Mieliedriehoek: Sopnat toestande vertraag plantery
Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) sê gewasverbouiing het tydens die tweede kwartaal van 2020 met ‘n enorme 296,7% gegroei.
Elvira Hattingh – Terwyl boere in die sentraal- noordelike streke nog nie gewasse kon plant nie omdat dit nog te min gereën het, bedreig té nat toestande mielieplantery in die Mieliedriehoek.
Mnr. Gernot Eggert, voorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging (APV), het verlede week (Maandag 25 Januarie) gesê boere in die Mieliedriehoek is ontsettend dankbaar vir die reën, maar dat hulle nou die laaste week binnegaan voor mielies se planttyd verstryk.
Die lande is tans te nat vir ploeg- en plantwerk en die boere hoop desperaat op ‘n paar dae se sonskyn.
Hy sê vanaf 28 Desember het dit redelik aanhoudend gereën, met talle boere wat in net dié paar weke tussen 350 mm en 500 mm reën ontvang het. Voor dit het die reënseisoen traag begin, met die meeste boere in die gebied wat slegs tussen 30 en 80 mm in totaal ontvang het.
Eggert meen indien die reën produsente nie die kans gun om binnekort in die lande in te kom nie, kan dit mielies se plant- en oessyfers raak. Hy sê boere sal dan oorweeg om eerder voergewasse, sonneblomme en akkerbone te plant.
“Alles is nie verlore as ons nie kan mielies plant nie, maar mielies bly eerste prys. Ons wil nou net uit die blokke kom,” het hy gesê.
Eggert sê dis moeilik om nou al te sê hoeveel hektaar se mielies daar in die Mieliedriehoek geplant sal word, maar met die goeie weervoorspellings het die meeste akkerbouers beoog om meer as gewoonlik te plant.
“Of dit gaan realiseer, hang af van of die boere betyds in die lande sal kan inkom. Die voornemens is egter daar,” het hy gesê.
Hy sê meer peste kom dikwels saam met meer reën. “Dit hang van die weerstoestande vorentoe af. Toestande is tans ideaal vir peste om uit te broei en ek dink ‘n mens moet van nou af maar gereed wees hiervoor. Die vraag is natuurlik hoe kom ‘n mens in jou lande as dit te nat is en jy pesbeheer moet toepas?”
SENTRALE NOORDE
Anders as in die Mieliedriehoek, vertraag die tekort aan reën die aanvang van die plantseisoen in die Sentrale Noorde, het mnr. Meekulu gwaNaka, ‘n kommunale boer by Oshigambo in die Oshikotostreek, aan Nampa gesê.
Volgens hom is dit nog te droog om enigiets te plant.
Gewasboere in die Oshanastreek sê ook weens ‘n gebrek aan reën kon hulle ook nog nie die grond vir plant begin voorberei nie.
Terwyl reënbulletins deur die Namibië Metereologiese Diens bevestig dat uitsonderlik min reen in Desember en die eerste twee weke van Januarie in veral die sentrale noordelike asook noordoostelike dele van die land ontvang is, meen die weerkantoor beter reënneerslae is vir dié gebiede in die vooruitsig.
EKONOMIESE BYDRAE
Die Namibiese Akkerbouraad (NAB) sê gewasverbouing het tydens die tweede kwartaal van 2020 met ‘n enorme 296,7% gegroei, waarteenoor dit in dieselfde tydperk in 2019 met 61% ingekrimp het.
Dit het daartoe bygedra dat die landbou- en bosboubedryf met 47,2% verstewig het, terwyl die verwoestende uitwerking van die Covid-19-pandemie die groter ekonomie se prestasie beduidend negatief geraak het.
Volgens die NAB is die Mieliedriehoek en sy omgewing van die land se sterkste witmielieproduserende gebiede – veral as dit by droëlandproduksie kom.
Gegrond op die NAB se plant- en oessyfers tussen 2016 en 2018, word hier jaarliks sowat 7 862 ha mielies onder droëlandtoestande geplant en 1 223 ha onder besproeiing, wat ‘n oes van sowat 43 697 ton lewer. Dit is meer as enige ander gebied in die land.
Droëlandmielies word dus hoofsaaklik tussen Tsumeb, Otavi en Grootfontein gekweek, maar ook in die Summerdown- en Hochfeld-omgewing en op ‘n kleiner skaal in die Zambezi- en Kavango-streke.
Droëlandproduksie is egter baie wisselvallig en afhanklik van goeie reëntoestande.
Daar is ook ‘n toename te bespeur in die hoeveelheid mielies wat onder besproeiing in die Mieliedriehoek en oostelike produksiegebiede van die land verbou word.
Hiernaas lewer besproeiingsprojekte in hoofsaaklik die Kavango- en Omusatistreek seisoenaal sowat 11 485 ton mielies, die sentrale en oostelike dele uit beide besproeiings- en droëlandprojekte sowat 7 000 ton mielies en die Hardapskema en Zambezistreek (besproeiing) sowat 6 000 ton ha onderskeidelik.
Nasionaal verbruik Nambië jaarliks sowat 90 000 ton witmielies. Met net tussen 55 000 tot 75 000 ton wat plaaslik produseer word, beteken dit die res moet ingevoer word.
Mahangu, wat die stapelvoedsel van tot 50% Namibiërs is, word tradisioneel in die Zambezi-, Kavango-Oos-, Kavango-Wes-, Ohangwena-, Omusati-, Oshana-, Oshikotostreek, en ook plek-plek in die Otjozondjupastreek soos in die Tsumkwe-gebied gekweek. Plaaslik is sowat 1 979 ton hiervan in die 2018 – ’19 seisoen bemark.
Namibië het in bogenoemde jaar ook sowat 7 508 ton koring bemark.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie