Mensdom een 'vloermoer' weg van kernoorlog

Die wêreld is een “impulsiewe vloermoer weg” van die vernietiging van die mensdom, meen die internasionale veldtog om kernwapens af te skaf (Ican).

“Gaan dit die einde van kernkrag of van ons beteken?” het Beatrice Fihn, die stigter van Ican, Sondag gesê nadat sy die Nobel-vredesprys in Oslo, Noorweë, ontvang het, berig The Guardian.

Ican se doelwit is, volgens Time, om die wêreld se sowat 15 000 kernwapens te vernietig.

Die organisasie bestaan uit 440 vennote in 98 lande en is vereer vir hul pogings om die Verenigde Nasies (VN) se verdrag op die verbod op kernwapens te bevorder. Dit is onlangs afgehandel en sal 'n internasionale wet word nadat die 50 VN-lidlande toegestem het daartoe. Net drie lande – die Vatikaanstad, Guiana en Thailand – het volgens BBC so ver die verdrag bekragtig.

Gesprekke rakende die verdrag is geboikot deur die nege lande wat kernwapens het (Rusland, Amerika, Frankryk, China, Brittanje, Pakistan, Indië, Israel en Noord-Korea). Die enigste Navo-lid wat bereid was om dit te bespreek, Nederland, het daarteen gestem.

Jeffrey Feltman, die VN se adjunk-sekretaris-generaal vir ­politieke sake, het Noord-Korea verlede week besoek – 'n week nadat Noord-Korea hul gevorderde langafstandmissiel getoets het en Suid-Korea krygsoefeninge saam met Amerika uitgevoer het.

Hy het samesprekings met Ri Jong-ho, die Noord-Koreaanse minister van buitelandse sake, gevoer en hulle het volgens CNN “saamgestem dat die huidige situasie die mees gespanne en gevaarlike vrede- en veiligheidsprobleem ter wêreld vandag is,” luidens 'n VN-verklaring.

Feltman sê in die verklaring dat daar 'n “dringende behoefte is om misverstande te verhoed en kanale oop te maak om die gevaar van konflik te verminder”.

Hy lê klem daarop dat die internasionale gemeenskap ontsteld is deur die toenemende spanning en daaraan toegewy is om dit ­vreedsaam op te los.

“Tyd is belangrik,” sê hy.

Fihn het Sondag haar prys saam met 'n 85-jarige oorlewende van die Hirosjima-atoombom ontvang.

Setsuko Thurlow is in 1945 uit die puin van haar skoolgebou gered. Die meeste van haar klasmaats wat saam met haar in dieselfde vertrek was, is lewend verbrand.

“Spookagtige figure het verby geskuifel,” het sy Sondag vertel.

“Mense wat wreedaardig gewond was, wat gebloei het, wat swart, verbrand en geswel was . . .” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!