• Tuisblad
  • Sport
  • Merkwaardige, veelsydige Adri Basson sterf op 81

Merkwaardige, veelsydige Adri Basson sterf op 81

Sport
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Covid-19 het Namibië van nog een van sy groot historiese sportfigure beroof. Mnr. Adriaan (Adri) Basson is Sondagaand op 81-jarige leeftyd aan post-Covid-komplikasies oorlede.

'n Kleurvolle karakter en 'n veelsydige sportman was Adri Basson gewis.

Noord van Hentiesbaai met die kuslyn langs, min of meer halfpad tussen Bococksbaai en Horingbaai, sal Adri se Gat altyd die naam van die bekende gholfspeler en eertydse kaptein van die Suidwes-rugbyspan dra.

In 'n Republikein-berig drie jaar gelede het Basson vertel hy het sedert 1976 daar begin hengel en het die afgelope dekades drie tot vier keer per jaar daar 'n draai gaan maak.

“Allerhande vreemde spesies is deur die jare al daar aan wal gebring. Pylsterte, babers, St. Joseph-haaie, haaie en sandhaaie is gevang en so elke nou en dan maak 'n vis van 28 kg of meer sy verskyning aan 'n hengelaar se hoek,” het hy gesê.



GHOLF

Basson se vyf SWA / Namibiese Amateur Ope-titels word net deur Werner Lassen (10) oortref.

As beroepsgholfspeler en jarelange president en stigter van die Namibiese Professionele Gholfvereniging (NPGA) het hy ewe diep spore getrap en hard agter die skerms gewerk om dié sport tot nuwe hoogtes te voer.

Een van sy prestasies was in 2005, toe hy MTC oortuig het om as hoofborg toe te tree sodat die Namibiese PGA-toernooi by die Windhoek Buiteklub vir drie jare as deel van Suid-Afrika se Sonskyn Wintertoer ingesluit is.

Die destydse besturende direkteur van MTC, mnr. Bengt Strenge, het vooraf in sy toespraak gesê: “Verlede jaar het Adri Basson my genader om oor borgskap vir die Sonskyntoer in Windhoek te praat. Met net ses Namibiese beroepspelers het ek eers gedink hy maak 'n grap. Maar vandag kan ek met groot lof sê MTC het sy geld op 'n wenperd gesit.”

Tennis was nóg 'n kode waarin hy SWA-kleure behaal het. In die voetspore van hierdie talent het sy seun Michau later ook gevolg toe hy in 2013 op 39-jarige leeftyd die land se Davisbeker-toerspan gehaal het.



RUGBY

Mnr. Apie Kotze van Windhoek is een van die oorlewende spanmaats van die 1960's toe Basson die rugbykaptein van Wanderers en ook Suidwes was.

Kotze sê: “Adri het hier aangekom nadat hy ook vir Grens (nou die Bulldogs) gespeel en vir drie jaar hul kaptein was. Hy het eenvoudig 'n natuurlike aanleg vir sport gehad. Hy het flank of agtsteman gespeel en het 'n visie gehad van wat op die veld gebeur.

“Hy het onder meer die vermoë gehad om sulke lang torpedo-aangeë oor die hele breedte van die veld uit te skiet – 'n talent wat vir Wanderers en Suidwes se vleuels talle drieë besorg het wanneer hulle die bal met genoeg spasie en tyd ontvang het om die verdedigers in hul pad te klop.

“Volgens my was sy talent die plaas­like spel jare vooruit, maar hy het 'n individualistiese streep gehad om te speel soos hy dinge sien gebeur. Daarom het hy nie altyd in elke afrigter se vooraf bepaalde spelpatroon ingepas nie en sonder hierdie vryheid het hy nie werklik tot sy volle reg in Suidwes-rugby gekom nie.

“Hy was 'n denker van die spel en met sy ekstroverte persoonlikheid het hy nie gehuiwer om sy sê te sê nie, wat ook soms tot meningsver­skille gelei het.”

Basson was Suidwes se kaptein in 1964 tot 1966, nadat hy in 1962 as Grens-speler voor die Britse Leeus se toer gekies is om vir die junior Springbokke te speel.

In Wanderers-rugbyklub se 75-jarige gedenkblad het Basson die staaltjie vertel hoedat hy as kaptein van die Wit Hingste 'n groot plaaslike derbywedstryd benader het.

“Ons was al moeg vir verloor teen United. Daardie dae was die eerstespan-kaptein ook 'n lid van die keurkomitee. Nadat die keurders hul eerstespan bekend gemaak het, het ek vir hulle gesê met hulle spankeuse kan ons maar weer verseker wees van 'n groot pak slae.

“Ek vra toe vir hulle of ek nie net een maal 'n sê in die affêre mag hê nie. Ek het bygesê ek waarborg ons sal nie meer as 100-0 verloor nie ... Wat is die verskil tussen een punt of 100 punte? Ons wil oop rugby speel en wen.”

Ses veranderinge later het Basson sy sin gekry. “Wanderers het United geklop met 17-6 of so iets. Net ek het op die veld gepraat en vir United vir 80 minute lank geïrriteer. Dit was 'n wonderlike dag vir Wanderers en ons het nie 100-0 verloor nie, soos ek aan die keurders gewaarborg het.

“Ek het vir United gesê hulle hoef nie sleg te voel nie, want die Wit Hingste sou daai dag die Springbokke ook geklop het.”

• Basson laat sy vrou Marie-Anne, drie seuns (Justin, Charl en Michau) asook kleinkinders agter.

[email protected]

FOTO’s
Sy stigting van die Namibiese Professionele Gholfvereniging was een van die mylpale waarop Adri Basson baie trots was.

Adri Basson as beroepsgholfspeler saam met die Suid-Afrikaanse legende Gary Player.

’n Foto van ’n jonger Adri Basson wat in Wanderers-rugbyklub se 75-jarige gedenkblad verskyn.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!