Mense van Koffiefontein kan nou self diamante myn
Kaydene Davids
Die gemeenskap van Koffiefontein in die Vrystaat hoop dat hul vennootskap met Petra Diamonds om op klein skaal op een van hul persele te myn, nie net ekonomiese bemagtiging sal teweegbring nie, maar ook maatskaplike verandering.
Só het Joseph Maqanda, voorsitter van die Koffiefontein Community Mining Primary Cooperative (CMPC) Donderdagmiddag gesê kort nadat 'n lisensie om op een van Petra se persele aan die buitewyke van die dorp te myn, aan hulle oorhandig is.
Die ooreenkoms tussen Petra Diamonds en die Koffiefontein-gemeenskap is die eerste van sy soort in die Vrystaat en laat dié mense toe om self te myn, die diamante wat ontgin word, te verkoop en die geld terug in die gemeenskap te ploeg.
Petra Diamonds sal die Koffiefontein CMPC onder meer met opleiding, veiligheid en ander aspekte van die mynbedryf help.
Honderde opgewonde inwoners van die dorp het saamgedrom toe Mangaliso Babu, van die Suid-Afrikaanse Reguleerder oor Diamante en Skaarsmetale, die lisensie aan Maqanda oorhandig het.
Maqanda sê hul harde werk was nie verniet nie en dat Donderdag 'n mylpaal in die dorp se geskiedenis is.
“Dit is die begin van groot dinge, maar met uitdagings. Ek doen daarom 'n beroep op die mense van Koffiefontein, die regering en Petra Diamonds om saam te werk en die uitdagings te pak soos dit kom.”
Richard Duffy, uitvoerende hoof van Petra Diamonds, sê dit is die begin van nuwe en groot dinge vir die Koffiefontein-gemeenskap. Hy hoop dat die ooreenkoms waarde tot die gemeenskap sal toevoeg.
“Dit kan suksesvol wees indien dit reg bestuur word, maar dan moet al die vennote saamwerk.”
James Calvert, 'n jarelange inwoner van dié myndorp, sê die inwoners se droom is eindelik bewaarheid, hoewel dit met tyd en swaarkry gekom het.
“My hart is bly. Die dag het uiteindelik aangebreek. Ek hoop dat dit ons dorp sal verryk en uit armoede red.”– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie