Michelle McLean vs Danie Botes weer in hof
Michelle McLean vs Danie Botes weer in hof

Michelle McLean vs Danie Botes weer in hof

Die regsgeding tussen die voormalige direkteur van die Michelle McLean Kindertrust en die trustees het gister in die hoërhof in Windhoek hervat.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die hofsaak waarin die voormalige direkteur van die Michelle McLean Kindertrust (MMCT), mnr. Danie Botes, die trustees - Michelle McLean, me. Conny Maritz en mnr. Nic Kruger - dagvaar en Botes op sy beurt deur die trustees gedagvaar word, het gisteroggend tot stilstand geruk nog voor dit begin het.

Die regspan wat namens Botes optree, het die hof om uitstel gevra en die regter het nie die dokumente betyds ontvang om dit te bestudeer nie. Gevolglik het die verrigtinge eers na 14:00 gister op dreef gekom, sonder die leidende senior advokaat, Cassie Badenhorst van Suid-Afrika. Adv. Deon Obbes het vir hom ingestaan.

Obbes wil die hof versoek om die saak uit te stel omdat die respondente (die trustees van MMCT) volgens hom nie voldoen het aan die reël om inligting binne ''n sekere tyd bloot te lê nie. “Toepaslike dokumente is versoek, sommige is ontvang, ander is laat ontvang en ander is glad nie ontvang nie,” het hy gesê.

Hy het ook die verduideliking bevraagteken dat sekere dokumente in die besit van die trust is en in stoorkamers behoort te wees, en gesê die trust is nie ''n regspersoon nie. Hy sê dit wil voorkom asof daar weerstand is om die dokumente aan die klaer te oorhandig.

“Die omvang is nie enkele blaaie nie, maar honderde bladsye en aangesien daar nie volledige nakoming was nie, was daar onvoldoende tyd om voor te berei,” het Obbes aangevoer. Gevolglik is verlede week Dinsdag besluit om eerder vir uitstel te vra.

Van die dokumente is eers gisteroggend net voor die aanvang van die hofverriginge aan die klaer se regsverteenwoordiger oorhandig.

In antwoord op ''n vraag van regter Thomas Masuku oor die respondente se standpunt dat die klaers ses maande laat verloop het voordat hulle die bykomende dokumente vir blootlegging aangevra het, het hy gesê dit het ''n geruime tyd geneem om ooreenstemming oor sekere sake te kry en dat die respondente meer as ''n maand gelede reeds bewus was van die versoeke vir blootlegging.

Senior advokaat Jean Marais, namens die respondente, het gesê blootlegging is byna soos probleme met bouwerk. Daar is altyd iets om oor te kla.

“Die vraag is: Hoekom kan ons nie net aangaan nie? Die klaer het geen aanduiding gegee van hoeveel tyd hulle nodig sal hê om deur die dokumente te werk nie,” het hy gesê.

Voorts staan hy die aansoek vir uitstel teen omdat die dokumente waarna die klaer soek grootliks nie relevant is nie.

“Die dilemma is deur hulself veroorsaak. Dit is reeds jare sedert die kwessie begin het. Ons het vroeër vanjaar gesit en nou weer twee weke op die hofrol gekry. Hulle het ter elfder ure op 24 Oktober die versoek vir verdere blootlegging ingedien. Die respondente is 15 dae gegun om te reageer wat dit tot 14 of 15 November sou geneem word. Die aansoek vir uitstel is die volgende dag gebring,” het Marais gesê.

Hy het daarop aangedring dat koste vir die uitstel, indien dit toegestaan word, vir die rekening van die klaer is.

Die relevansie van die dokumente wat gevra is ook ''n bydraende faktor vir hoekom uitstel nie verleen moet word nie omdat dit volgens hom nie duidelik is tot hoe ''n mate die dokumente van toepassing op die feite van die saak is nie.

Die klaer vra ook dokumente aan oor gebeure wat plaasgevind het, lank nadat Botes se bande met die MMCT verbreek is. “Nou wil hy ‘n forensiese oudit hê van transaksies wat plaasgevind het nadat hy die dienste van die trust verlaat het.”

Marais sê ''n trust is nie dieselfde as ''n maatskappy wat ''n toegewyde finansiële departement het wat die dokumente op kort kennisgewing kon voorsien nie. “Die benadering van die klaer was verkeerd. Die regte rede is omdat die klaers vir ses maande niks gedoen het nie,” het Marais gesê.

Adv. Essi Schimming-Chase het in haar betoog die beginsels vir blootlegging uiteengesit en gesê die klaer het nie minder nie as vier keer voor die hofverriginge in Maart vanjaar begin het vir blootlegging van dokumente gevra. Dit was ook nie vir ''n paar dokumente nie, maar vir onvattende volumes dokumente.

Sy sê baie van die dokumente wat aanvra is, is vroeër ook aangevra.

Die jongste versoek vir blootlegging is deur haar as “‘n massiewe generiese versoek” bestempel. Oor die laat oorhandiging van sekere dokumente gisteroggend het Schimming-Chase gesê die toepaslike dele in die dokumente is met merkers aangedui, wat die klaers in staat sou stel om dit binne ''n uur daar deur te werk.

Sy sê die respondente het van die begin af oop kaarte gespeel en voldoen aan al die vorige versoeke vir blootlegging sonder om enige iets terug te hou. Inderdaad, toe die laat versoek vir blootlegging van verdere dokumente ontvang is, is onmiddellik werk gemaak daarvan en tot die mate waarin hulle kon, aan die versoek te voldoen.

Sy sê sy kry nie indruk dat die klaer nie gereed is of die verhoor nie nou wil laat voortgaan nie.

In die eerste deel van die verhoor vroeër vanjaar is bondels vuil wasgoed in die openbaar gewas met oor en weer beskuldigings van selfverryking en ongeoorloofde onttrekkings van trustgelde.

Die trustees, McLean, Maritz en Kruger, dagvaar Botes vir ‘n bedrag van N$7,7 miljoen terwyl Botes op sy beurt N$14 miljoen van hulle eis. N$12 miljoen hiervan is vir die skade wat hy gely het toe sy diens by die trust in September 2013 beëindig is. Hy eis ‘n verdere N$2 miljoen se pensioengeld wat hy beweer die trust versuim het om in sy pensioenfonds in te betaal.

Die trustees voer op hulle beurt aan dat Botes homself ten bedrae van N$6,7 wederregtelik verryk het deur geld wat hom nie toegekom het nie, aan die trust te onttrek. ‘n Verdere N$1 miljoen word geëis vir die mislukte Lawsure-transaksie.

Regter Masuku sal vandag om 11:00 sê of die saak uitgestel word, al dan nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!