Miami: Reddingspanne soek nog
Miami: Reddingspanne soek nog

Miami: Reddingspanne soek nog

Terwyl die dodetal tot nege gestyg het, met meer as 150 mense wat nog vermis is, het reddingspanne Sondag onverpoos deur die puin van die woonstelgebou naby Miami, Florida, na oorlewendes gesoek.

Die gebou in Surfside het drie dae gelede gedeeltelik ineengestort en vrae word nou oor die strukturele integriteit van die gebou gevra.

Amptenare in Surfside, 'n die kusdorp naby Miami, het gesê hulle bly hoopvol dat soekgeselskappe oorlewendes in lugholtes in die puin sal ontdek.

Daniella Levine Cava, burgemeester van die distrik Miami-Dade, sê ses tot agt groepe het ononderbroke deur die gebreekte beton en metaaloorblyfsels van Champlain Towers South gesoek.

Die soekgeselskap – insluitend kundiges wat deur Israel en Mexiko gestuur is – gebruik honde, hommeltuie en infrarooi skandeerders.

Sommige gesinne van die vermiste persone het DNS-monsters aan amptenare verskaf. Die polisie het die name bekend gemaak van vier slagoffers wat tussen 54 en 83 jaar oud was.

Foto's van die vermiste is saam met blomme en boodskappe op 'n nabygeleë heining geplaas. Familielede het Saterdag gebid by 'n versperring wat die owerhede 'n paar honderd meter noord van die woonstelgebou aangebring het.

'n Inspekteur het geen onmiddellike probleme met die ander gebou gevind nie. “Ek weet nogtans nie of ek gemaklik sal wees om in die gebou te bly totdat 'n omvattende ondersoek voltooi is nie,” het Charles Burkett, burgemeester van Surfside, gesê.

Amptenare het Saterdag gesê Miami-Dade sal binne die volgende 30 dae alle geboue wat ouer as 40 jaar is, oudit om hul veiligheid te verseker.

Surfside-amptenare het dokumente, insluitend 'n ingenieursverslag van 2018, uitgereik wat groot strukturele skade onder die swembaddek en “agteruitgang van die konkreet” in die ondergrondse parkering van die 12- verdieping-woonstel gevind het.

Die verslag is opgestel vir die Champlain Towers South-woonstelraad ter voorbereiding van 'n groot herstelprojek wat vir vanjaar voorberei is.

– Nampa/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!