Met drie koffers na 'n vreemde land

Vyftig jaar gelede het sy op die enigewing van die oomblik per trein na die klein Suide-kusdorpie verhuis. Sy was nog nooit spyt nie.
Tanja Bause
Tanja Bause

Dit was vroeg in 1970 toe Liz Swoboda (nou 76) met haar hele lewe in drie koffers per trein op Lüderitz aangekom het.

Sy het niemand op die dorp of in Namibië geken nie. Slegs ses dae voor haar aankoms op die dorp het sy die woord Lüderitz die eerste keer gehoor.

Liz is in Johannesburg gebore, maar het op 'n plaas in die Karoo grootgeword waarheen hulle getrek het toe sy twee jaar oud was. Op 16-jarige ouderdom het haar ouers Oos-Londen toe getrek en sy het haar skoolloopbaan op Graaff-Reinet voltooi.

“Ek het na Rhodes-universiteit gegaan om baccalaureus in kuns te studeer. Ek het nooit op skool kuns gehad nie; ek wou niks doen wat ek op skool gedoen het nie.

“Eintlik wou ek glad nie universiteit toe gaan nie – ek wou eintlik 'n motor­werktuigkundige word, maar my ma wou altyd hê dat ek universiteit toe moet gaan,” het sy gesê.

Sy was net een jaar op universiteit voordat sy opgeskop en in Oos-Londen by die technikon 'n sekretariële kursus aangepak het.

“Ek was steeds gek oor voertuie en motorresies. In daardie jare is die Grand Prix op Oos-Londen gehou. Ek het my ouers vertel ek en vriende gaan tydens die voorresies daar kamp, maar ek het op my eie gaan kamp; ek wou net tussen die voertuie wees.”

Nadat sy die sekretariële kursus voltooi het, het een onderwyser haar aangeraai om nooit in 'n kantoor te gaan werk nie.

Sy het Kaapstad toe getrek en by 'n hotel begin werk. Ná twee jaar het haar werkgewer haar ingeroep en gesê dit is tyd dat sy iets anders doen.

“Ek het niks verkeerd gedoen nie; hy het net besluit ek moet aanbeweeg en ek het. Ek het gewone kantoorwerk probeer, maar dit net ná ses weke gelos.”

Sy het deur 'n agentskap werk gekry waar sy die hele land vol gereis het om opnames in die hof te doen.

“Ek het die hofsake opgeneem en notas gevat wat dan later getik en geliasseer is.”

Sy het drie jaar later besluit om iets anders te doen.

LüDERITZ

“Ek weet nie waar die idee vandaan gekom het om na die destydse Suidwes-Afrika te gaan nie. Al wat ek kan sê, is dat God seker 'n plan gehad en die idee in my kop gesit het. Ek het niemand in die land geken nie, geen familie hier gehad en nog nooit met 'n Suidwester gesels nie. Ek het koerante gesoek om vir werk aansoek te doen, maar ek kon nie 'n Suidwes-koerant in Kaapstad kry nie.”

Sy was een aand by 'n partytjie en het 'n man ontmoet wie se vriendin hierheen getrek en deur die Suidwes-brouerye werk gekry het.

“Hy het vir my die kontakbesonderhede gegee en ek het vir hulle 'n brief geskryf. Ek het 'n brief teruggekry wat vir my 'n werk as 'n kroegdame by die Eckleben Hotel aangebied het. Ongelukkig teen die tyd wat hulle my brief ontvang het, het hulle die pos reeds gevul.”

Sy het weer 'n brief aan hulle gestuur en verduidelik sy was onder die indruk dat sy die werk gekry en reeds bedank het.

“Hulle het gesê hulle besit baie hotelle en 'n rukkie later het ek 'n brief van die Strand Hotel op Swakopmund ontvang. Die brief was in Duits en ek moes iemand soek om dit te vertaal, waarna ek hulle geantwoord het en gesê het ek sal vir R120 die werk aanvaar en dat ek nie Duits kan praat nie.”

Liz het in die stadium 'n woonstel met 'n ou skoolvriendin gedeel wat vir haar op 'n Saterdag 'n telegram van die brouerye gegee het waarin hulle vir Liz gevra het om dringend die Kapps Hotel op Lüderitz te skakel.

“Ons het nie 'n telefoon gehad nie en ek het na vriende toe gegaan om die oproep te boek. Wanneer jy 'n oproep geboek het, moes jy wag dat dit deurgaan en terwyl ek gewag het, het my vriendin van die tiekieboks gebel en gesê daar is nog 'n telegram van die Strand Hotel wat vra wanneer kan ek op Swakopmund wees. Ek het twee werksaanbiedinge op een dag by twee verskillende plekke gekry waarvan ek nog nooit gehoor het nie.”

Die oproep na die Kapps Hotel het deurgekom en sy het met die bestuurder gesels en die werk aanvaar. Hy het gesê daar was die volgende dag 'n vliegtuig na Suidwes en of sy dit kon haal.

“Dit was egter te vinnig en ek het gesê ek kom met die trein. Ek het die Dinsdag om 10:00 met al my wêreld se besittings in drie koffers op die trein geklim en het die Donderdag om 16:00 op Lüderitz aangekom. Ek het my boeke, klere en 'n naaldwerkmasjien by my gehad.”

Die bestuurder en twee werkers het haar by die treinstasie met kruiwaens ingewag en haar na die hotel geneem. Die volgende dag het sy begin werk.

“Op 29 Januarie was dit 50 jaar terug en ek was nog nooit spyt nie.”

DIE WILBUR SMITH STORIE

Nadat sy vir agt maande by die Kapps Hotel gewerk het, het die nuwe bestuurder 'n man met minder ondervinding en meer salaris aangestel en Liz het summier bedank.

“Hoewel my tyd by die hotel kort was, was dit opwindend en ek het baie interessante mense ontmoet.

“So was die skrywer Wilbur Smith op Lüderitz om navorsing vir sy 1971-roman The Diamont Hunters te doen. Met sy skerp sin vir humor het hy ons vir ure by die kroeg vermaak. Ek het aangebied om hom en twee ander mans op 'n Sondag Diazpunt te gaan wys. Ek wou dit ook graag sien en hulle het 'n klein Land Rover gehad.

“By die tweede strandmeer het ons 'n klomp flaminke gesien. Wilbur het gesê hy wou nog altyd een vang. Ons het gestop en hy en die ander mans het uitgespring en die flaminke gejaag. Natuurlik het hulle nie een gevang nie, maar hy het baie vere opgetel en was hoogs tevrede.”

Sy het 'n werk by die munisipaliteit aanvaar waar sy vir amper 28 jaar gewerk het. Sy was selfs in 'n stadium die waarnemende stadsklerk.

Nadat sy by die munisipaliteit bedank het, het Liz 'n tyd lank na haar huis in Aus getrek.

“Ek het nog soms Lüderitz toe gekom om mense se huise op te pas. So het ek 'n boodskap gekry dat ek vir Marion Schelkle van Lüderitz Safaris & Tours oor werk moes bel. Ons het gepraat en op 'n drie maande toetslopie besluit en dit was 21 jaar gelede.

“Nou vanweë Covid-19 en die swak toerismebedryf is ek afgelê, maar ek is geen oomblik spyt dat ek na Lüderitz getrek het nie; ek kyk nie 'n oomblik terug nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!