Mengo lei grasgroen Beheerraad
Mengo lei grasgroen Beheerraad

Mengo lei grasgroen Beheerraad

Jason (Taks) Naule, oudkampioen op Afrika-vlak, is die enige raadslid met eerstehandse ondervinding in die bokssport.
Jesse Kauraisa
Sportredaksie – Groot vertroue word gestel in die grasgroen lede van die nuut aangewese Namibiese Beroepsboks- en Stoeibeheerraad (NPBWBC), waarvan die hokkie­legende Magreth Mengo – steeds aktief as die nasionale vrouespan se kaptein – voortaan die voorsitter is.

Die minister van sport, jeug en nasionale diens, me. Agnes Tjongarero, het gister soos deur die Sportwet bepaal die nuwe raadslede van die geknelde toesighoudende boksliggaam bekend gestel, wat vir die volgende drie jaar sal dien.

Die oudkampioen Jason Naule is die enigste voormalige bokser op die Beheerraad.

Naule het in sy beroepsloopbaan (2004 tot 2010) kortstondig hoogtes bereik deur die WBA se Afrika-titel as superliggewig te wen, voordat hy met 'n rekord van twaalf oorwinnings en vyf nederlae uitgetree het.

Naule is sedertdien agter die skerms aktief om te sorg dat amateurboks, as die voedingsbron van die sport, op 'n gesonde voet bedryf word.

Naule (bokssake) en Mengo se mederaadslede is Sebastian Shatuleni (dokter), Veruschka de la Harpe (regsake) en Irene Sheba (finansies).

Die 36-jarige Mengo het gister gesê: “Ek glo dit is belangrik dat ons voldoen aan die beginsels van eerlikheid en verantwoordbaarheid. Goeie en eerlike kommunikasie is deurslaggewende beginsels waaraan 'n raad moet voldoen.

“Die konsekwente en gelyke behandeling van alle bokspromotors en rolspelers is van kritieke belang vir die nuwe raad se bedrywighede.”

Die vorige Beheerraad wat in 2019 vir drie jaar aangestel is, het verlede jaar begin disintegreer toe Trevor Mills die eerste was om sy bedanking in te dien, waarna prokureur Saima Nghihalwa en Maria Pogisho ook gevolg het. Toe net twee lede oorbly, was die liggaam nie in staat om sy take uit te voer nie en op aanbeveling van die destydse voorsitter, dr. Bernard Haufiku, het minister Tjongarero die Beheerraad ontbind.

Tjongarero het gister die raadslede gelukgewens en aangemoedig om aan positiewe verandering te werk, tot voordeel van alle bokspromotors en rolspelers.

“Ek wil hê die nuwe raadslede moet weet dat die land se ou Bokswet al lankal uitgedien is.

“Ons ministerie is besig om die Sportwet te laat wysig en ek sal graag wil sien dat die nuwe Beheerraad ook in verbinding tree met diegene wat die wet moet wysig.

“Die Beheerraad moet in sy baan bly, anders veroorsaak dit probleme. Ons soek nie probleme nie.

“Die Beheerraad het in die verlede kwessies gehad omdat lede nie in hul baan gebly het nie.”

– Bykomende inligting deur Jesse Jackson Kauraisa, Namibian Sun


FOTO
Drie van die Boksbeheerraad se vyf lede gister was Sebastian Shatuleni (dokter), Magreth Mengo (voorsitter) en Jason Naule (bokssake). Die afwesige lede is Veruschka de la Harpe (regsake) en Irene Sheba (finansies). Foto Jesse Jackson Kauraisa

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!