‘Meld misgeboortes aan’

Soveel as 140 koeie uit een kudde naby Windhoek het misgeboortes ervaar en skynbaar is daar geen doeltreffende behandeling of voorkoming hiervan nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Dit is nie duidelik waarom die bakterie Enterococcus casseliflavus skielik wydverspreide misgeboortes onder koeie in die Windhoek-omgewing veroorsaak nie, maar sekere boere het al tot 140 spontane aborsies in hul kuddes ervaar.

Die Windhoekse veearts, dr. Ansel Voigts, wat nou saamwerk met boere, laboratoriums en ander veeartse wat die rede vir die groot getal misgeboortes wil vasstel, sê sover weet hy van 10 tot 15 plase wat tans deur die vlaag aborsies onder koeie geraak word.

Die plase wat geraak word, lê ook meestal oos van Windhoek en vind tipies onder koeie plaas wat drie tot ses maande lank dragtig is, het hy aan Die Boer gesê.

“Daar is waarskynlik meer plase waar dit gebeur, maar ons weet nie daarvan nie omdat alle boere dit moontlik nie aanmeld nie.

“In die ergste geval het ’n boer 140 aborsies op sy plaas gehad. Dit beteken al sy kalwers is daarmee heen.”

VRAAGTEKENS

“Die Enterococcus casseliflavus-bakterie is ’n opportunistiese agent as dit by reeds bestaande infeksies kom en is meestal ’n sekondêre kiem wat toeslaan waar die immuunstelsel reeds verswak is.”

Hy sê hulle weet nie hoekom die bakteriese infeksie tans aborsies veroorsaak nie en ook nie hoekom dit juis vanjaar gebeur nie, maar is tans besig met ’n intensiewe ondersoek daarna. Volgens hom is daar tans selfs veeartse uit Suid-Afrika betrokke om te probeer vasstel wat aangaan.

Voigts sê daar is nie doeltreffende behandeling teen die bakterie nie en dat die infeksie daarvan in ’n kudde nie voorkom kan word nie.

“Geen voorkomingsmaatreëls kan getref word nie. Terselfdertyd blyk dit dat dit ook nie doeltreffend is om die hele kudde met antibiotika te spuit nie.”

Voigts sê die bakterie kom algemeen in die natuur voor en word dikwels in water, die grond, plante en diere gevind.

“Dit kan ook lank in diere se liggame aanwesig wees en dan ewe skielik uitbreek en probleme veroorsaak en byvoorbeeld in die baarmoeder vestig. ’n Baie soortgelyke bakterie kom ook soms in die stoelgang voor en kan diarree veroorsaak – maar dié bakterie is nie heeltemal dieselfde nie.

“Die oomblik as die koei egter aborteer, word die omgewing opnuut weer met die bakterie besmet.”

Voigts sê tot dusver het hulle net die aborsies onder beeste opgemerk. “Ons weet nie of wild dalk ’n rol in die verspreiding daarvan kan speel nie. Dit bly ’n ope vraag hoe die probleem van die een plaas na die volgende versprei.”

GEEN ANDER SIEKTES

Die Namibië Landbou-unie (NLU) het in ’n onlangse nuusbrief geskryf dat die verliese tussen vyf en 128 koeie geraak het en dat verskeie monsters reeds na onder meer die Sentrale Veterinêre Laboratorium (SVL), Onderstepoort in Suid-Afrika, asook na Path Care in die Kaap gestuur is.

Afgesien van die identifisering van die Enterococcus casseliflavus-bakterie, is die toetse negatief vir ander bekende geslagsiektes wat dikwels misgeboortes veroorsaak.

Volgens die NLU verskil die simptome, maar een daarvan is dat koeie ’n hoë koors het voor hulle aborteer.

MELD DIT AAN

Veeartse vra dat boere dit by hul naaste veearts, die SVL of staatsveearts aanmeld as hulle enige spontane aborsies onder hul koeie ervaar.

“Dit is van groot belang dat die omvang van die probleem vasgestel kan word en soveel moontlik monsters ingesamel kan word. Ons maak nie enige plase toe nie, as boere dalk bang daarvoor is. Alle inligting word ook vertroulik hanteer,” het Voigts gesê.

WANNEER IS DIT MISGEBOORTE?

Misgeboortes word gewoonlik gedefinieer as wanneer ’n koei geboorte gee aan een of meer kalwers tussen 50 en 270 dae van dragtigheid. Die kalf is gewoonlik dood of leef vir korter as 24 uur.

In die praktyk word misgeboortes soms misgekyk as dit in die tweede of derde maand plaasvind en eers opgemerk as die koei weer op hitte kom of nie kalf nie. Dus word dit eers as ’n misgeboorte gereken as ’n koei ná 120 dae spontaan aborteer.

Die meeste kuddes het 'n misgeboorte koers van ongeveer 1 tot 2% en 'n enkele spontane aborsie is geen rede vir kommer nie. 'n Jaarlikse misgeboortesyfer van meer as 5% word beskou as die punt waar boere moet intree – of wanneer ’n groep koeie almal tegelykertyd aborteer.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!