Melkboere beur moedig voort

Die Suiwelprodusentevereniging (SPV) het tydens sy jaarvergadering op 17 Julie by Mariental sy voorste melkboere vereer.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Ondanks stygende insetkoste, krimpende winsmarges en dalende melkproduksie, beur die oorblywende suiwelprodusente in die land moedig voort.

Terwyl sowat 400 mense op 17 Julie die Persianer-saal by die skougronde op Mariental volgepak het om met pres. Hage Geingob oor hulle probleme te praat, het lede van die suiwelbedryf op Kokkie Adriaanse, voorsitter van die Suiwelprodusentevereniging (SPV), se plaas Kachas buite dié dorp hulle kritieke situasie bespreek.

Volgens mnr. Günther Ling, besturende direkteur van Namibia Dairies, is melkproduksie vanweë die droogte vanjaar 2% laer as verlede jaar.

Die bedryf bevind hom boonop te midde van die droogte in ’n kosteknyptang waar hoë veevoer- en brandstofkoste melkboere se inkomste opslurp en veroorsaak dat hulle nie geld maak nie.

Wat die bedryf verder frustreer, is dat die implementering van die wet op die beheer van die invoer en uitvoer van melk en melkprodukte steeds sloer, het Adriaanse gesê.

‘n Studie wat Dataspank verlede jaar vir die SPV en die Namibië Handelsforum (NTF) gedoen het, toon die plaaslike suiwelbedryf produseer 24 miljoen liter melk per jaar – soveel soos wat die Suid-Afrikaanse bedryf in drie dae produseer.

Verder bestaan die totale Namibiese suiwelkudde uit 3 000 diere terwyl daar individuele boere in Suid-Afrika is wat met soveel koeie boer.

Die studie is gedoen om te toon dit is onmoontlik vir Namibiese melkboere om te oorleef as produkte uit ander markte soos Suid-Afrika die land binnestroom.

Ten spyte van hierdie omstandighede is produsente positief en vrugtevolle besprekings het plaasgevind.

Interessante sprekers het kleur aan die dag verleen en praktiese demonstrasies is gedoen. Dr. Tom Tolmay het oor die algehele gesondheid van ‘n melkkudde gesels en Liza-Marie Taljaard se praatjie het oor die grootmaak van kalwers op Blossom-surrogaatmelk gehandel.

TOPPRODUSENTE

• Die Suiwelprodusent van die Jaar (Ekstensief) is Christo Lottering. Dirk van Wyk was tweede en Hennie van Niekerk derde.

• Die Suiwelprodusent van die Jaar (Intensief) is Christo Strydom, met Johan Aggenbach in die 2de plek en Peter Menne in die 3de plek.

• Produsent met die laagste bakterietelling: Dirk van Wyk

• Produsent met die akkuraatste vooruitskattingsyfers: !Aimab Superfarm

• Die beste kwaliteit melk is gelewer deur Dirk van Wyk.

Vanjaar se verrigtinge is deur Feedmaster, Namibia Dairies, Bank Windhoek (Mariental), Kaap Agri (Mariental), Polyoak Packaging en DeLaval geborg.

Kommentaar

Republikein 2024-12-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 20° | 32° Oshakati: 22° | 31° Ruacana: 21° | 33° Tsumeb: 21° | 32° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 22° | 32° Gobabis: 19° | 33° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 24° | 34° Mariental: 24° | 36° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 21° | 34° Lüderitz: 16° | 27° Ariamsvlei: 25° | 39° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 18° | 23° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 15° | 23° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 17° | 34° Lilongwe: 23° | 34° Maputo: 21° | 29° Windhoek: 22° | 32° Cape Town: 18° | 28° Durban: 20° | 24° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!