Mense van die Suide is ons diamante
Mense van die Suide is ons diamante

Mense van die Suide is ons diamante

Tanja Bause
Hulle sê Lüderitz is die diamant van die suide van Namibië. Ek stem saam met dié gesegde en wil dit nog ’n stappie verder neem en sê die hele Suide, alles suid van Windhoek, is die diamant van die land.

Ek het onlangs met ’n week lange toer deur dié deel van die land weer besef inwoners van die Suide is opreg en noem 'n ding by die naam. Hier word nie doekies omgedraai nie.

Ek het by Duineveld gaan inloer, onder ‘n boom gaan sit en met die ystervroue van dié nedersetting gesels en gelag dat die trane loop.

“Duineveld is mos Basterhemel, hier sit ek nou al jare lank in Basterhemel en lewe lekker,” vertel Ouma Maria (83). Sy vertel van haar lewe op Gochas en die omliggende plase toe sy klein was en voordat sy haar man ontmoet het en Duineveld toe getrek het.

“Skryf in jou koerant my ma was baie stout in haar jong dae,” sê sy.

“Hoe nou, Ouma?” vra ek ietwat verward.

Ouma Maria bars uit van die lag en tussendeur sê sy: ”Kyk hoe lyk ek, my kind, ek is dan spierwit, my ma het van die wit manne gehou!”

Ouma Maria was op haar stukke.

“Ek het so baie kinders, as die laaste een vir my nag sê, sê die eerste een al weer môre!”

Sy het my ook in diepte vertel hoe bly sy is dat sy nie meer ’n jong meisie in vandag se lewe is nie.

“Die mans het mos nie meer respek vir die meisies nie. Alles is deurmekaar en die meisies moet net die hele tyd keer. In my dae is daar nog kers opgesteek en by ma en pa om die hand gevra. Daar was respek vir mekaar.”

Ouma Eva (92) vertel hoe sy haar man destyds op Karasburg ontmoet het.

“Ek het ’n baie streng pa gehad. Toe ek op 28-jarige ouderdom op Karasburg gewerk het, het ek altyd die jong, aantreklike man en sy pa by die winkel gesien. Die jong het vir my flikkers gegooi. Aanvanklik het ek nie geweet wat om te doen nie, maar kom ek sê maar net ons was vir baie lank baie gelukkig getroud,” vertel sy.

Ouma Eva vertel hoe sy skelm op die plaas moes rook, want sy wou nie hê haar skoonpa en skoonsusters moes weet sy rook nie.

“As ek in die oggende wakker geword het en sommer net kwaad vir die wêreld was, het my man in die kar geklim en gery om twak vir my te koop sodat ek net kan kalmeer en hy met my saam kan huishou,” het sy vertel. “Ek weet nie wat hy vir die mense gesê het nie oor hoekom hy al weer dorp toe moet ry nie, maar hy het gery.”

Op Keetmanshoop het ek nóg ’n Ouma Maria ontmoet wat verskillende soorte konfyte in haar huis kook en verkoop. Onder meer maak sy ook makataankonfyt, maar Ouma Maria noem dié konfyt op sy polities verkeerde naam.

“Nee, Ouma!” keer ek. “Makataan is nou die regte naam.”

Ouma Maria het verward na my gestaar en nadat ek verduidelik het dit is dieselfde vrug, maar net ’n ander naam, antwoord sy: “My kind, jy moet jou nie laf hou nie. As ek dié naam op my bottels sit, sal niemand hier in die lokasie die konfyt koop nie, want hulle sal nie weet wát hulle koop nie. So ek hou dit by die naam wat die mense van hier en ek ken. In elk geval is ek nou te oud om ander name vir dieselfde goed te leer.”

Sy voeg by dat sy die makatane op haar stukkie grond in die noorde van Namibië kweek en dit dan Keetmanshoop toe bring om te verwerk.

Die mense van die Suide het weer eens met hul reguit, oop, gasvrye manier diep in my hart geklim. Ek kan nie wag om weer by julle te kuier nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!