Menseregtekenner besoek Namibiu00eb
Menseregtekenner besoek Namibiu00eb

Menseregtekenner besoek Namibië

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekenner, me. Rosa Kornfeld-Matte, is tans op haar eerste amptelike besoek aan Namibië om menseregte van bejaardes in die land te evalueer.

Volgens Kornfeld-Matte is die besoek 'n belangrike geleentheid om beste praktyke en ook leemtes in bestaande wette wat op bejaardes van toepassing is, te identifiseer.

“Ek wil veral meer uitvind oor Namibië se uitgebreide maatskaplike beskermingstelsel wat universele nie-bydraende pensioen insluit en wat armoedevlakke beduidend verminder het,” het sy gesê.

Kornfeld-Matte wil haarself ook bekend maak met die gevorderde tegnologie wat sedert die middel-1990's gebruik is om die uitbetaalstelsel te bestuur.

“Dit is noodsaaklik in 'n land met 'n lae bevolkingsdigtheid en kan potensiaal vir ander lande in soortgelyke situasies inhou,” het sy gesê.

Sy verwag dat haar eerste besoek aan Namibië “uiters vrugbaar” sal wees.

“Ek wil ook meer uitvind oor die land se beleidsrigtings en strategieë wat van toepassing is op bejaardes en die regering se welvaartsplan,” het sy gesê.

Kornfeld-Matte is die eerste onafhanklike kenner wat deur die VN se menseregteraad belas is met die ondersoek van bejaardes se regte wêreldwyd.

Sy sal op uitnodiging van die Namibiese regering ook besoek aan die Kavangostreek bring waar sy samesprekings met regeringsverteenwoordigers, nieregeringsorganisasies en ander verwante rolspelers wat met bejaardes werk, sal voer.

Haar bevindinge en voorstelle sal in September in 'n verslag aan die VN se Menseregteraad voorgelê word.

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer