Mieliedriehoek: Tot 160 mm gemeet

Oor die afgelope naweek het sommige reënmeters in die Mieliedriehoek oorgeloop, met talle wat digby 100 mm of méér reën gemeet het.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Nadat die Mieliedriehoek se reënseisoen aanvanklik traag begin het, moes akkerbouers die afgelope naweek bontstaan, met een akkerbouer wat tussen Sondagen Maandagmiddag altesaam sowat 160 mm reën ontvang het.
Mnr. Emil Jung, wat op die plaas Johannestal in Grootfontein se vallei boer, sê hy het bykans verspoel.
Jung vertel hy het Sondagmiddag 38 mm reën uit sy reënmeter gegooi, maar teen Maandagoggend het sy reënmeter oorgeloop.
“Ek het toe maar opgeskryf dat ek 138 mm reën gehad het, maar ek het nou net wéér 20 mm reën uit die reënmeter gegooi,” het hy gistermiddag aan Republikein vertel.
Hy het die afgelope Donderdag en Vrydag op beide dae ook 4 mm reën gehad.
SWAAR NEERSLAE
“Dis ’n klomp water; my pad het weggespoel. Ek het amper gedink ’n dam het gebreek,” het hy gesê.
Hy sê die grootste spoelskade op sy mielielande het voorgekom by die paaie in die land waar hy met die trekker ry. Hy spot dat die kunsmis en onkruiddoders wat hy die afgelope Donderdag en Vrydag op sy lande toegedien het, nou op die buurplase lê.
Die res van die vallei het ook groot hoeveelhede reën aangeteken. Van Jung se bure het Maandagoggend tussen 85 en 90 mm reën gehad.
Me. Claudia Dohmen, ook ’n boer in die omgewing, het Maandagoggend 90 mm se reën gemeet, met mnr. Klaas Malan van die plaas Venus wat 87 mm aangeteken het.
Net suid van Grootfontein het talle plase heelwat minder reën ontvang, maar sommiges het steeds buie van sowat 30 mm aangeteken.
Dit volg nadat die plantseisoen van die akkerbouers in die Mieliedriehoek traag begin het, met ’n baie droë November- en Desembermaand wat op reënneerslae in Oktober gevolg het. Dohmen het verlede week aan Republikein vertel die seisoen tot dusver was nie maklik nie en sy moes reeds van nuuts af mielies plant.
Intussen het akkerbouers verlede week inderhaas nog grond voorberei ten einde mielies voor 27 Januarie te plant, wat wyd as die afsnydatum vir die plant van mielies in die Mieliedriehoek beskou word.
Op die Facebook-groep Reën in Namibia het Dries Strauss laat weet dit het 100 mm by Kombat gereën en Jana Potgieter het ook 100 mm in die Otavi-vallei gemeet. Op nog ’n plaas in die Mieliedriehoek naby Tsumeb is 53 mm reën aangemeld.
Volgens die weerkantoor se amptelike reënsyfers is 73 mm Maandagoggend op Otavi gemeet, gevolg deur Nkurenkuru waar 63,8 mm gemeet is. Okahandja het 57,7 mm ontvang terwyl Grootfontein self en die Etosha Nasionale Park se Namutoniruskamp beide sowat 39 mm reën gehad het.
By beide Waterberg en Katima Mulilo het dit 36 mm gereën, terwyl Okapya ook 34 mm ontvang het. Gobabis het 28 mm reën gehad, Rundu-lughawe 27 mm, Otjiwarongo 16,8 mm en Outjo 12,4 mm.
VOORUITSIGTE
Weerkenners waarsku dat “eks-Ana”, die nadraai van die tropiese sikloon uit die Mosambiekkanaal wat intussen tot ’n tropiese depressie verswak het, Februariemaand met nog reën vir die Suide sal binnelei.
Die Namibiese weerkantoor het ’n weerwaak vir vandag vir swaar reën in die ooste en suidelike streke uitgereik, terwyl dit glo gedeeltelik bewolk en baie warm in die noordweste en weste van die land sal wees.
“Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie warm wees met enkele tot geïsoleerde donderbuie, maar wydverspreide donderbuie in die Omaheke-, Hardap- en ||Kharasstreek,” is voorspel.
[email protected]

FOTO’s
Die akkerbouer mnr. Emil Jung tussen sy mielies verlede Woensdag, kort vóór die groot reën. FOTO ELVIRA HATTINGH
Die akkerbouer mnr. Emil Jung sê hy het meer as 160 mm reën Sondag- en Maandagmiddag gehad. FOTO’S EMIL JUNG

Kommentaar

Republikein 2025-01-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 18° | 23° Oshakati: 21° | 24° Ruacana: 21° | 26° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 15° | 25° Omaruru: 18° | 28° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 17° | 21° Rehoboth: 19° | 29° Mariental: 22° | 31° Keetmanshoop: 25° | 36° Aranos: 23° | 33° Lüderitz: 17° | 24° Ariamsvlei: 28° | 39° Oranjemund: 16° | 24° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 31° Lubumbashi: 17° | 22° Mbabane: 18° | 30° Maseru: 19° | 32° Antananarivo: 15° | 30° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 35° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 30° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 18° | 24° Harare: 17° | 24° #REF! #REF!