'Menslike fout is die oorsaak van ongeluk'

Volgens ’n kenner het die voertuie betrokke in 'n botsing wat ses lewens geëis het, geen meganiese probleme gehad nie.
Erwin Leuschner op Swakopmund - 'n Meganiese fout kan nie as rede gegee word vir die gru-ongeluk op 29 Desember 2014 tussen Hentiesbaai en Swakopmund wat die lewe van ses mense geëis het nie.

Dít was die getuienis van 'n meganiese kundige en staatsgetuie, mnr. Martin Graham, gister in die Swakopmundse streekshof tydens die verhoor van die moordbeskuldigde mnr. Jandré Dippenaar.

"As die ouderdom en diensgeskiedenis van beide voertuie betrokke in die ongeluk in oorweging geneem word, is en was meganiese probleme of voortydige foute nie die oorsaak van die ongeluk nie."

Graham het dit duidelik gemaak 'n menslike fout was die rede daarvoor.

Ná meer as 'n maand het die moordsaak teen Dippenaar gister hervat. Hy staar onder meer ses klagte van moord in die gesig.

Hy word daarvan beskuldig dat hy 'n wit Toyota FJ Cruiser sonder 'n rybewys bestuur het, 'n motor op 'n blinde hoogte verbygesteek en daarna trompop met 'n aankomende Ford Ranger gebots het.

Van die vier insittendes in die FJ Cruiser het net Dippenaar oorleef, terwyl mnr. JC Horn en mee. Dinah Pretorius en Charlene Schoombee gesterf het. Van die vier Duitse toeriste wat in die Ford Ranger was , het net die 16-jarige Antonia Joschko oorleef. Sy het haar pa, ma en suster aan die dood afgestaan.

Graham het getuig dat hy saam met 'n kenner op die gebied van ongelukrekonstruksie, mnr. Johan Joubert, die oorsaak van die ongeluk ondersoek het.

Joubert het reeds in die hof getuig.

Graham het die meganiese aspekte van beide voertuie ondersoek.

Hy het die FJ Cruiser as “splinternuut” beskryf. Die voertuig het minder as 10 000 kilometer tydens die ongeluk op die klok getoon.

Die Ford Ranger se lesing het 31 265 km gestaan, en kan ook as 'n nuwe kar beskryf word. Hoewel die FJ Cruiser ná die ongeluk aan die brand geslaan het, het Graham die oorblywende dele ondersoek, wat die veringstelsel en remme insluit, en kon nie enige fout vind nie.

Graham het getuig dat hy veral belang gestel het in waarom die FJ Cruiser onmiddellik ná die ongeluk aan die brand geslaan het. Hy het tot die slotsom gekom dat die brandstofinspuitingstelsel tydens die impak beskadig is.

“Die druk van die brandstoflek teen 147 kilopascal (kPa) word geag genoeg te wees om tydens kontak met 'n byna rooiwarm uitlaatstelsel te ontvlam,” het hy getuig. "Die proses is 'n onmiddellike, ontplofbare verbranding".

Die uitlaatstelsel het hy beskryf as "bloedig warm" weens die "baie hoë snelheid" waarteen die voertuig gery het.

“'n Elektriese kortsluiting weens die ligging van die brandstoffilter in verhouding tot die elektriese sekeringskas (‘fuse box’) as 'n ontvlammingsbron, kan nie uitgesluit word nie," het Graham bygevoeg.

Graham het ook tydens sy ondersoek bevind minstens persoon wat agter in die FJ Cruiser gesit het, het 'n veiligheidsgordel gedra aangesien die gespe nog in die knip was. “Dit is dus moontlik dat dié persoon die aanvanklike impak kon oorleef het omdat die veiligheidsgordel vas was,” het hy gesê.

Die verhoor voor landdros Gaynor Poulton duur vandag voort. Adv. Louis Botes en mnr. Petrie Theron tree namens Dippenaar op. Staatsadvokaat Ethel Ndlovu en aanklaer Faith Tjipepera verteenwoordig die staat.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!