n slag.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Meisies moet skoolgaan sodat hulle onderrig kan ontvang om môre se leiers te kan wees. Hulle moet nie van die skool af wegbly net omdat hulle menstrueer en nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Omdat hulle bang is die items wat hulle gebruik, is nie veilig nie en hulle deur hul klere kan bloei.

“Hulle het 'n reg om opleiding te ontvang en in die skool te kan bly sonder maandelikse onderbrekings,” het Yakira Stanley (19), die stigter van Innergirl Foundation, gesê.

Yakira maak 'n verskil in jong meisies se lewens; een sanitêre doekie op 'n slag.

Sy het in April in 'n nuusuitsending gesien die regering gaan nie meer BTW op sanitêre produkte hef nie.

“Ek het vir my ma gesê ek dink dis 'n goeie idee, maar die items moet eintlik verniet wees en dat ek wil help. Sy het gesê ek het die platform en kan bewustheid skep. Dieselfde dag het ons 'n plakkaat ontwerp en gedruk.”

Sy het haar idee om 'n inkopietrollie by die ingang van winkels te los waarin mense sanitêre produkte kan plaas, aan verskeie winkelbestuurders voorgelê. Dié produkte word dan aan meisies uitgedeel.



VRYMOEDIGHEID

“Hulle was baie opgewonde en vandag is daar trollies by omtrent tien winkels. By sommige winkels kan ek elke tweede week 'n vol trollie gaan oplaai; by ander winkels gaan dit stadiger.”

Haar eerste skenking het sy in Groot Aub gemaak. Dit was vir die meisies van die gemeenskap en tussenin gee sy ook elke maand vir drie skole in Windhoek sanitêre produkte.

“Ek hou daarvan om self die skenkings aan die meisies te oorhandig en sodoende kan ek 'n band met hulle vorm. Meisies is baie selfbewus en praat nie sommer oor menstruasie en die probleme wat hulle ondervind nie. Ek dink my ouderdom is 'n groot voordeel en hulle maak makliker teenoor my oop en ons kan met mekaar praat, hulp en raad gee.”

Yakira vertel van 'n jong meisie wat na haar toe gekom het omdat sy nie geweet het wat 'n sanitêre doekie is of hoe om dit te gebruik nie.

“Die meisie het my eenkant toe geroep en my gevra. Ek het vir haar verduidelik en ná ek die produkte uitgedeel het, het sy op die verhoog gaan staan en vir haar skoolmaats vertel hoe en wanneer om die produkte te gebruik en dit het my hart geroer. Sy het geluister en ek kon haar help.”

Dis 'n ingesteldheid by Yarika om te gee. Haar ouers het haar dit van kleintyd af geleer.

“Ons is almal gelyk en ek is nie beter as die volgende persoon nie. Dis hoe ek grootgemaak is. By my vorige skool het ons talle uitreikprogramme aangebied en elke keer wanneer ek iemand kon help, het dit my nederig gemaak. As ek kan help, sal ek dit doen.”

Sy hoop dat Innergirl Foundation van krag tot krag sal gaan en die regering kennis sal neem van die impak wat die stigting in dié meisies se lewens maak.

“Sanitêre produkte moet gratis aan die meisies beskikbaar gestel word sodat hulle in die skool kan bly en onderrig kan ontvang.”

Aan die begin het sy en haar familie baie van hul eie geld gebruik om sanitêre produkte te koop.

“Dit was die 'one man Stanley team'. Nou het ek nog drie vriende van my ouderdom wat my help en ek kry skenkings van korporatiewe instansies soos Old Mutual en Bank Windhoek wat baie help.

“Saam kan ons 'n groot verskil in talle meisies se lewens maak.”

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!