Melkboere se laaste hoop
Die beskerming waarna die plaaslike suiwelbedryf smag, is onder bestaande wetgewing moontlik, maar is nog nie van krag nie.
Elvira Hattingh – Namibië se sinkende suiwelbedryf kan slegs gered word deur dringend bedryfsbeskerming in werking te stel.
In 'n data-ontleding word uitgewys hoedat beweerde produkstorting en roofpryse deur groot Suid-Afrikaanse korporasies 'n sterk aandeel in die plaaslike melkbedryf se agteruitgang het.
“Die voortbestaan van ons suiwelsektor hang nou af van die onmiddellike afhandeling van die opgedateerde wetsontwerp op die Beheer van Invoer- en Uitvoer van Suiwelprodukte van 2018.
“Dan sal Namibië die nodige langtermyn beskerming aan die bedryf kan bied,” het mnr. Anton Faul, 'n senior handelsadviseur van die Landbou Handelsforum, Vrydag op 'n mediakonferensie gesê.
Faul sê die beskerming waarna die bedryf soek, is moontlik onder bestaande wetgewing vir die suiwelbedryf, wat oor die afgelope sewe jaar opgedateer is, maar steeds nie volledig afgehandel is nie.
ROOFPRYSE
In 'n prysontleding deur die Namibië Landbou-unie (NLU) en Namibia Dairies is vasgestel dat Suid-Afrikaanse 2 liter vars melk teen net 38 sent duurder per liter op Namibiese rakke verkoop word.
Hierbenewens word die buurland se 1 liter langlewe of UHT-melk plaaslik teen N$1,50 méér verkoop.
“Dit sê vir ons hul vars melk word in Namibië teen roofpryse beskikbaar gestel, terwyl hulle met hul pryse vir UHT-melk hiervoor vergoed.
“Die 38 sent verskil betaal nie eens die vars melk se vervoerkoste Namibië toe nie,” sê mnr. Roelie Venter, die NLU se uitvoerende hoof.
“Namibië produseer nie self meer enige UHT-melk nie.
“Dié neiging wys ook vir ons indien geen melk meer in Namibië geproduseer gaan word nie, gaan dié verbruikerprys net styg, want dan is daar nie meer enige kompetisie nie. Dis baie duidelik wat hier aan die gang is,” sê hy.
NIE NET PRODUSENTE
Die NLU se me. Petrina Sakaria sê die belangrikste oorweging is nie die beskerming van 'n handjievol kommersiële melkprodusente nie, maar die uitwerking wat hul ondergang op die totale waardeketting sal hê.
“Vervoerders, lusernprodusente, die verpakkingsbedryf en diensverskaffers soos verkoelingsdienste is almal by dié ketting ingesluit,” het sy gesê.
Faul het gesê die SACU-handelsooreenkoms is net gedeeltelik in werking gestel en juis dit verhoed dat Namibië van voorsienings daarin gebruik kan maak om sy bedryf teen onregverdige praktyke soos storting of roofpryse van buite te beskerm.
“Die voorsienings is oor 'n tydperk van 17 jaar nog nie in werking gestel nie. Suid-Afrika blokkeer die uitvoering hiervan – want as een lidland nie met 'n SACU-besluit instem nie, kan nie daarmee voortgegaan word nie.
“Daarom moet ons plaaslike roetes vir ons beskerming oorweeg,” het hy gesê.
“Deel van die probleem is dat alle markte onder SACU as een mark beskou word. As 'n groot Suid-Afrikaanse onderneming dus sy produk teen dieselfde prys in beide Suid-Afrika en Namibië verkoop, is dit tegnies nie produkstorting nie.”
ENIGSTE ONBESKERMD
Venter sê alle ander netto-invoerbedrywe in die landbousektor geniet die een of ander beskermingskema of bemarking-aansporing – net nie die suiwelbedryf nie.
Hy sê dié beskerming help dat so 'n bedryf kan stabiliseer of selfs groei, soos gesien kan word in die groente-, pluimvee- en varkbedryf.
“Hierdie netto-invoerderbedrywe vervul twee belangrike rolle. Die eerste is dat dit invoere vervang, wat beteken minder geld vloei die land uit. Tweedens bied dit nodige kompetisie vir ingevoerde produkte.
“Die melkbedryf moet, soos ander netto-invoerbedrywe, ook beskerm word, of dit sal bloot tot niet gaan,” het hy gesê.
Me. Leonie Prinsloo, die besturende direkteur van Namibia Dairies, 'n filiaal van die Ohlthaver & List (O&L)-groep, sê hulle ervaar jare lank reeds enorme druk op hul voortbestaan en dat hierdie “'n nasionale katastrofe” is.
“Ons het onsself daartoe verbind dat ons vir die bedryf sal veg, maar is op ons knieë nadat ons reeds dringende maatreëls vir sakeredding moes instel, wat insluit die staking van oortyd en enige beleggings in infrastruktuur, terwyl ons opnuut oor die bepalings van al ons kontrakte moes onderhandel.
“Onlangs het ons so ver gegaan as om salarisse te sny. Ons sit nou weer met beleggers om die tafel om te sien wat meer ons kan doen om te oorleef,” het sy gesê en opnuut 'n beroep op Namibiërs gedoen om die plaaslike produksie te ondersteun.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie