Mej. Namibië se tasse vir Filippyne gepak

Dis harde werk om aan 'n internasionale skoonheidskompetisie deel te neem.
Estelle de Bruyn
Jacqueline Louw en Estelle de Bruyn - Mej. Namibië, Lizelle Esterhuizen, vertrek volgende week 11 Januarie na Malila in die Filippyne om aan die gesogte Mej. Heelal-kompetisie deel te neem.

Die kompetisie vind van 14 tot 30 Januarie plaas.

Die Namibiese skoonheid, wat in Julie verlede jaar as Mej. Namibië gekroon is, sal met meisies van nagenoeg 90 lande regoor die wêreld meeding om die Mej. Heelal-kroon.

Gedurende die kompetisie sal die meisies vir fotosessies gaan, liefdadigheidsorganisasies ondersteun en wys of hulle die heelal in die komende jaar sal kan verteenwoordig.

In ‘n onderhoud met Republikein het Lizelle vertel hoe sy gereed gemaak het vir die groot geleentheid.

Voorbereiding

“Die voorbereiding vir Mej. Heelal is geweldig intensief. Eerstens is dit baie belangrik dat elke deel van my lyf goed versorg moet wees. Ek het baie daarop gefokus om my hare, naels en vel mooi te maak.

“Ek het geleer om my hare en grimering self te doen, aangesien ek dit by die kompetisie self moet doen. Dit is ook baie belangrik dat my lyf ferm en soepel moet wees en ek het lang ure in die gimnasium deurgebring om seker te maak my lyf lyk goed in die swembroeke.

“Ek het ook klasse bygewoon om seker te maak dat ek vlot, gemaklik en met oorgawe voor ‘n gehoor kan praat. Ek moes leer hoe om met grasie op te tree en ander ook met grasie te behandel."

Oor hoe sy die wêreld van Namibië se unieke eienskappe bewus wil maak, het Lizelle gesê: “Die beeld wat ek wil uitstraal is dat ons nie primitief is nie en dat ons ook op die hoogste vlak kan deelneem en sukses kan behaal.”

‘n Hele klerekas vir die kompetisie reis saam met Lizelle Filippyne toe.

“Ek het ongeveer 55 dag-uitrustings, wat rompe, broeke, rokkies, bloesies en broekpakke insluit. Afgesien hiervan het ek ook sewe aandrokke wat asemrowend mooi is. Elke uitrusting is spesiaal vir my liggaamsbou ontwerp en pas ook spesifiek by my gelaatskleur. Ek het met die bekende ontwerper, Casper Bosman, van Bloemfontein, gewerk,” vertel Lizelle.

Bloemfontein sit hand by

“Ek het vir Casper lank dopgehou – veral omdat hy Mej. Suid-Afrika, Rolene Strauss, se ontwerper was toe sy Mej. Wêreld geword het. Hy is eenvoudig die beste. Ek het geweet as ek ernstig hieroor is, moet ek die beste hê om my te help,” het sy in 'n onderhoud met die aanlyn-publikasie Getit gesê.

Terwyl Lizelle in Bloemfontein die fynere kunsies van hoe om ‘n skoonheidskoningin te wees onder die knie gekry het, het die webtuiste hhtp://bloem.getitonline.co.za ‘n onderhoud met haar gevoer en pragfoto’s van haar gepubliseer.

Die webtuiste beskryf Lizelle as “lank, lenig en eenvoudig lieflik. Op 20-jarige ouderdom beskik sy reeds oor baie sterk dryfkrag. Sy wéét wat sy wil hê.”

Modeontwerper Casper Bosman het in 'n onderhoud aan Getit gesê: “Jy bepaal jou eie brand, en jou voorkoms en manier van praat bepaal ‘n groot deel van jou sukses."

Hy help elke dag vir Lizelle telefonies met haar klerekeuse en haar- en grimeerstyl.

'Glam Squad'

Om haar opleiding af te rond, het Casper ‘n sogenaamde “glam squad” vir Lizelle saamgestel.

Anri Powell, direkteur van ACE Models, het met Lizelle se kameravoorkoms en loopplanktegnieke gehelp; Michelle Reinders van In the Mood het gesorg vir Lizelle se hare en haar geleer om dit self te stileer; Elizma Loftus het vir Lizelle geleer om haar grimering foutloos te doen, Riaan le Roux Gerber het gesorg dat Lizelle fiks en gespierd is met sy Body20-program, en die voormalige Mej. SA, Tatum Keshwar, het vir Lizelle gehelp met wenke vir so ‘n strawwe kompetisie.

“Min mense besef dit, maar daar is lande wat sogenaamde ‘pageant schools’ het waar hulle meisies van kleins af oplei om aan skoonheidskompetisies deel te neem. Dit is tweede natuur vir hulle. Ons moes basies binne twee weke vir Lizelle alles leer wat daardie meisies ‘n leeftyd geneem het om te leer,” het Casper aan Getit gesê.

Sy gee om

Tydens haar termyn as Mej. Namibië werk Lizelle nou saam met Meals-on-Wheels om kos aan bejaardes te verskaf. Voorts wil sy graag help om die standaard van onderrig in Namibië te verhoog omdat dit haar na aan die hart lê.

Die publiek kan Lizelle se ervaring op sosiale media volg en ook vir haar stem. Hier volg die besonderhede:

Facebook: Miss Universe Namibia 2016 of Miss Namibia

Instagram: missuniversenamibia2016

Twitter: Miss UniverseNamibia

Hou ook sosiale media dop vir die kompetisie se uitsaaitye.

Lizelle het haar dankbaarheid teenoor almal wat bydraes gelewer het en finansiële ondersteuning aan haar gegee het, uitgespreek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!