Mev. Zuma nr. 7 besit eers haar eie masseerplek
Mev. Zuma nr. 7 besit eers haar eie masseerplek

Mev. Zuma nr. 7 besit eers haar eie masseerplek

Oudpresident Jacob Zuma se vroue kos die belastingbetaler miljoene rande.
Die jong ma wat mev. Zuma nommer sewe gaan word, is ook 'n entrepreneur wat 'n maatskappy met die naam “GN Massages” begin het.

Luidens die maatskappyregister het Nonkanyiso Conco (24), wat haar van gister reeds op Facebook en Instagram na Conco Zuma verander het, in 2015 dié maatskappy gestig. Sy is die enigste direkteur.

Die geregistreerde adres vir GN Massages is 'n woonstelblok in die Durbanse middestad. Met Rapport se besoek aan die blok van eenmanwoonstelle wat teen sowat R4 000 per maand uitgehuur word, het iemand ná aan die kompleksbestuur bevestig Conco het self daar gewoon. “Ja! Ja! Dis Zuma se meisie!” het die persoon gesê. Dis egter onduidelik of GN Massages nog bestaan en of die onderneming wel masserings aanbied soos die naam te kenne gee.

Conco, wat na berig word onlangs aan oudpres. Jacob Zuma se soveelste kind geboorte geskenk het, woon beslis nie meer daar nie. Sy het aanbeweeg na 'n uiters eksklusiewe rykmanslandgoed aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

Haar sprokiesverhaal is een van 'n “gewone joernalistiekstudent” by Varsity College in Durban-Noord in 2014-'15 tot een van 'n glansryke rykmansvrou.

Dis onseker of sy haar studies voltooi het, maar sy het 'n intern­skap by 'n Zoeloe-koerant voltooi.



'SUGAR DADDY'

'n Kollege-vriendin van haar onthou Conco as 'n gewilde en vriendelike jong vrou wat nie veel aandag getrek het nie.

“Sy was net 'n gewone meisie. Ons het altyd saam taxi's gery (maar) die volgende oomblik . . . oh my God!

“Toe is sy ewe skielik witwarm. Sy het, soos, hierdie diamantringe gehad. Ons het daaroor geskinder. Sy het baie goed gelyk,” vertel die vriendin.

“Ons het 'n onderlinge grappie gehad dat sy 'n sugar daddy gehad het.”

Noudat Conco haar verhouding met Zuma (76), meer as 'n halfeeu haar senior, bekend gemaak het, verstaan die vriendin meer.

Volgens die vriendin het Conco begin uithang by duur kuierplekke en het sy net die nuutste modes gedra. Sy het ook 'n kar gehad waarvan die meeste studente net kon droom en het skielik in 'n luukse woonstel wat oor Durban se hawe uitkyk, ingetrek.

“Dit was beeldskoon; dit was baie luuks,” sê die vriendin.

Conco het soms verwys na tenders en oorsese reise, maar het nooit gesê waar haar geld vandaan kom nie.

“Sy was baie geheimsinnig . . . Nou maak alles sin. Noudat ek daaraan dink: Sy was baie passievol oor die ANC.”

Conco is deel van 'n organisasie wat tradisionele maagdelikheidstoetse en geen seks voor die huwelik bevorder.

In haar tienerjare het sy by die No­mkhubulwane Culture and Youth Develoment Organisation aangesluit en neem al jare deel aan die Zulu-rietdans.

Conco het nie op Rapport se boodskappe gereageer nie.

Sy het wel aan News24 bevestig dat sy en Zuma gaan trou. Edward Zuma, Zuma se oudste seun, was geïrriteerd oor vrae oor Conco se kind wat sover bekend Zuma se 23ste kind is.

“So? Ek kan nie sien waarom julle belangstel nie. Toe hy nog president was, het julle (die media) hom geterroriseer en nou stel julle skielik belang in hom.”

Conco sal dalk in die ry moet staan om met Zuma te trou. Hy het reeds vroeër met lobola-prosesse begin met die Swazi-prinses Ziyanda Dlamini met wie hy nog nie getrou het nie.



JONGSTE VROU

Conco is verreweg die jongste van al Zuma se vroue. Sy oudste vrou, MaKhumalo, is 77 jaar oud.

Hy het afgetree as staatspresident met vier vroue, van wie een, MaNtuli, vervreem is van hom omdat hy glo sy het hom probeer vergiftig.

MaNtuli se prokureur het in Desember nog aan Rapport bevestig sy was geldelik deur die regering onderhou soos al die ander presidentsvroue.

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, sê die presidensie se gadekantoor verskaf nie direk voordele aan Zuma se gades uit hul begroting nie.

Prof. Dirk Kotzé, politieke ontleder aan Unisa, sê 'n uitgetrede president en sy gesin se voordele krimp baie wanneer hulle aftree, maar sommige voordele geld vir die res van hul lewens.

Bo en behalwe 'n salaris, kry 'n oudpresident steeds veiligheidswagte wat ook deur die gades gebruik kan word.

Zuma se hele familie het ook volle mediese voordele.

Kotzé sê die staat verskaf aan 'n oudpresident se gade 'n sekretaresse en die gade kan op staatskoste saam met haar man vlieg.

Volgens die ekonoom Mike Schüss­ler kos Zuma se vroue die belastingbetaler miljoene rande. Hy is egter meer besorg oor die “groter prentjie” van Zuma se poligamie-voorbeeld aan ondersteuners. Schüss­ler sê die meeste Suid-Afrikaners sukkel om een tot drie kinders te onderhou en 52% van alle huishoudings het net die ma wat vir hulle sorg. Zuma se leefstylvoorbeeld is “egoïsties”. Die gewone mens kan nie 'n klomp vroue en kinders bekostig nie en kan nie verwag dat dit welvaart gaan bring nie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!