Met die elemente meet jy nie kragte
Ronelle Rademeyer – Die land se riviere is die afgelope weke in brullende waterweë omskep nadat die hemel se sluise oopgegaan en miljoene der miljoene kubieke meter water afloopplek gevind het.
Ek is jaar na jaar – natuurlik wanneer La Nina met haar reëndans besig is – verstom oor hoe vinnig Windhoek se riviere afkom en oënskynlike skadelose driffies binne ’n ommesientjie lewensgevaarlik maak.
’n Mens kan jou die angs voorstel van die twee Amerikaanse toeriste en die Duitse egpaar wat noue ontkomings gehad het in riviere naby Keetmanshoop.
En arme Rentia van Elisenheim moes verlede Donderdagoggend op nooddiensgroepe vra of iemand dalk haar wit nutsbuksie, ’n nuwe Kia, opgemerk het. Dis die vorige nag deur die Elisenheimrivier meegesleur.
Dinsdag was dit presies 41 jaar sedert die grootste natuurramp in die Suid-Afrikaanse geskiedenis Laingsburg op 25 Januarie 1981 getref het. Die brullende Buffelsrivier het feitlik die hele Karoodorp in ’n malende, bruin massa meegesleur.
Nie een van die Laingsburgers het daardie Sondagoggend toe hulle wakker word, ’n idee gehad van hoe die dag sou verloop nie.
Vandag nog word onthou hoe dié Swart Sondag die inwoners se lewens onherroeplik verander het. Altesaam 104 mense, insluitend kinders, het verdrink. Net 32 lyke is later gevind; van die ander was daar geen teken nie. Die ouetehuis, 185 huise, skoolkoshuise en 23 kantore en sakepersele is verwoes. Slegs 21 huise het bly staan.
Die meeste van die oumense in die tehuis vir bejaardes het wonderbaarlik oorleef toe hulle deur weldoeners tot op die dak van die ouetehuis gehelp is. Een van hulle was ds. Malan Jacobs, wat self nie oorleef het nie.
Sy vrou, Brenda, was ook onder die mense wat die bejaardes te hulp gesnel het. Sy was een van die mense wat deur die malende water meegesleur is. Met drywende bome as reddingsboeie is hulle 20 km stroomaf gesleur tot in die Floriskraaldam waar hulle deur ’n reddingshelikopter opgepik is.
Nader tuis is Marientallers seker dié Namibiërs wat vloedgevaar die beste verstaan.
Voor die Hardapdam in die vroeë 1960’s gebou is, het die dorp twee keer oorstroom – in 1923 en toe weer in 1934.
Maar selfs met die dam as buffer, bly Mariental kwesbaar. In 1972, 1974, 1976, 2000 én 2006 het die dorp oorstroom toe die sluise ten volle oopgemaak moes word nadat oorvloedige reën in die Visrivier se opvangsgebied voorgekom het.
Met die laaste vloed op Saterdag 24 Februarie 2006 het twee mense verdrink, 122 huise en 80 sakeondernemings was onder water, die varkplaas en ander boerderye is oorstroom en grafte is beskadig.
Dit was gelukkig die keerpunt in die dorp se vloedgeskiedenis en sedertdien word die dam se watervlak noukeurig bestuur tot op ’n maksimum van 70% van sy kapasiteit om te voorkom dat die sluise almal eensklaps oopgetrek moet word.
Vir een van die droogste lande op die vasteland, is daar geen “droogte” aan vloedstories in die Namibiese annale nie.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie