Melkbedryf stort in duie
Die Boer het besoek afgelê op die melkplaas van die voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging, Kokkie Adriaanse.
Ronelle Rademeyer - “Met die Mariental-vloed van 2000 het ek 280 koeie gemelk wat tussen 8 000 en 9 000 liter melk per dag gelewer het. In daardie jaar was daar 45 melkboere in die land.
“Van toe af het dit begin wankelrig gaan in die bedryf. Met die vloed in 2006, het ek hier op Kachas al reeds minder gemelk.”
So gesels Kokkie Adriaanse (52), voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging (SVP), vroeër vandeesmaand op sy 240 ha hoewe op die oewer van die Visrivier digby Mariental.
Daar waai ’n geniepsige kouefrontwind uit die Suide toe ek op 10 Oktober op Kachas se netjies werf stilhou. Kokkie en sy vrou, Elzeth (51), maak gereed vir ’n besoek aan sy plaas by Karasburg, die wêreld waar hy grootgeword het. “Pa Josef het op die plaas Khais, wat maar 3 000 ha is, met karakoele geboer en nie gesukkel om sewe kinders groot te maak nie,” sê Kokkie.
Die gebeure in 2020 was die laaste strooi wat die kameel se rug gebreek het. Of liewer: dit is juis die gebrek aan strooi, of ruvoer, wat die melkbedryf hierdie jaar geknak het.
“Ons ellende het begin toe die Hardapdam se krane op 27 Januarie vanjaar toegedraai is. En later toe dit begin reën, kon die kanaal vir omtrent ses weke nie gebruik word nie omdat herstelwerk daaraan gedoen moes word.
“Dit het beteken dat ons nie lusern en ander voer kon plant om ons deur die winter te vat nie. Van Mei tot Augustus moes ons al ons voer aankoop. En as gevolg van die inperkings en die verbod op drankverkope, kon ons nie brouersgraan by Namibia Breweries koop nie,” vertel Kokkie.
“Ek moes hierdie winter koeie slag om kostes te dek en melk nou net 155 koeie. As ek die end van Julie kon toegemaak het, sou ek dit seker gedoen het,” sê hy en vertel sy voerkoste het in die winter N$400 000 per maand beloop. Die brouersgis wat melkboere aankoop, kos N$1 200 per ton (op ’n droë basis) waar ander proteïenbronne N$4 000 per ton kos.
“Daar is nou net tien melkprodusente in die land oor. Elf, as ons die superplaas (van Namibia Dairies) by tel. Omtrent 80% van die melk wat aan Namibia Dairies gelewer word, kom hier van die Hardapskema af.
“Om jou ’n idee te gee hoe sleg dit nou gaan: In 2018 het ons 24 miljoen liter melk per jaar aan Namibia Dairies gelewer. Verlede jaar het dit teruggesak na 21 miljoen en hierdie jaar staan op so 16 miljoen liter melk.
“In 2018 het my voerkoste N$1,75 per liter melk beloop en hierdie jaar het dit gestyg na N$3,80 per liter. As al die produksiekoste in berekening gebring word, staan ons op so N$6,00 per liter. En ons lewer ons melk aan Namibia Dairies teen N$6,20 per liter.”
Kokkie sê melkboere het die laaste vier jaar ’n verhoging van net 10 sent per liter gehad.
VERGADERING MET MINISTER
Die melkbedryf het vroeg in Junie met mnr. Calle Schlettwein, minister van landbou, water en grondhervorming, in Windhoek oor sy krisis vergader.
Sê Kokkie: “Ek is eintlik baie positief oor die minister se siening. Hy het vir ons ’n paar opdragte gegee in terme van ’n voorlegging aan hom oor wat gedoen moet word om die bedryf te red.” Dit is tussentydse maatreëls tot die voorgestelde wetgewing vir die beheer van die invoer en uitvoer van suiwel- en suiwelvervangingsprodukte gepromulgeer word en in werking tree, verduidelik Kokkie.
Die bedryf was veronderstel om dié voorstelle op 23 Oktober aan Schlettwein voor te lê, maar die minister kon weens onvoorsiene omstandighede nie met hulle vergader nie, sê Leonie Prinsloo, besturende direkteur van Namibia Dairies.
Sy sê daar is besluit om die vergadering te herskeduleer vir Vrydag 30 Oktober. Dit sal by die Aimab-superplaas by Mariental gehou word.
Leonie sê die bedryf het “vir alle praktiese doeleindes” reeds in duie gestort. “Ons UHT-aanleg met sy toerusting van omtrent N$30 miljoen staan. Die hoeveelheid melk wat tans gelewer word, is nie genoeg om die aanleg kostedoeltreffend te bedryf nie.”
In September is net 150 000 liter langlewemelk by dié aanleg verpak, terwyl 800 000 tot 900 000 liter per maand nodig is om dit volhoubaar te bedryf.
Sy sê Namibia Dairies het reeds begin om langlewemelk op ’n kontrakbasis uit Suid-Afrika in te voer.
Aangesien die Namibiese melkprodusente hormoonvrye melk produseer, kon Namibia Dairies tot nou die hormoonvrye status van sy langlewemelk waarborg. Met die Suid-Afrikaanse ingevoerde produk, is dit nie meer moontlik nie. Maar, sê sy, Namibia Dairies maak seker ’n goeie gehalte produk word ingevoer.
Volgens haar gebruik Namibia Diaries nou die melk wat deur die handjie vol plaaslike produsente gelewer word om varsmelk te verpak en jogurt, Oshikandela en Omaere te vervaardig.
’n Moontlike manier om die plaaslike bedryf te beskerm, is om ingevoerde suiwelprodukte aan ’n heffing te onderwerp wat weer gebruik kan word om plaaslike produksie te stimuleer, sê Leonie.
Sy meen die bedryf kan só gered word, maar sê dit sal waarskynlik drie tot vyf jaar neem om produksie weer tot vroeëre vlakke te herstel.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie