Mele gedy as halte by Spreetshoogte

Vir die tweede artikel in die reeks oor padstalle, het Die Boer besoek afgelê by 'n halfweghalte op die grens van die Namib.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Aan die soom van die sentrale platorand, kort voor 'n mens by Spreetshoogte in die Namib afsak, is 'n halfweghalte wat in die bietjie meer as twee jaar van sy bestaan 'n gewilde stilhouplek vir toe­riste geword het.

Mele, wat 'n afkorting is vir “Make, Eat, Love, Enjoy”, behoort aan Sonia en Ronald Rabie van die plaas Alberta.

Ek en manlief hou op 'n koue Saterdagoggend voor Mele stil, en loop ons binne in kennisse van Windhoek vas. Nie lank nie, of nóg Windhoekers hou daar stil.

Vrolik beduie Sonia ons moet solank buite by een van die tafeltjies gaan son soek terwyl sy die koffie en appeltert gereed kry.

Sonia sê sy wou eintlik al tien jaar gelede met 'n padstal begin het, maar haar twee dogters, Rolae (24) en Moonyeen (21), was toe nog in Windhoek op skool en hulle buitemuurse programme het haar naweke te besig gehou. Sy self is 'n kranige ruiter wat in daardie stadium dikwels naweke perdesport beoefen het.

In Mei 2018, met die kinders uit die skool en die droogtenood groot, het Mele beslag gekry.

Sonia maak die meeste van die produkte by die padstal self. Sy bak be­skuit en koekies, maak biltong en droë­wors en lê allerlei lekkerhede in.

Verder maak sy en Zelma Kaurianga van Windhoek ook pragtige handsakke, rugsakke, kussings en ander produkte uit leer, gekombineer met grofgeweefde telstiel soos badmatjies wat hulle opknip.

Sonia boer ook met skilder- en Ovambo­bokke en gebruik van die gelooide velle, wat ewe interessant as dié van Nguni-beeste is, om items te maak. Sy is die eienaar van die Rabie Skilderbok-stoet. “Ek is sover ek weet die enigste een wat handsakke uit dié verwerkte velle maak.”

Sy sê voor die grendeltyd afgekondig is en die reisverbod in werking getree het, het gedurende die week gereeld busse met toeriste by die padstal stilgehou. “Nou is die padstal in die week doodstil en is dit nie eens die moeite werd om oop te wees nie. Naweke is ek wel baie besig wanneer mense van Windhoek en elders af lodges in die Namib besoek.” Namibgrens, die gasteplaas van haar swaer, John Rabie, is digby Mele geleë.

Sonia doen moeite om interessante kunsvlyt te koop, en hou ook ongewone tuisgemaakte produkte soos turksvystroop aan.

Sy glo padstalle bied 'n goeie afset vir die produkte van plaasvroue uit die omgewind. “As daar boervroue is wat padstalle wil begin, sal my raad wees om dit saam met ander vroue aan te pak. My raad is ook om produkte aan te hou wat mense nie sommer in winkels sal kry nie.

“Omdat die afstande tussen plekke in ons land groot is, maak padstalle die roete interessant. Dit is lekker om langs die pad by so plek stil te hou; dit voel mos sommer soos vakansie.”

Sy wys daarop dat handgemaakte items toenemend gewilder word en moedig mense wat handig en kunstig is aan om hul inkomste met kunsvlyt aan te vul.

“'n Mens groei in swaar tye, 'n mens groei nie in goeie tye nie. Jy leer planne maak as jy swaarkry,” sê Sonia.

*Mense wat met Sonia wil kontak maak, kan haar bel by 081 221 7986. Hulle kan ook Mele se Facebookblad besoek.

As jy 'n padstaleienaar is, stuur gerus vir ons inligting na [email protected].

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer