Met dié wenke kan jy heeljaar spaar!

Wees versigtig vir klein uitgawes – 'n klein lek kan 'n groot skip sink. Dié aanhaling van Benjamin Franklin is seker die beste motivering wat daar is om jou sente om te draai, selfs al voel dit nie vir jou of die N$1 wat jy hier spaar en die N$20...
Estelle de Bruyn
Elvira Wood en

Hanlie Stadler



Tel al die een dollars saam wat jy deur die jaar kan spaar en voila! jou spaarvarkie begin lyk asof dit drome kan waar maak, of daardie droom nou jou eerste huis, 'n oorsese vakansie, geld vir studie of 'n gerieflike aftrede is.



Algemene wenke

Almal sê 'n mens moet spaar. Maar waar begin jy? Hier is 'n paar wenke om klein te begin, maar wat oor die duur 'n groot verskil sal maak.

1. Maak klein veranderings. Jy hoef nie ewe skielik 'n groot deel van jou salaris in 'n spaar-rekening te betaal nie. Spaar deur eerder middagete saam werk toe te neem as om dit te koop, los daardie koffie op pad werk toe en maak dit eerder self.

2. Kry almal betrokke. Die hele huishouding moet saamwerk om te spaar. Leer ook jou kinders om te spaar. Moedig hulle aan om byvoorbeeld hul snoepiegeld eerder te spaar vir iets spesiaals as wat hulle dit elke week aan koeldrank of lekkergoed bestee.

3. Begroot en monitor uitgawes. Jy kan nie spaar as jy nie weet waarheen jou geld régtig gaan nie. Skryf elke uitgawe, hoe klein ook al, neer. Hou 'n notaboekie in jou handsak of maak notas op jou foon.

4. Vermaak julself tuis. Maak saam met die kinders springmielies, of hou 'n “partytjie” om die swembad. As jy elke keer moet “uitgaan” vir vermaak, kan dit jou maklik 'n paar honderd rand uit die sak jaag.

5. Gebruik kontant. Daar is 'n groot verskil tussen kontant betaal en met 'n kredietkaart betaal. Wanneer jy kontant gebruik, sien jy hoe vinnig geld uitgegee word. Dit behoort jou te help om bietjie wal te gooi met jou uitgawes.



Dinge wat jy kan uitsny

Jy wil spaar, maar jy wil steeds in 'n nuwe motor ry en met die nuutste foon spog. Ja-nee, dit gaan nie werk nie, hoor.

1. 'n Selfoon. Al gedink daaraan dat jy jou kontrak kan laat verval, 'n foon besit (pleks van eintlik maar afbetaal deur 'n duur kontrak) en dan voorafbetaalde stem en data aanskaf?

2. Boeke. Dis steeds gratis om biblioteek toe te gaan. (As jy nie hoef te spaar nie, is boeke natuurlik 'n baie goeie ding!)

3. Bankdienste. Gebruik internetbankdienste, gebruik jou eie bank se kitsbank, en maak seker wat die transaksiekoste en -voorwaardes op jou rekening is. Byvoorbeeld, as jy agt gratis kontantonttrekkings per maand op jou plan kry, maak seker jy onttrek nie 'n negende keer geld nie!

4. Basiese rekenaarsagteware. OpenOffice en Google Docs is byvoorbeeld funksionele alternatiewe vir die duur Microsoft Office-pakket. Daar is nou ook 'n app vir bykans enigiets.

5. Fiksheid. Oefening behoort nie 'n fortuin te kos nie – om die waarheid te sê, dit kan gratis wees of minstens nie meer kos as 'n paar goeie stap- of draf-skoene nie. As jy nog 'n gim-lidmaatskap het wat jy nie gebruik nie, raak daarvan ontslae!



Wenke om water te spaar

Streng waterbeperkings geld landwyd, met gepaardgaande hoër tariewe as jy nié elke druppel water versigtig benut nie.

1. Draai toe. Moenie die kraan laat loop terwyl jy jou gesig of hande was, tande borsel of skeer of groente afspoel nie.

2. Herwin. Oorweeg dit om 'n gryswaterstelsel te installeer wat die water opvang as jy stort, skottelgoed en wasgoed was. As die koste jou afskrik, plaas minstens emmers in die stort wat van die water opvang en gebruik dit om jou toilet te spoel of tuin nat te gooi. Skep skottelgoed- en badwater ook uit.

3. Stort of deel 'n bad. 'n Kort stort van net 5 minute lank gebruik minder water as 'n bad. Bad kan egter lonend wees as meer as een mens die badwater deel, maar moet dan nie die bad vol water tap nie.

4. Verminder. Moenie jou ketel of potte heeltemal volmaak elke keer as jy water kook nie (jy sal sommer krag ook bespaar).

5. Wees waterwys. Gee jou tuin baie vroeg soggens of laat saans water sodat so min as moontlik water weens verdamping verlore gaan. (Baie munisipaliteite verbied tans besproeiing – jy mag slegs jou tuin met emmers water gee.) Moenie jou tuin water gee as die wind sterk waai en van die water dus verlore gaan nie.



Wenke om brandstof te bespaar

Met baie min hoop dat petrol binnekort goedkoper gaan word, is die enigste plan om soveel moontlik brandstof te bespaar.

1. Beplan jou roete. Kyk mooi na jou afsprake en jou dagboek om te sien hoe jy sekere geleenthede kan kombineer. As twee afsprake redelik naby aanmekaar is, reël om dit op dieselfde dag te doen sodat jy net eenkeer hoef te ry.

2. Ry lig. Haal goed uit jou bagasiebak en motor wat jy nie nodig het nie. Hoe swaarder jou motor, hoe meer brandstof gebruik jy.

3. Maak toe. Hou jou vensters soveel moontlik toe. Buiten dat dit veiliger is, veroorsaak oop vensters windweerstand wat weer meer brandstof vereis. Ongelukkig gebruik die lugreëling ook meer brandstof, so kyk of jy meestal met net die waaier oor die weg kan kom.

4. Vermy spitsverkeer. Probeer spitsverkeer vermy. Buiten dat dit erg frustrerend en tydrowend kan wees, gebruik jou motor baie brandstof as hy die heeltyd in die verkeer staan en luier. Vind by jou werkgewer uit of jy jou werkure effens kan aanpas om dit moont­lik te maak.

5. Bestuur jou motor asof hy 'n fiets is. Nes jy baie harder moet trap om teen 'n opdraande te ry, moet jou motor ook harder werk, en dus meer brandstof gebruik, teen opdraandes. Ry eerder maar effens stadiger teen 'n opdraande uit. Jy moet ook die petrolpedaal harder trap om vinniger te ry, so hou by die spoedbeperking en bespaar so ook nog brandstof.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!