Met Stoffel Rocher op die leeuspoor
Des Erasmus - “In 1957 is ek as assistentveldwagter vir die Namutoni-gebied aangestel ter voorbereiding op die amptelike opening van die herstelde fort wat blyplek vir toeriste sou gee. My vrou het die ampte van matrone en klerk beklee. Terselfdertyd was ons toeristebeamptes.
“Ná tien jaar op Walvisbaai waar bome nog ’n rariteit was en grasperke en blomtuine deur die suidwestewind verniel was en duinesand teen die mure opgestoot het, was Namutoni met sy gras, bome en wilde diere, wat soms tot binne die fort skuiling kom soek het teen roofdiere, ’n ware paradys. Vir my wat op ’n plaas grootgeword het, was dit soos ’n tuiskoms. Die diere waarmee ek voortaan sou boer, was net baie anders.
“Ons twee was die enigste en eerste natuurbewaringspersoneel op Namutoni.”
Só gesels Stoffel Rocher pas ná sy negentigste verjaarsdag by die kaai se punt op Swakopmund eksklusief met Republikein.
En hy vertel van ’n leeftyd van anekdotes toe die wêreld nog aangrypend woes was.
GOOI NOG KERRIE!
“Die eerste wildbewaringsvoertuig in die Namutoni-omgewing was ’n drietonvragmotor wat in Windhoek afgeskryf was en op ’n veiling aangebied moes word. Die verkoeler was stukkend en ’n roomkan met water moes saamgepiekel word. Elke twintig kilometer is stilgehou om die verkoeler vol te maak.
“Kerriepoeier vir die lekplek, was die raad van ’n grensboer. Dit het gehelp. Pleks van elke 20 km is elke 40 km stilgehou en water gegooi. Waar ons ry het die kerriegeur in die lug gehang.
“Die Boesmans het gesê dit maak hulle honger.”
’n GIETER WAT BRUL
“Kameraadskap was die band tussen ons eerste bewaarders en die manne van werke wat die fort gebou het. Toeriste het buite die fort onder die bome geslaap. Een van werke se bouers het die gebrul van ’n leeu so netjies op ’n gieter nagemaak dat selfs die leeus geantwoord het.
“Toe oornag ’n egpaar met ’n baba onder die bome op hul tog na Angola. Al stukkies konstruksie onder die bome was twee toilethuisies van sink. Die egpaar het sommer ’n hoop vuurmaakhout vir die nag na die kampplek gedra. Die vuur het gebrand en ’n Coleman-lamp het aan ’n tak gehang en lig gegee. In ’n bedjie langs die vuur was die baba.
“Toe besluit ons kwajongens om hulle ’n bietjie met die gieterbrul bang te maak. Met die eerste brul klap die deure van die sinkhuisies feitlik gelyktydig en kom pa en ma halfgeklee uitgestorm. Hulle maak vir die kar en klap die deure so hard dat die baba wakker skrik. Toe stry hulle, maar niemand klim uit om die baba te haal nie. Toe bedaar die kleinding. Toe die gieterleeu weer brul, gaan stook die egpaartjie die grote vuur nog verder en gee die Coleman ’n paar pompe. “Die volgende oggend kla hulle: Die kajuit van ’n kar slaap darem nie lekker nie.”
SLAG VAN DIE NAGPOTJIE
“Die laat jare vyftig, meer spesifiek 1958, bly by my in die Okaukuejo-ruskamp bekend as die Slag van die Nagpotjie.
“In die Suid-Afrikaanse politiek was daar een ou korrelkop wat volgehou het die Etosha moet in plase opgedeel word. Toe kom kuier die ou skeibreker self op Okaukuejo waar die bewaarders nie met sy stories kon saamstem nie. Saam met hom het die tyding gekom dat hy aan ’n chroniese blaaskwaal ly. Dit bring mee dat hy snags sommer ’n paar keer moet opstaan.
“Soos ander toeriste was hy gewaarsku dat leeus dikwels snags by die swembad water kom suip. Daar was gemeenskaplike toilette, maar dit was so ’n 30 meter van die rushuise. Omdat besoekers dit nie buite durf waag het nie, was nagpotte in die rushuise geplaas. ’n Fout van die matrone was om nie inspeksie te doen om vas te stel dat elke rushuis ’n nagpot het nie.
“Die volgende oggend was die ou woedend. Hy het eers die matrone sleggesê en sy het weer vir Johannes, die potjiewerker, geroskam oor sy nalatigheid. Toe maak Johannes deur die loop van die dag seker dat daar vir die tweede nag ’n potjie onder die katel is. Weens die raas wat sy gekry het, kom sit die matrone ook ’n potjie onder die bed, min wetend dat Johannes die boodskap gekry en sy werk gedoen het. Bernabé de la Bat, die bewaarder en bioloog, het gedagtig aan die humeuruitbarsting toe ook by wyse van voorsorg ’n derde potjie onder die katel geplaas.
“Toe kom die volgende oggend. Dié keer was Mister Politiek werklik kwaad. Hy beskou hul grappie met drie potjies as baie swak smaak, sê hy. ‘Met my skeer ondergeskiktes nie die gek nie’.”
LEEU GIET ’n MENSBEELD
“Met die oopkap van ’n nuwe brandpad naby ’n fontein waar die elande wei, het ’n leeustorie afgespeel.
“Tussen die werkers en die fontein was ’n mopanieboom wat deur die olifante omgestoot was, maar met die takke steeds lowergroen. Dit was die plek van waar ’n studie van die elande gemaak kon word. Sowat 30 meter van die boom storm ’n leeuwyfie onder die takke uit. Haar tepels was nat en het as bewys gedien dat daar welpies was.
“Ek haal die geweer oor en gelas die werker Willem om stil te staan. Op dié kort afstand sou dit selfmoord wees om te probeer weghardloop. Vlak voor ons steek die leeuwyfie vas. Sy grom diep uit haar keel en haar geel oë flikker. Vier geelwit slagtande blink in die son.
“My vinger is op die sneller, maar by gebrek aan tyd sou uit die heup geskiet moes word. Willem kry die opdrag om te versteen. Toe kyk ek en Willem die wyfie stip in die oë terwyl ons so stil soos boomstompe staan. Deur my gedagtes gaan kommer oor wat van die welpies sou word, sou ek die wyfie skiet. Grom die leeuwyfie, kom daar net elke keer ’n ‘hieenh’ van Willem se kant waar hy soos ’n standbeeld met ’n kamera in een hand en ’n verkyker in die ander staan. Ek weet die leeu sal nie spring terwyl sy regop staan nie, maar toe sak sy stadig af grond toe. Ek wil skiet, maar iets sê ek moenie.
“Uit die bloute vlieg die wyfie terug bos toe en kom uit met ’n welpie in haar bek. Sy spring oor ’n waterloop en verdwyn die boswêreld in. Met bewende bene het ek weggestap. ’n Ent weg kyk ek om. Willem staan steeds penregop soos ’n stokmannetjie met die verkyker in een hand en ’n kamera in die ander. Sy beeld het eers teruggekeer menswees toe toe ek by hom kom. Nadat hy sy broek gewas het, kon ons aangaan.”
LEEULOOP BY LEEUBRON
“By Leeubron was die matriarg ’n leeuwyfie by name Isabella. Deur ’n veldwagter so genoem omdat sy net so befoeterd soos sy skoonma was. Leeubron was die plek waar die leeus gevoer was om hul aanwas te verseker met baie wat op grensplase doodgeskiet is. Die patriarg van Leeubron was Castor.
“Die betrokke aand was dit die eerste keer wat ’n nuweling onder die toeristebeamptes as gasheer vir die toeriste by die leeufees sou optree. Geen werker wou die ‘groentjie’ na die fees vergesel nie. Naby Leeubron het hy die bakkie se klap oopgemaak om die sebrakarkas te wys. By Leeubron het die toeriste reeds in hul motors gewag en hy het uitgeklim, op die masjienkap gaan sit en die registrasiemerke nagegaan om vas te stel of almal bespreek en betaal het.
“Dit was toe dat Castor aan die karkas begin vreet het. Die toeriste het beduie, maar die nuweling het aanvaar dis lofprysing vir sy dapperheid met ’n vretende leeu ’n meter of twee agter hom.
“Toe klim hy van die masjienkap af en stap om die karkas af te kry. Maar hy versteen. Hy kyk Castor met sy diep grom vas in die oë. Toe duik hy deur ’n oop venster by die kajuit in. Tyd vir die oopmaak van ’n deur was daar nie. Toe is dit ’n bietjie vorentoe en ’n bietjie agtertoe terwyl aan die karkas gevreet word.”
’n LEEUKUIKEN
“Selfs die tarentale en fisante was uitgeroei toe die Daan Viljoen-wildtuin by Windhoek geproklameer is. Die bewaarders van Etosha-Wes is gevra om jong voëls te vang en Daan Viljoen toe te stuur. Een oggend kom twee van die Etosha-manne op ’n swerm tarentale af wat oor die pad hardloop met kuikens ook daarby. Hulle spring uit om van die kuikens te vang.
“Een veldwagter weet hoe om op te tree wanneer op leeus afgekom word, die ander een was maar pas aangestel. Die gras was taamlik hoog en die twee mans het feitlik saam gehardloop. Toe een buk om ’n tarentaalkuiken aan sy poot beet te kry, staan ’n leeu vlak voor hom uit die gras op.
“Sy eerste poging tot ontvlugting was om na die skouer van sy kollega te soek om aan vas te hou, sodat hy nie kon weghol nie.
“Toe klap die bakkie se deur agter hom reeds toe.”
DOOD VAN ’n KONING
Castor, die koning van Leeubron, se jare het aangestap en in sy laaste dae het hy dit as sy blyplek aanvaar.
“Op ’n dag word hy daar in ’n poel aangetref met ’n geskatte twintig jakkalse op die waterkant. Die koning was siek en al wagtend op sy dood. Daar is op die genadeskoot besluit om hom die vernedering van jakkalsprooi te spaar.
“In Okaukuejo is Castor se karkas deur ’n veearts nagegaan. Die ou se koutande was glad geslyp. Die slagtande was so weggevreet dat ook die senuwees blootgelê was.”
VELDSKOOL VAN ’n BAANBREKER
“Ek was besonder gelukkig om in die Etosha te begin werk toe dit nog werklik wild was. Dus kon ons eerste vier baanbrekerswerk verrig.
“Ons voertuie en toerusting was ontoereikend. Ons moes noodgedwonge ver ente op wildvoetpaaie stap om vas te stel waar die fonteine was. Die Boesmans wou nie sê waar dit was nie, omdat hul families soms daar gaan jag het. Ons het nog nie perde, viertrekvoertuie en radio's gehad nie. Waar die tweewielkarretjies nie verder wou gaan nie, het ons voetgeslaan. Dit het gesorg dat ons die gebiede, die plantegroei en die diere noukeurig kon waarneem en leer ken.
“Dit was seker waarom ons aan die begin deur onkunde en ’n gebrek aan ervaring soveel kon waarneem.
“Moegheid verslap waaksaamheid. Dan vat jy kanse en dan gebeur dinge.
“Met die koms van viertrekvoertuie het latere natuurbewaarders al hoe minder geloop en liewer gery waar hulle wou kom. Daarom het hulle nie hul gebiede intensief leer ken nie. Hulle het nie deeglike veldkennis opgedoen nie. En ’n wêreld van die vrye natuur het by hulle verbygegaan.
“Daar is nog mense wat op dapper en stapper reken. Dit is hulle wat die natuur in al sy fasette leer ken en waardeer. Hulle is die ware natuurbewaarders vir wie dit ’n roeping is, nie net ’n werk nie.” - Stoffel Rocher

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie