Met Stoffel Rocher op die olifantspoor

Anneli Erasmus
Naasteliefde is ’n olifant. Moet hom net nie kwaad maak nie. Eers wanneer die drif die ou grotes pak, kan hulle lewensgevaarlik raak.
’n Veldwagter net bekend as Piet, het by geleentheid twee olifantbulle op ’n grensplaas gaan soek, maar hulle het hom ontglip deur heen en weer oor hul eie spore te loop. Uiteindelik het hulle noordwes koersgevat met Piet wat hulle volgens sy veldvoertuig se afstandmeter 31 km ver gevolg het. Daar het hulle by hul teeltrop aangesluit.
Wat ’n getuigskrif vir kommunikasie!
Op die olifantspoor van die destydse Etosha is ook vasgestel hoe slim hulle eintlik is. By ’n fontein naby Halali het waterkiewiete by geleentheid langs ’n olifantpad nesgemaak. Kom die olifante, raas die voëls. Dan swaai die olifante weg en stap ’n entjie weg van die nes verby.

OLIE EN SKILLIE IS MAATS
By ’n watergat suip ander diere nie maklik saam met olifante nie, behalwe bergskilpaaie. ’n Bergskilpad vleg deur olifantpote om by die water uit te kom. Stamp die skilpad per abuis teen ’n ­olifantpoot, word hy sagkens met ’n poot of slurp ’n bietjie weggedruk. Nooit is ’n olifant gesien wat op ’n bergskilpad trap nie, hoewel een so ’n gewigtige trap die einde sou beteken. Anders as in die geval van die meeste ander diere kan maar saamgesuip word.

HANSIE VRA TREKPAS
Tydens ’n wildtelling is Hansie en sy agterryer deur ’n olifantkoei bestorm. Die agterryer het weggehardloop, maar Hansie het in sy perd se saal bly sit, menende dit is net ’n bangmaakstorie van die koei. Maar sy storm voort en Hansie trek op ’n galop weg, die perd trap in ’n gat en struikel. Met die afval verloor Hansie sy geweer. Die perd het bly staan, maar toe Hansie weer wil klim, hardloop die perd en kry Hansie nie kans om in die saal te kom nie. Met sy voet uit die stiebeuel gly Hansie en slaan weer neer. Nou is dit Haastige Hansie soos wat hy vir ’n stukkie bos maak, maar die koei slaan met haar slurp sy voete onder hom uit.
Toe kniel die koei en probeer hom met haar voorkop platdruk. Elke keer steek haar tande weerskante van hom verby, maar die grond bly te hard vir haar om in te kom. Uiteindelik kry Hansie tussen haar bors en blad uitkomkans en hardloop hy na ’n swarthaakbos. Langs Hansie het die koei sommer die swarthaakbos platgeloop.
Toe die beheerstasie hom die aand vra, had Hansie twee goed op die hart. Ten eerste, hy kon nie die middag sy radio­skedule nakom nie, omdat hy probleme met ’n olifant gehad het. Ten tweede, hy soek ’n verplasing weg uit die Etosha-wildtuin en weg van sy olifante.

WIKKEL DAAI BOUDE
Olifante uit die Mangetti het ’n gevaar geword vir verkeer van en na Owambo. Elektrifisering was ’n opsie om te verhoed dat olifante die heinings breek. Om vas te stel of dit gaan werk, is op ’n eksperiment besluit. Daarvoor is ’n kampie van 100 meter by 100 meter om ’n watergat opgerig om die heining dan te elektrifiseer.
Die eerste indringer was ’n groot olifantbul en hy kom om sommer die eerste hoekpaal uit te ruk. Die skok laat hom steier en hy klap sy groot ore (“gooi sy komberse uit”). Nog twee pale word getoets en elke keer is die uitslag dieselfde.
Toe is dit terug na die eerste hoekpaal. Daar oordink die ou grote blykbaar die situasie, want hy nader die paal nou boude eerste. Toe tref die skok van drie drade hom in sy agterent pleks van die een in die vorige gevalle.
Veldwagters het die spulletjie gevolg. Toe die bul wegstap, het sy boude na binne gebuig, was die weergawe van een van die toeskouers.

BUIG DIE BOOMPIE
Op die spoor van wilddiewe het twee veldwagters so byna op ’n renoster getrap wat gelê en slaap het. ’n Renoster wat skrik, storm al agter sy neus aan ongeag die rigting waarin dit wys. Dit was gelukkig nie in die rigting van die twee bewaarders nie. In die pannetjie was ’n enkele mopanieboom met baie gabbabosse. Die deursnee van die boompie se stammetjie was skaars 15 sentimeter. Gevolglik kon dit kwalik een volwasse man se gewig dra.
Met twee mans wat klim, het die boompie stadig grond toe gebuig terwyl die twee vlugters steeds die takke geklim het. Met die boompie se boonste lof wat feitlik op die grnod was, klim die twee steeds. Die gelag van hul helpers het hulle tot besinning gebring, want gelukkig was die renoster weg.

BEENAF VIR VLEIS
Een maal ’n wilddief, altyd ’n wilddief. Tydens ’n skietery in die Namutoni-geweste,­ is ’n wilddief in sy bobeen getref en moes die been afgesit word.
Sowat ’n jaar later arresteer natuur­bewaarders weer ’n groep jagters by Namutoni. Onder die beweerde stropers is weer dieselfde man, maar dié keer met ’n kunsbeen.

STERTJIE VOOR, STERTJIE AGTER
Soms lyk dit of die olifante en die leeus van Etosha dit geniet om toeriste die skrik op die lyf te jaag.
By Gemsbokvlakte het twee olifantbulle hul eie speletjie gespeel. Een olifantbul het vir ’n skouspel gesorg deur voor die toeriste te bad, ander wild van die drinkplek weg te jaag , stof en modder op te skop en allerlei watertoertjies uit te voer.
Die ander bul het weggestap en om ’n draai teruggekeer, sodat hy van agter tot by die voertuie beweeg het. Die bestuurders het die voertuie in alle rigtings laat jaag. Dan gaan staan die twee olifantbulle langs mekaar en dit lyk of hulle die petalje geweldig geniet.

EERSTE RENOSTERVANGS
Die eerste renostervangs in die Etosha-­geweste was in die omgewing van Wêreldsend. By gebrek aan ondervinding en die regte toerusting was dit ’n gesukkel, maar uiteindelik het die tog na Ombika begin waar die renoster kwarantyn sou staan. Daar gekom, breek die renoster deur die boma en hardloop ’n tonnel deur die wildwerende heining.
Nadat ook met ’n ligte vliegtuig gesoek is, word die renoster opgespoor waar hy onder ’n boom op ’n grensplaas staan. Die vangspan sit te perd daarheen af met die renosterkrat wat op die bak van ’n vragmotor saamgaan.
Die pyl wat die diepe slaap moes bring, tref die renoster toe op ’n bladbeen en die punt buig om. Die renoster lyk lomerig, maar val nie. So sit ses veldwagters en wag en om die renoster aan te wakker, skiet een ’n klippie in sy rigting. Die renoster ruk regop en storm op die plek af waar hy die skoensole op die klippies gehoor het.
Die veiligheid van ’n boom word gehaal en die vlugtende mans klim tot bo. Die een ou was ’n bietjie dik, maar ook hy haal die boom voor die renoster. Die ander een was ’n bietjie braaf en hy neem foto’s van die toneel.
Geen renoster op die foto’s nie, net foto’s van die vlugtende bewaarders se voete waar dit onder die takke uithang.

BADTYD VIR ADAM EN EVA
By Olifantsbad het ’n toneel afgespeel wat selfs die kolomme van Playboy sou haal.
’n Ou en sy skelmpie het sommer middagtyd daar stilgehou, waarskynlik wel wetend dat die wild eers hier na die aand se kant water toe sou kom. Algaande het die klere en onderklere gewaai. Dalk omdat dit so warm was. Of . . . Uiteindelik was hulle in hul Adams- en Evasgewaad in die kajuit. Hulle was so besig dat hulle salig onbewus was van ander toeriste wat ook in hul voertuie daar opgedaag het. Toe kom ’n olifanttrop onder leiding van ’n jong bul. ’n Sonstraal teen die paartjie se voorruit het waarskynlik ’n kaatsing in die rigting van die bul gemaak. Hy storm, steek vas en storm weer. Die derde keer druk die bulletjie deur en beland op die masjienkap van die vryers se kar. Dit was die laaste strooi. Die deure het weerskante van die kajuit oopgevlieg en die twee mense, albei kaal, het gehardloop en by die beskutting van die boswêreld gekom. Wat hulle nie geweet het nie, was dat ander toeriste dosyne foto’s van die naakte waarheid geneem het. Een van die foto’s het lank in die toeristesaal van Namutoni gehang.
Die paartjie was vir tien dae in die Etosha bespreek en dit was vooruit betaal. Nogtans het hulle die volgende oggend vroeg opgepak en Outjo toe vertrek.
KOEëLS TREF TROUPOTJIE
’n Veldwagter by name Isak het
altyd gesorg dat hy uit die leeus se pad bly. Hy en sy gesin het in ’n saamslaanhuis by Halali gebly terwyl die ruskamp nog gebou was. Vir groente het elke werker ’n klein tuintjie gemaak. In Isak se ­tuintjie voor sy huis was ’n groot tamatiebos.
Vir Kersfees het hy ’n kalkoen gemes wat oral op die werfie kon snuffel. Een oggend skop die fisante en die ander voëls ’n lawaai op. Die tuin se klein hekkie was oop. Gewapen met sy geweer het hy uitgestap om die hekkie toe te maak. Die voëls raas nog en die kalkoen kyk stip op die tamatiebos. Agter daai tamatiebos lê ’n luiperd. Isak lig die geweer en die luiperd spring. Om die aanval af te weer, hou Isak die geweer voor sy gesig opgeruk en die groot luiperd tref hom teen die lyf.
Met die geweer as hefboom het Isak die luiperd van hom weggedruk en die aanvaller ’n harde skop op die pens gegee sodat die kat doer getrek het.
Isak besef hy het nie die voordeur toegetrek nie. Hy skreeu op sy vrou om die kamerdeur toe te maak, want die luiperd mik huis toe. Die volgende oomblik is die luiperd by die oop deur in en gaan kry sy lê onder ’n bed in die spaarkamer.
Bebloed nadat een van die naels Isak in die gesig getref het, stap Isak na ’n oop venster om ’n skoot in te kry. Die skoot is mis, maar die koeël tref ’n piepiepot onder die bed met twee gate in die wand as bewys. Van die volgende skoot het Isak seker gemaak.
Toe moet Isak die woordeaanval van sy sagmoedige vrou verduur.
Die geskende pot was ’n trougeskenk.

Roepstem van Namutoni-velde
Op pad strand toe vir ’n fotosessie by die kaai, het Stoffel Rocher gevra dat by die Ou Kaserne ’n bietjie stadiger gery moet word. Dis dan ’n fort­motief soos dié van Namutoni, waarvoor word dit gebruik?
Tydens die viering van sy negentigste verjaardag het sy nageslag in die man se humorsin gedeel. Een so ’n be­wering is dat sy termyn as pensioe­naris nou feitlik net so lank is as wat sy diensloopbaan by die des­tydse Administrasie van Suidwes-Afrika was. Die geleentheidsreis op sy negentigste verjaardag is deur sy vrou, Isa, met hom gedeel. Selwers is sy op 83 vol lewenslus en Stoffel praat met trots van sy jong vrou. Hulle is op die drumpel van hul 65ste huweliks­herdenking.
Toe Stoffel Rocher in 1957 as assis­tentveldwagter Etosha toe gestuur is om die woeste wêreld om Namutoni oop te maak, was sy as matrone, administratiewe assistant en toeristebeampte reeds aan sy sy. Stoffel bestuur nog sy eie motor, maar het op Swakopmund verkies om te stap waar hy wou kom. Soos in sy Namutoni-­dae sê hy: “Te voet neem ’n mens baie meer waar.”
Die egpaar bly in ’n eie huis in Windhoek se Pionierspark.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!