‘Mense wat jy liefhet, kan monsters wees’

Lloyd Zandberg
Biografiese flieks gee kykers die geleentheid om die lewens van beroemdes, en soms ook berugtes, van naderby te beskou.

Kykers kan so meer uitvind oor die prestasies, dade of misdade waarvoor bekendes “roem” verwerf het.

Dit is dan ook die geval met ’n splinternuwe fliek oor een van die mees berugte reeksmoordenaars van alle tye, Ted Bundy.

In Extremely wicked, shockingly evil and vile vertel die Emmy-bekroonde en Oscar-benoemde regisseur Joe Berlinger en draaiboekskrywer Michael Werwie die storie van Ted Bundy vanuit sy meisie, Liz Kloepfer, se oogpunt.

Liz het jare lank geweier om die waarheid oor Ted se misdade te glo. Die fliek spog verder ook met ’n indrukwekkende rolverdeling, wat die hartebreker Zac Efron (The Greatest Showman) in die rol van Bundy, Lily Collins (Rules Don’t Apply) as Liz en die bekroonde The Big Bang Theory-ster, Jim Parsons, as staatsaanklaer Larry Simpson insluit.

Die draaiboek is op die boek The Phantom Prince: My Life with Ted Bundy, deur Elizabeth Kendall, gebaseer en volg op ’n suksesvolle Netflix-reeks wat Bundy onder die vergrootglas plaas deur eksklusiewe onderhoude met hom ná hy ter dood veroordeel is.

“In hierdie weergawe van Bundy se storie sal die kyker die situasie ervaar soos Liz dit gesien het – dat Ted vasgevang was in ’n nagmerrie van slegte toeval, dat hy ’n onskuldige man was wat ’n slagoffer van die regstelsel geword het. Dit het my in staat gestel om weg te beweeg van die normale reeksmoordenaar-genre deur spanning en twyfel te skep en stadigaan die waarheid weer te gee,” sê Joe.

Omdat die fliek die tema aanraak van ’n vrou wat in haar kêrel se onskuld glo, het dit ’n emosionele ondertoon waarmee almal kan vereenselwig.

Vir ’n oomblik kan kykers met ander oë na Ted Bundy kyk.

“Deur die storie vanuit Ted se meisie se perspektief te benader, wys ons hoe ’n skuldige man homself aan die wêreld voorgedoen het en watter impak dit op dié gehad het wat gedink het hulle ken hom,” sê hy.

Die talentvolle Zac sê: “Ek het gevoel dit is my plig om seker te maak die fliek vier nie Ted Bundy en wat hy gedoen het nie. Wat ek wel wou bereik, was om ’n sielkundige studie te bied van wie hy was, want daar lê waarheid in.”

Ná die bekendstelling van die fliek vroeër vanjaar by die Sundance-filmfees, is Zac vir sy knap vertolking van die Amerikaanse reeksmoordenaar geprys, wat erken hy het 30 vroue in verskillende state vermoor. Die akteur moes ’n redelike groot gedaantewisseling vir die rol ondergaan en het 6 kg afgeskud om soos Bundy te lyk. As deel van sy navorsing het die ster ook met ’n paar mense gesels wat vir Bundy geken het.

“Baie van hulle was geskok,” sê hy.

“Hulle kon nie glo hierdie aangename, intelligente, kalm individu was vir sulke gruwelike misdade verantwoordelik nie. Dit maak hom net meer fassinerend, omdat hy regtig geliefd was – selfs deur dié wat saam met hom in die tronk was.”

Die fliek fokus nie op gewelddadige moordtonele nie, maar delf eerder in Ted se charismatiese kant, wat hy skaamteloos misbruik het om die vertroue van sy slagoffers, vriende en familie te wen. Wanneer hy uitgevang word, word sy meisie se perfekte gesinslewe verpletter soos wat die bewyse ophoop, en sy besef sy het hom nooit regtig geken nie.

Lily, wat die rol van Liz speel, smoor gerugte dat die fliek probeer om Bundy se verhaal te verromantiseer in die kiem wanneer sy erken sy het gesukkel om in karakter vir die rol te kom.

“Ek het eintlik nagmerries tydens die voorbereiding vir die fliek gehad,” sê sy.

“Vir my was vir dit belangrik om met fliekgangers te deel dat diegene wat kwaad doen dikwels gewone mense is. Dit is presies wat Bundy ook aan die einde van die fliek sê: ‘Moordenaars kom nie uit donker hoekies met kwylende bekke nie. Mense besef nie eers daar is misdadigers tussen hulle nie. Die mense wat jy elke dag sien en selfs liefhet, kan die wreedste monsters wees waaraan jy ooit kan dink’,” sê sy.

“Ek dink dit beklemtoon die ware definisie en aard van boosheid – iets wat moeilik is om te verduidelik en dikwels baie banaal en teenstrydig is,” sê Joe.

Extremele wicked, shockingly evil and vile word deur Filmfinity (Edms) Bpk. versprei.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer