Mense na wie jy kan opsien
Estelle de Bruyn - Daar is helde en superhelde vir elke mens. In 'n mens se lewe ontmoet jy mense wat jou inspireer, oor wie jy in awe is.
As joernaliste ontmoet 'n mens rocksterre en kunstenaars, politici en humaniste wat ons voete onder ons uitslaan.
In my beroep het ek die voorreg gehad om verskeie van hulle te ontmoet.
Ek het hand geskud met oudpres. Nelson Mandela van Suid-Afrika, oudpres. Julius Nyerere van Tanzanië, die voormalige koning van Jordanië, Hussein bin Talal, die Zulu-koning, Goodwill Zwelithini, die popster Stevie Wonder, die tennisspeler Henri Leconte, altwee die Bush-presidente, Boris Jeltsin, Hosni Mubarak, aartsbiskop Desmond Tutu.
Ek het Bill Clinton, Dmitry Medvedev, Angela Merkel, Lech Walesa en Mikhail Gorbachev en vele ander in lewende lywe gesien.
Maar soms is 'n plaaslike politikus een van die uitsonderlikes wat jy onthou.
Iemand na wie ek werklik opsien, is mnr. Dirk Mudge.
Ek het hom in 1982 vir die eerste keer ontmoet. Ek het agter my boyfriend aan Namibië toe getrek en as vryskutjoernalis vir Perskor probeer oorleef. Ek het 'n onderhoud met mnr. Mudge, destyds aan die stuur van sake van die oorgangsregering, gekry en 'n dubbelbladonderhoud is in The Citizen in Suid-Afrika gepubliseer. Dit was ons eerste kennismaking.
Deur die jare het ek oom Dirk se loopbaan gevolg. In al hierdie tyd is daar net een woord waarmee ek hom assosieer: integriteit. Vir tannie Stienie: grasie.
Oor die jare was ek woedend vir oom Dirk en dan weer baie lief vir hom.
Maar hier is 'n man wat by sy woord staan. Iemand vir wie swart mense op straat, wanneer hulle hom herken, dankie sê.
Hoekom, vertel hy my, vra hy hulle.
Hy verwag die antwoord “omdat jy apartheid afgeskaf het, omdat jy die grondwet geskryf het”.
Maar nee, dis nie die antwoord wat hy kry nie: “Dis omdat jy ons as mense erken het.”
Oom Dirk en tannie Stienie was vir my dogter, 'n skoolmaatjie en vriendin van hul kleinkind, Nina, soos 'n oupa en ouma. Dankie daarvoor oom Dirk en tannie Stienie. Ek kan nooit genoeg dankie sê nie.
Ek het, toe ek by die SAUK gewerk het, Namibië toe gekom om op die plaas naby Otjiwarongo 'n onderhoud met mnr. Mudge te doen oor sy uittrede uit die politiek.
Dit was die tyd wat Suid-Afrika voorberei het vir die eerste demokratiese verkiesing. Dit het 'n storm in Suid-Afrika ontketen dat 'n verkose leier vrywillig die tuig neerlê.
Dankie, oom Dirk.
Jy het altyd die telefoon neergesit sonder om totsiens te sê.
Asof die gesprek sal aangaan.
Later.
Dit sal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie