Met Bonnie en Meatloaf die boendoes in
Met Bonnie en Meatloaf die boendoes in

Met Bonnie en Meatloaf die boendoes in

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Dit is gepas om te begin by die begin. Daar by my geliefde Otavi-vallei skuins langs 'n plaas waar kleintyd se vakansies en kindertyd se onthou lê.

Met die begin van die vakansie se langpad diep die noorde in is die eerste stop Ghaub.

Dit was eens 'n Rynse sendingstasie vol kamers met hoë plafonne, stoepe vir laatmiddag en saans se kuier en gesels oor die vondse van toentertyd se mense waarvan die grotte se tekeninge vertel. Die beste Kersgeskenk is die reënslierte wat laag oor die vallei en haar berge hang, en die rooi van die grondpad se modder wat aan die stadsmotor se bande en bakwerk vasklou.

Met Ghaub wat stadig in die truspieël­tjie verklein, stoot die stadsmotor noordwaarts, in Rundu se rigting met wolke wat immer die pad koel hou en beloftes van druppels maak. Dán 'n groen skynsel langs die pad, dán weer net hompies sand wat in die skaduwees van doringbome skuil.

Die vlakvark-families lyk met hul stokkiesbeentjies en –lyfies soos karikature uit 'n strokiesprent na jare se erge droogte.

'n Ent buite Rundu verander die landskap, word die spikkels mense en hutte meer en meer. So ook die beeste, skape, honde en selfs 'n vark of twee.

Orals kom groepies mense bymekaar om op pad kerk toe saam onder 'n kombers of 'n sambreel teen die druppels te skuil. Kaal voetjies spog skielik met Sondagskoene, daar's linte in vlegsels en 'n veer in Oupa se hoed. Onder die grootste boom, in die middel van hompe hutte en 'n aarde skoongevee van klip en gemors, word 'n klok gelui.

Dis Kersdag.

By Rundu draai die stadsmotor in die rigting van die Caprivi, die wolke grys van die reën nou 'n immerteenwoordigende metgesel.

Bonnie Tyler. Demis Roussos. Meat­loaf. Pussycat. Tom Jones.

Dis 'n "roadtrip" die boendoes in.

“Sugar man

You're the answer

That makes my questions disappear,” sing Rodriguez.

"Mêêê . . . ," sê 'n klomp skape wat moedswillig in die middel van die pad 'n warm lêplek in die nat veld gesoek en gekry het.

Divundu, Kongola, Shangwali.

“Though it's cold and lonely in the deep dark night, I can see paradise by the dashboard light,” kreet Meatloaf, "amen" sê ek.

Regs is 'n bos vol Kersfees-olifante, kalfies, koeie en bulle. Links draai die pad deur grondpaaie vol water en poele waarin padda-families 'n nuwe tuiste gevind het. Kronkel-kronkel tot by Nkasa Lupala se tente op die oewer van 'n vleiland.

Hier waar die Kwando- en die Linyantiriviere seekoeie lok wat snags, iewers tussen twaalf en twee, oorkant die stoep van jou tent kom nurk. Waar 'n visarend in die rigting van Botswana heeltyd roep en vuurvliegies saans net voor die laaste gang van die aand se ete op die dek bedien word, in die riete dans en verdwyn.

Weer draai die stadsmotor terug al langs die Kwando tot by Namushasha waar die visarend dié keer sy skaamte verloor en laatoggend en –middag op 'n droë boom se tak in al sy glorie oor die rivier roep. Waar 'n seekoei en haar kalfie onder ons kamervenster met tussenposes bo die watervlak uitloer en met 'n kort nurk laat weet hier is waar hulle bly.

Waar katvisse in die Kwando se groenwit water skuil en waarvan ons drie met geboë visstokke tot op die romp van die boot trek en weer vrylaat. Waar 'n visvanger tydens 'n wolkbreuk op die rivier skielik vanuit die niet uit die lug swiep en 'n vissie uit die water opraap voor ons aas en hoek dit kan vang.

“Someone told me long ago

There's a calm before the storm,

I know; it's been coming for some time,” kreun Bonnie Tylor en ons draai die stadsmotor vol reën- en modderspatsels terug in die rigting van die stad se liggies.

“Goodbye my love goodbye

Goodbye and au revoir

As long as you remember me

I'll never be too far,” sing ons saam met Demis Roussos toe ons verby Brakwater ry.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer